East Lynne-inwoners keelvol sonder krag
Woedende inwoners het paaie in East Lynne Sondagmiddag versper uit protes teen tien dae sonder krag. Vandalisme en 'n brand by Koedoespoort-substasie het gemeenskappe en besighede swaar getref. Die metro is onder druk om herstelwerk te versnel ná tien dae se frustrasie.
Die verkeer aan die East Lynne-kant het Sondagmiddag tot stilstand gekom by die Baviaanspoortweg-verkeerslig.
Meer as 20 voertuie en ongeveer 50 optoggangers het die ingang na East Lynne van die Stormvoëltolhek versper uit protes teen kragonderbrekings wat al sedert 26 Desember in die buurt heers.
Inwoners Corné en Edward van der Westhuizen het deel uitgemaak van die skare wat die menslike en voertuig-ketting van versperring gevorm het.
“Dit kos sommige besighede nou al vir tien dae daagliks R10 000 tot R15 000 se diesel vir hul kragopwekkers. Ons is keelvol om sonder krag te wees. Ons moes al ons kos weggooi en geld uithaal vir ’n solar lig. Dit is geld wat vir skoolgeld moes gegaan het,” verduidelik Corné.
DA-raadslede Frans Smith, Novena Pillay en Adriana Randall, het met die protesgangers gesels om die onrus te ontlont.
Smith sê dat daar begrip is vir die gemeenskap se ontsteltenis, maar dat daar reeds agt dae lank voltyds deur die metro aan die probleem gewerk word.
“Die inwoners moet verstaan dit was werklik ’n erge brand by die kragstasie wat die infrastruktuur daarbinne sodanig beskadig het, dat dit werklik talle dae na die brand geneem het om als reg te stel asook om dit te toets,” verduidelik Smith.

Die protesgangers is so teen 17:00 deur die burgemeesterskomiteelid vir Veiligheid, Hannes Coetzee, ingelig oor stappe vorentoe.
“Ek kan geen beloftes maak nie. Maar ek kan die inwoners verseker ek sal nou dadelik werk daarvan maak om met die nodige owerhede te skakel en uitvind watter substasies of stroombrekers nog stukkend is, waar kabels gesteel is en wanneer al die huise en strate in East Lynne en omliggende buurte weer krag sal hê,” sê Coetzee.
Die polisie het deurgaans gereed gestaan om die optog te laat verdaag. Kort na Coetzee se toespraak het die protesgangers huiswaarts gekeer en is die strate weer oopgestel.
Die metro het na die brand gesê ’n tegniese assessering by die Koedoespoort-substasie het bevestig dat die omvang van die brandskade veel ernstiger is as wat aanvanklik beraam is. Die brand, wat op 26 Desember uitgebreek het, het ’n gedeelte van die elektriese infrastruktuur vernietig.
Volgens ’n verklaring deur die metro het die skade aan kritieke substasie-toerusting só ernstig geblyk dat die onmiddellike herstel van kragtoevoer nie moontlik was nie. Die stad moes daarom ’n gefaseerde herstelproses instel.
Op 2 Januarie het Mashigo bekend gemaak dat alle herstelwerk in die kragstasie voltooi is en 50% van die buurte in East Lynne en omstreke weer krag het.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel
