News

Uitspraak voorbehou oor Melgisedek-hervestigingstryd

Die burgerregte-organisasie AfriForum se hofsaak om ’n hofbevel te kry om hervestiging van Melgisedek se inwoners in Gezina te verhoed, word nou as ’n belangrike toets beskou van hoe stedelike hervestiging, openbare veiligheid en gemeenskapsbelange gebalanseer moet word. Alle oë is op Donderdag, 19 Maart se finale hofuitspraak gerig.

Die Hooggeregshof in Pretoria het op 18 Maart uitspraak voorbehou in ’n dringende aansoek deur burgerregte-organisasie AfriForum om die hervestiging van honderde inwoners van die Melgisedek-gebou te stop.

Die hof het die metro ook beveel om nie met die verskuiwing voort te gaan totdat die saak Donderdag voortduur nie.

Die aansoek volg nadat die hof vroeër vandeesmaand ’n uitsettingsbevel toegestaan het weens die vervalle en gevaarlike toestand van die Melgisedek-gebou naby die Steve Biko Akademiese Hospitaal.

Die metro het daarna planne aangekondig om ongeveer 450 inwoners na ’n tentkamp by ’n terrein op die hoek van Johan Heynsweg en Nico Smithstraat in Gezina te verskuif.

 

Inwoners van die Melgisedek-gebou was steeds op die terrein op 17 Maart terwyl hulle die uitslag van die hofsaak oor hul moontlike hervestiging afwag. Foto: Elize Parker

Die burgemeesterskomiteelid vir Korporatiewe en Gedeelde Dienste, Kholofelo Morodi, het buite die hof op 17 Maart gesê die stad sal voortgaan met sy mandaat.

“Ons sal nie gestuit word nie,” het sy gesê.

Sy het verder beweer AfriForum tree as ’n ‘front’ vir die DA op en dat die metro reeds besig is om die hofbevel van 6 Maart uit te voer.

AfriForum het egter in hofstukke aangevoer dat die hervestiging ernstige risiko’s vir veiligheid, infrastruktuur en openbare orde inhou en dat die proses nie deursigtig of voldoende beplan is nie.

Volgens die organisasie is die terrein nie geskik of behoorlik gesoneer vir ’n grootskaalse tydelike nedersetting nie.

Llewellynn Hemmens, woordvoerder van AfriForum sê: “Ons wag nou op die hof se uitspraak, maar intussen bly ons gefokus daarop om die regte van alle Pretoria-inwoners te beskerm en seker te maak dat die metro aanspreeklik gehou word.”

Tydens AfriForum se besoek aan die terrein in Gezina op 18 Maart was daar reeds ’n draadheining omgespan, sowel as 24 tente en twee krane (wat gelek het) opgerig. Daar was steeds geen toilet-, was- en kookgeriewe aangebring nie.
Die hof het egter duidelik gemaak dat geen verdere stappe geneem mag word totdat uitspraak gelewer is nie.

Die Vryheidsfront Plus het ook sy steun vir die aansoek uitgespreek.

Volgens proporsionele raadslid van die party, Mari Joubert, en self ’n inwoner van die area waar hervestiging geskied, verwelkom die party AfriForum se optrede en beklemtoon dit die behoefte aan verantwoordelike en volhoubare oplossings vir die krisis.

Rekord het tydens ’n besoek aan die Melgisedek-terrein op 17 Maart opgemerk hoe toerusting soos kruiptrekkers reeds al sekere strukture op die terrein platgestoot het en die rommel op een hoop gestoot het terwyl gedeeltes van die heining reeds afgebreek is.

Van die strukture op die terrein is steeds bewoon alhoewel van die groter tweeverdiepinggeboue sonder dakke reeds gedeeltelik ontruim is.

Volgens geskiedenisnavorser, voorsitter van GPF Streek 3 en bouer, Marco Nel, dra Melgisedek vandag ’n swaar stigma, maar sy geskiedenis vertel ’n ander verhaal.

“Vir baie inwoners roep die naam nou beelde van verval en misdaad op, maar dit was eens ’n plek van studie, dissipline en jongmense met drome,” sê hy.

Nel verduidelik dat die terrein sy oorsprong het in 1909 met die stigting van die Pretoria Trades School & Polytechnic, wat later die Pretoria Technical College geword het. Teen die laat 1920’s het goed beplande koshuise in Riviera verrys, ontwerp om ’n lewendige akademiese gemeenskap te huisves.

“Die uitleg en argitektuur wys dit was ’n funksionele en trotse instelling,” sê hy.

Die keerpunt het in 1986 gekom toe die Technikon Pretoria verhuis het en die geboue leeg gestaan het. Kort daarna is dit oorgeneem deur ’n godsdiensorganisasie, die Melgisedek Christian Centre, met die doel om skuiling aan armes en haweloses te bied.

“Die bedoeling was edel, maar die uitvoering het gefaal,” verduidelik Nel.

Volgens hom het swak bestuur, skuld en wanadministrasie die projek laat verval. “Dit was die begin van Melgisedek se donkerste hoofstuk, ’n plek wat sy oorspronklike doel heeltemal verloor het,” sê Nel.

Tente is reeds opgerig by die beoogde hervestigingsterrein in Gezina, waar sowat 450 Melgisedek-inwoners moontlik gehuisves sal word hangende die hof se finale uitspraak. Foto: Verskaf

Die metro se woordvoerder, Lindela Mashigo, sê die gebou is in ’n vervalle toestand en hou ’n direkte gevaar vir inwoners in.

“Die stad ontruim Melgisedek hoofsaaklik weens veiligheidsrisiko’s,” het Mashigo aan Rekord gesê, maar wou nie vrae rondom enige moontlike ontwikkeling van die terrein vir studentebehuising beantwoord nie.

Mashigo het wel bygevoeg dat die stad die eiendom as geskik beskou vir toekomstige ontwikkeling saam met die private sektor, aangesien die metro nie die finansiële vermoë het om dit self te ontwikkel nie.

Hy het beklemtoon dat daar nog geen tender uitgereik of ontwikkelaar aangewys is nie.

“Die verkrygingsproses om ’n private ontwikkelingsvennoot te verseker het nog nie begin nie,” verduidelik Mashigo.

Hy sê dat die onmiddellike fokus steeds op die veilige verwydering van inwoners lê. “Op hierdie stadium is die primêre fokus die verwydering van inwoners en hervestiging weens dringende veiligheidskwessies.”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button