Klassieke jazz trio vier twee dekades met nuwe album
Die groep kyk terug op 20 jaar saam. Hulle is bekend vir hul unieke mengsel van klassieke musiek en jazz.
Die Charl du Plessis Trio vier vanjaar hul 20ste bestaansjaar met ’n nuwe CD en spesiale konserte wat terugkyk op twee dekades se musikale samewerking.
Die groep is internasionaal bekend vir hul unieke mengsel van klassieke musiek en jazz.
Die groep, bestaande uit pianis Charl du Plessis van Colbyn, Werner Spies van Muckleneuk en Peter Auret van Linden, Johannesburg, het ’n unieke klank ontwikkel waarin klassieke musiek en jazz op kreatiewe wyse saamvloei.
Die trio is in 2006 gestig met die doel om crossover-musiek te bevorder, ’n styl waarin grense tussen genres oorgesteek word en bekende klassieke werke ’n nuwe lewe kry deur improvisasie en jazz-invloede.
Wat as ’n musikale eksperiment begin het, het mettertyd ontwikkel tot ’n internasionaal-erkende ensemble wat gereeld in Europa, Asië en Suider-Afrika toer.

Du Plessis sê die groep se pad het met verloop van tyd op ’n natuurlike manier vorm aangeneem.
“Wat lekker was, is dat ons nie ’n spesifieke idee gehad het van presies watter musiek of style ons wou speel nie. Dit het mettertyd organies ontwikkel soos ons agtergekom het waarvan gehore hou, wat ons pas en wat vir ons interessant was om musikaal te probeer,” sê hy.
Volgens hom was een van sy grootste verrassings oor die afgelope 20 jaar sy eie vermoë om musiek te herverwerk en te improviseer.
“Ek het gedink as ’n klassiek-opgeleide pianis sou ek hoofsaaklik musiek speel soos klassieke musici doen. Maar toe ek dit kon regkry om my eie vertolking daaraan te gee, was dit ’n groot vreugde. Dit het uiteindelik ’n groot deel van my musikale identiteit geword.”
Die trio se programme bestaan uit ’n mengsel van instrumentale gunstelinge, werke deur klassieke komponiste en oorspronklike komposisies deur Du Plessis.
Hul vertolkings is bekend vir hul virtuose improvisasie en die noue samewerking tussen die drie musikante.
Vir Du Plessis lê ’n deel van die inspirasie vir hierdie styl in sy eie jeug.
“My ouers was nie musikaal nie, en hulle siening van klassieke musiek was dat dit swaar en ernstig is. Dit het my laat besef dat nie almal van sulke ernstige musiek hou nie. Daarom moet ’n mens altyd iets op die spyskaart hê waarby almal aanklank vind.”
Hy sê dié besef het hom gemotiveer om genres te meng en programme saam te stel wat uiteenlopende gehore kan bereik.
’n Belangrike keerpunt vir die trio het in hul aanvangsjare gekom toe hulle ’n uitnodiging ontvang het om in Switserland op te tree.
“Ons is gevra om ’n volledige program van crossover-barokmusiek te speel. Die organiseerders het gesê: ‘Bring vir ons ’n program van Bach, maar dit moet soos jazz klink en nie soos mense Bach gewoonlik ervaar nie’.”
Hy onthou hoe hierdie uitdaging die groep gedwing het om musiek op ’n nuwe manier te benader.
“Ons moes diep delf en dink hoe ons hierdie musiek kan vernuwe en iets spesiaals daarmee kan doen wat nog nie voorheen gedoen is nie. Toe ons dit regkry, het ek besef ons het hier ’n aar raakgeboor.”
Oor die jare het die groep talle albums en DVD’s opgeneem en ’n internasionale opnamekontrak met ’n Switserse etiket verkry.
Hul opnames het verskeie toekennings ontvang, onder meer vier Suid-Afrikaanse Musiektoekennings.
Al toer hulle wêreldwyd, bly Pretoria vir Du Plessis ’n belangrike tuiste.
“Dis vir my lekker om in Pretoria te woon omdat die gehore my loopbaan en ons optredes ongelooflik lojaal ondersteun,” sê hy.
Hy noem veral die Fairtree Atterbury-teater as ’n plek waar hy graag optree.
“Ek speel baie graag daar vanweë my geskiedenis met die ruimte. Die klavier op die verhoog is een wat ek self in Duitsland by die Steinway-fabriek in Hamburg gaan kies het. Daar is ook soveel opnames wat ek daar gemaak het.”
Volgens hom het dié teater ook ’n besondere rol gespeel tydens die pandemie.
Du Plessis is internasionaal bekend vir sy interpretasies van Johann Sebastian Bach, ’n komponis wie se werk dikwels in die trio se programme voorkom.
“Bach is vir my uniek omdat sy musiek onuitputbaar is. Dit is ongelooflik slim geskryf, maar terselfdertyd baie mooi. Iemand wat niks van Bach weet nie, kan daarna luister en waarde daarin vind, en iemand wat ’n kenner is, bly verstom oor hoe hy hierdie musiek kon komponeer.”
Die sukses van ’n internasionale loopbaan bring egter ook baie praktiese uitdagings mee. Du Plessis sê hy het vroeg besef dat ’n musikant dikwels self geleenthede moet skep.

.
Mettertyd het hierdie ondernemende benadering uitgebrei.
“Tydens Covid het ek selfs die geleentheid gebruik om opleiding as klaviertegnikus te voltooi. Nou kan ek my eie klavier vervoer en voorberei waar ek ook al speel. Die idee van selfversorgend wees het net al hoe belangriker geword.”
Hy beklemtoon ’n wenk wat hy vroeg in sy loopbaan ontvang het, wat hom baie gehelp het.
“’n Joernalis het een keer vir my gesê: ‘Moenie verander om mense te probeer tevrede stel nie, want smake verander. Doen wat jy doen op jou manier en die musiekliefhebbers sal jou ondersteun’.”
Wanneer hy terugkyk op sy jonger self, sê hy daar is een stukkie raad wat hy graag vroeër sou wou toepas.
“Ek sou vir myself sê: waag meer. Aan die begin was ek soms bang om opnames te maak of iets nuuts te probeer, omdat mens jouself met groot internasionale sterre vergelyk.”
Met tyd het sy perspektief verander.
“Ek het besef elke mens maak ’n bydrae. Nie almal gaan wêreldberoemd wees nie, maar baie mense bou steeds ’n suksesvolle loopbaan en ’n betekenisvolle lewe. Dis wat uiteindelik belangrik is.”
– Die konserte word op 21 (om 19:00) en 22 Maart (om 15:00) aangebied by die Fairtree Atterbury Teater by Lynnwoodbridge-sentrum in Pretoria-oos. Bespreek by: https://www.seatme.co.za/tc-events/charl-du-plessis-trio-20-years-2-2/
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel
