’n Erg verbrande lyk is vroegoggend op 6 Januarie deur lede van ’n polisiepatrollie in ’n plastiese drom in Daan de Wet Nel-rylaan naby aan Eerstelaan in Hestia Park ontdek.
Polisiewoordvoerder kaptein Johan van Dyk het aan Rekord bevestig dat die slagoffer onbekend is.
Geen inhegtenisnames is nog gemaak nie.
“Polisie-offisiere wat aan diens was tydens ’n patrollie van die omgewing, het ’n klagte ontvang van ’n ontbinde lyk in ’n drom in die area. Toe hulle by die toneel aangekom het, is hulle in die rigting van ’n swart halfverbrande plastiese drom gestuur. Daarbinne was ’n lyk wat tekens van ontbinding getoon het,” sê Van Dyk.
Hy het bevestig dat die geslag en ras van die lyk nog nie vasgestel kon word nie.
“Dit is ook onbekend hoe die oorledene vermoor is,” sê Van Dyk.
Omstanders en aankomende voertuie is deur ’n padblokkade naby die voorval gestop en gevra om ’n ander pad te ry na hul bestemming totdat die moordtoneel opgeklaar is en die provinsiale ambulans en polisievoertuie vertrek het.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel
