Local newsNews

Klein Milan Pretorius (6) sterf in sy pappa se arms aan bakteriële meningitis

Die nuus van Milan Pretorius (6) se dood aan bakteriële meningitis laat harte breek. Hy is in sy pappa se arms oorlede.

’n Graad 1-seun van Pretoria, Milan Pretorius (6), is Maandag in sy pa se arms oorlede aan bakteriële meningitis. Sy ma Bianca het Woensdag aan Rekord vertel klein Milan het Sondag gekla van hoofpyn en sy het toe gesien hy het koors.

“Ons al drie kry gewoonlik koors en hoofpyn veral van die hitte en Sondag was dit baie warm. Milan het gesê sy koppie is seer en hy het koors gehad. Ek het vir hom medisyne gegee en hy het bietjie gaan lê op die bank.”

Sy sê toe Milan later wakker word het hy gesê sy lyfie is seer maar hy het oudergewoonte gespeel. Later Sondagaand het Milan weer vir sy mamma gesê sy lyfie is baie seer en hy voel baie sleg. Bianca sê nadat hulle vir hom iets vir koors gegee het en hom in ‘n lou bad gesit het, het dit gelyk asof sy koors daal.

“Milan het op ons bed gelê, hy het begin opgooi. Ons het hom skoongemaak en hy het so gehuil want hy was bekommerd omdat ons bed nat was.”

Bianca en haar man, Luard, het toe met klein Milan na die Montana Hospitaal gejaag waar die gesin dadelik in isolasie geplaas is.

“Hulle het by die aankoms vir ons gesê dit is moontlik breinvliesontsteking oor die blou kolletjies wat op sy vel sigbaar was. Milan is opgeneem en verskeie bloedtoetse is gedoen.”

Die bloedtoetse het bevestig dit is meningokokke-breinvliesontsteking, ook bekend as bakteriële meningitis.

“Ons het steeds geen idee waar hy in aanraking was met enige iemand wat dit het nie. Die dokters het gesê hy kon dit selfs by ‘n vreemdeling in die winkels gekry het.”

Teen Maandagoggend is Milan per ambulans na die Mediclinic Medforum-hospitaal geneem vir ‘n beskikbare bed in die intensiewe sorgeenheid.

“Ek was saam met Milan in die ambulans en Luard het agter ons aangery. Milan het steeds koors gehad, maar net sy koppie en bors was warm, die res van sy lyfie was yskoud.”

Bianca sê Milan het met tye bygekom maar dit was asof hy nie geweet het wat om hom aangaan nie.

“By die hospitaal het die dokters  hom dadelik op suurstof gesit. Die blou kolletjies het al oor sy lyfie begin versprei. Ongeveer 40 minute na aankoms het Milan sy laaste asem uitgeblaas. Hy was in sy pappa se arms,” het ‘n huilende Bianca gesê.

Milan is Bianca en Luard se enigste kind.

Klein Milan Pretorius (6) sterf in sy pappa se arms aan bakteriële meningitis
Klein Milan Pretorius saam met sy ouers, Luard en Bianca. Foto: Verskaf

“Milan was die liefdevolste, vriendelikste seuntjie wat altyd wou help en baie lief was vir kos maak, kamp en saam met pappa visvang.”

Sy sê hy was ‘n seuntjie wat baie lief was vir Monster Trucks. “Ons was juis Saterdag besig om vir hom ‘n lekker baan vir sy remote control RC Crawler te bou.”

Klein Milan Pretorius (6) sterf in sy pappa se arms aan bakteriële meningitis
Klein Milan Pretorius (6) Foto: Facebook

‘n Emosionele Bianca sê dit voel alles nog baie onwerklik vir hulle. “Dit voel asof ons hom nou nou by die skool moet gaan haal.”

Milan se begrafnis word voorlopige beplan vir Dinsdag 13:00 vanuit die Simplicity Lokaal, Plot 28 Reier Kameeldrif, Roodeplaat.

Laerskool Die Poort se woordvoerder, Nic Arnold, het Woensdag aan Rekord bevestig dat beraders gereël is vir Milan se maatjies, asook vir personeellede.

“Ons hou Vrydag ’n gedenkdiens vir Milan by die skool,” het Arnold gesê.

Arnold, stigter en eienaar van Aquila Fortis Consulting, het bygevoeg dat die Departement van Gesondheid besig is om reëlings te tref om inentings by die skool te doen.

Hy het verder gesê Milan is die enigste leerder by die skool wat met meningitis gediagnoseer is.

“Ons het ouers gevra om waaksaam te wees en enige soortgelyke simptome onmiddellik te rapporteer.”

Rekord het navrae aan die Departement van Onderwys gestuur, maar teen Woensdagmiddag was daar nog geen reaksie nie.

Lees ook: Graad 1-leerder Milan Pretorius sterf aan meningitis

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Corné van Zyl

Corné van Zyl is a seasoned journalist and currently a senior reporter at Rekord, with a wealth of experience across various media platforms. She began her career after studying journalism at the Tshwane University of Technology (TUT) and first honed her skills at Media24. Corné’s career took her to Beeld, Sondag newspaper, and the South African Press Association (SAPA), where she built a strong foundation in news reporting. In her free time, Corné enjoys spending time with her family outdoors, embracing life and creating lasting memories with her loved ones.
Back to top button