Nostalgie en gemeenskapsgees skitter by Hoeka Toeka Feesdag
“Dit was hartverblydend om te sien hoe die verskillende generasies ontmoet: van die oupa op die klassieke motorfiets tot die kleinkind met ’n pannekoek in die hand.” - Residentia Hermon bestuurder Lize Strauss
Die enjins het gebrul en die aroma van vars vetkoek was in die lug die afgelope Saterdag by Residentia Hermon se hoogs- verwagte Hoeka Toeka Feesdag.
Volgens die bestuurder by Residention Hermon, Lize Strauss, was die geleentheid ’n dawerende sukses wat gesinne van regoor die streek gelok het vir ’n dag van ‘old-school’ pret en gemeenskapsgees.

Vir die inwoners van Residentia Hermon was dit ’n besonderse dag van samesyn.
“Dit was hartverblydend om te sien hoe die verskillende generasies ontmoet: van die oupa op die klassieke motorfiets tot die kleinkind met ’n pannekoek in die hand. Die inwoners het duidelik die vrolike atmosfeer en die kuier saam met die besoekers geniet, wat ’n huppel in die stap en baie glimlagte na die tehuis gebring het.”
Carla van Broekhuizen en Nihan Maniraj

Die dag het egter oor meer as net pret gegaan; dit was ’n deurslaggewende fondsinsamelingsgeleentheid. Die opbrengs van die dag word aangewend vir die voortgesette sorg en welsyn van die inwoners, wat verseker dat hulle die beste moontlike lewensgehalte en ondersteuning geniet.


Hierby ingesluit was die Residentia Shavathon ten bate van Kansa, waar dapper deelnemers hul hare laat skenk, skeer en kleur het om ’n verskil te maak.
Getrou aan die belofte van ‘kos soos jou ouma dit nog gemaak het’ was die stalletjies deurentyd besig om gunstelinge soos vetkoek, gemmerbier en kaas-en-wyn bordjies voor te sit.

Terwyl die plaaslike sangers gesorg het vir musiek van toeka tot nou, was dit duidelik dat die gemeenskap se hart net so groot is as hul liefde vir nostalgie.
Vir enige navrae of om betrokke te raak, skakel die kantoor by 012 546 6688 of stuur ’n e-pos na hermon@residentia.co.za.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel
