News

Botsings nadat beweerde korrupsieverslag nie voorgelê is in raad nie

Die ANC sê die rede hoekm die verslag nie voorgelê is nie, is omdat dit nog onvolledig is. Die DA bevraagteken hoekom ’n raadsvergadering byeengeroep is sonder die nodige dokumente en sê hulle glo daar is ander redes wat agter dit steek.

’n Spesiale Tshwane-raadsvergadering wat deur die ANC-geleide koalisie op 5 Maart byeengeroep is, het skielik geëindig sonder dat enige sake gedoen is nadat die verslag waaroor raadslede moes beraadslaag nie ter tafel gelê is nie.

Die vergadering is byeengeroep om die beskuldigings te oorweeg wat deur die ANC teen die stad se finansiële hoof, Gareth Mnisi, gemaak is.

Maar met geen verslag wat voorgelê is nie, is die vergadering egter verdaag, wat beide die beskuldigings en die politieke spanning rondom dit onopgelos laat.

Die DA bevraagteken sedertdien hoekom die vergadering gehou is sonder die nodige dokumentasie en het kommer uitgespreek dat die skuif teen die finansiële hoof polities-gemotiveerd kan wees.

Cilliers Brink, die leier van Tshwane DA-koukus, sê raadslede het opgedaag met die verwagting om ’n verslag te debatteer, maar is met geen inligting gelaat.

“Geen sodanige verslag het eintlik na die spesiale raadsvergadering gekom nie en geen sake is gedoen nie,” sê Brink.

“Die doel van die vergadering was om ’n verslag te oorweeg wat bewerings van die ANC bevat. Ons sal graag die verslag onder oë wil kry, en indien dit ’n ondersoek regverdig, dan moet so ’n ondersoek volg.”

Brink sê die DA het rede om te glo dat die poging om teen die finansiële hoof op te tree nie gedryf is deur redes wat in die openbaar gestel is nie.

Die ANC het in ’n perskonferensie in Februarie vir die onmiddellike skorsing van Mnisi aangevra, en beskuldig hom van wanadministrasie en onbevoegdheid.

“Ons het redes om te glo dat daar ander motiewe as dié wat in die openbaar genoem is, kan wees,” sê Brink.

Volgens Brink was die ANC nie geïnteresseerd in ander ernstige kwessies rakende munisipale verkryging nie.

“Die ANC blyk glad nie begeesterd te wees deur die feit dat sy eie burgemeesterskomiteelid vir Finansies tans voordeel trek uit ’n onbekende kontrak met die stad vir veiligheidsdienste nie,” sê hy.

Die DA beweer dat daar ten minste twee gevalle is waar die finansiële hoof tenders gekanselleer het wat mense kon bevoordeel het wat aan dieselfde politieke leierskap gekoppel is wat nou bewerings teen hom opper.

Een van hierdie gevalle betrek ’n veiligheidsdienste-tender wat teen die einde van 2025 gekanselleer is, nadat wat Brink beskryf het as “wesenlike onreëmatighede in die verkrygingsproses ontdek is”.

“Sou daardie tender toegeken gewees het, sou ’n bieër met bande met die adjunkburgemeester, Eugene Modise, daarby baatgevind het. Die maatskappy se naam is Bathlokomedi Management,” sê Brink.

Die DA het reeds kriminele klagtes teen Modise gelê, en beskuldig hom daarvan dat hy die begunstigde eienaar is van Triotic Protection Services, ’n ander maatskappy wat veiligheidsdienste aan die metro verskaf.

Brink sê hierdie kwessies moet die fokus van oorsig wees eerder as wat hy beskryf as “polities-gemotiveerde aanvalle op amptenare”.

“Alle onreëlmagtige uitgawes moet deur die raad en die finansiële hoof ondersoek word. Omdat ’n wetsontwerp hoog op die agenda is, gaan jy nie agter die persoon aan nie. Jy gaan na die spesifieke gevalle van onreëlmatige of onwettige uitgawes en indien hy betrokke is, dan ondersoek jy hom,” sê Brink.

Hy waarsku dat die gebruik van raadsprosesse om amptenare te teiken pogings om korrupsie te voorkom, kan ondermyn.

“Ons het sterk redes om te glo dat daar ’n poging is om teen amptenare op te tree wat twyfelagtige tenders geblokkeer het,” sê hy.

Brink voeg by dat die DA die SAPD sal nader om ’n bestaande bedrog en korrupsiesaak rakende Triotic Protection Services uit te brei deur moontlike bande tussen Gofa-ONe Business Enteprises en Bathlokomedi Management te ondersoek.

Die party beoog ook om ’n forensiese ondersoek deur die Spesiale Ondersoekeenheid oor die stad se verkryging van watertenkwaens aan te vra, wat volgens hulle, dramaties toegeneem het.

Volgens die DA het uitgawes rakende watertenkwaens in die metro gestyg tot omtrent R777-miljoen tydens die 2024/25 finansiële jaar, wat ’n 455%-verhoging verteenwoordig.

Die ANC in Tshwane verwerp die DA se beskuldigings, en sê die verslag is nie voorgelê nie omdat dit nog nie afgehandel is nie.

ANC Groter Tshwane-woordvoerder, Joel Masilela, sê die party wou nie onvolledige bevindings aan raadslede of inwoners voorlê nie.

Hy sê die party bly oortuig daarvan dat die ondersoek ernstige kommer oor senior amptenare in die stadadministrasie aan die lig gebring het.

“Ons is seker dat daar ’n hele aantal gevalle van wangedrag van ’n hele aantal amptenare is,” sê hy.

Masilela het die DA se eise oor politieke motivering as ongegrond verwerp.

“Die beskuldiging van die DA het geen wesenlike bewyse nie. Dit is ’n versinsel van hul eie verbeelding want hierdie amptenare is tydens hul ampstermyn in die metro aangestel,” sê hy.

Hy verdedig die ANC se hantering van watertenkwaensdienste en beskuldig die vorige administrasies daarvan dat hulle versuim het om waterinfrastruktuur in informele nedersettings te voorsien.

“Voor 2016 het ons nooit sulke getalle gehad nie, want die ANC het probeer om informele nedersettings te formaliseer deur aan hulle skoon, lopende water te voorsien,” sê hy.

Masilela sê die huidige koalisieregering het reeds begin om afhanklikheid van watertenkwaens te verminder.

Hy sê die ANC sal die volledige verslag aan die raad voorlê sodra alle bevindinge saamgestel is.

Masilela sê die party hoop die verslag sal voor die einde van hierdie maand ter tafel gelê word.

Hy het die inbring van private forensiese ouditfirmas in hiedie stadium van die proses uitgesluit.

Hy sê die ANC sal eerder op wetstoepassingsagentskappe en raadsoorsigstrukture staatmaak sodra die verslag gefinaliseer is.

Modise verwerp die DA se bewerings teen hom en sê hy het geen huidige betrokkenheid in die maatskappye wat genoem is nie.

Hy het aan Rekord gesê dat hy lank gelede uit hierdie maatskappye bedank het en sy belange behoorlik verklaar het.

Hy betwis verder bewerings dat hy bande met Bathlokomedi Management het en verwerp ook beskuldigings dat hy die begunstigde eienaar van Triotic Protections Services is. Volgens hom, is die saak reeds deur ’n amptelike ondersoek nagespeur.

Hy voeg by dat alle beskuldigings vorm deel van wat hy beskryf as ’n polities-gemotiveerde veldtog teen hom.

Modise sê hy het sedertdien ’n polisiekantoor besoek oor die klagte van die DA teen hom en glo wetstoepassingsowerhede erken die saak as polities-gemotiveerd.

“Ten minste hierdie keer erken die wetstoepassingsowerhede dat dit ’n politieke foefie en ’n onsensitiewe, desperate veldtog is,” sê hy.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: RekordBesoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button