Local newsNews

Inwoners se vrese plaas Pretoria hoog op risikolys

Pretoria is onlangs as een van die gevaarlikste stede aangewys volgens ’n internasionale misdaadindeks wat op inwoners en besoekers se persepsies gegrond is. Ten spyte van geringe dalings in sekere misdade, volgens amptelike statistiek, dui stygende kapings en ontvoerings, asook 'n lae veiligheidsgevoel, op volgehoue druk op die stadsinwoners se veiligheid.

Persepsies rondom misdaadvlakke van Pretoria se inwoners en besoekers het onlangs bygedra tot die hoofstad se aanwysing as die tweede gevaarlikste om in te woon, volgens ’n webgebaseerde misdaadindeks.

Die aanwysing is gemaak op die lys van stede in die Numbeo-misdaadindeks.

In die Misdaadindeks-kategorie, dui ’n telling van 81% daarop dat inwoners en besoekers glo dat hulle ’n aansienlike hoër risiko het om misdaad te ervaar in vergelyking met ander stede.

’n Veiligheidsindeks van 18% dui weer aan dat ’n stad as gevaarlik beskou word, veral ten opsigte van persoonlike veiligheid.

Numbeo-indekse stel gebruikers in staat om inligting oor die lewensgehalte in stede wêreldwyd te besigtig, te deel en te vergelyk. Dit evalueer verskeie faktore wat bydra tot stedelike lewenstandaarde, soos misdaad.

Hierdie syfers, spesifiek oor misdaad, weerspieël die waarnemings en gevoelens van inwoners en besoekers oor rooftogte, voertuigkapings, verkragtings en ander gewelddadige misdade en is nie amptelike statistiek nie.

Beide syfers, Numbeo-verslag en amptelik, dui op volgehoue druk op veiligheid in Pretoria.

Amptelike statistiek van die derde kwartaal (Oktober tot Desember 2025) wys dat Gauteng, insluitend Pretoria, steeds die hoogste vlakke van kontakmisdaad in Suid-Afrika het.

Moord het met sowat 2–3% afgeneem, terwyl aanranding effens gedaal het. Kapings het egter met ongeveer 5–7% gestyg, en ontvoerings toon ’n beduidende toename van meer as 10%.

Michael Sun, lid van die Provinsiale Wetgewer en DA-woordvoerder vir gemeenskapsveiligheid, het die verslag uitgelig en beklemtoon in sy opsomming dat “hierdie indeks wys dat mense nie veilig voel in hul buurte nie. Gemeenskappe moet die gevoel hê dat die polisie optree en dat misdaad nie ongestraf bly nie”.

Juis om ook sigbare polisiëring in misdaadgeteisterde gemeenskappe te bevorder, het President Cyril Ramaphosa aan die begin van Maart aangekondig dat 2 200 lede van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag ontplooi sal word onder Operasie Prosper, in samewerking met die SAPS tot Maart 31, 2027.

Die doel van die ontplooiing is om polisiewerk te versterk in gebiede waar misdaadvlakke hoog is deur sigbare patrollies, vinniger reaksie op voorvalle en die stabilisering van gemeenskappe wat deur geweld geraak word. Soldate help ook met die bekamping van georganiseerde misdaad soos bendegeweld, gewapende rooftogte en die verspreiding van onwettige wapens.

Generaal Rudzani Maphwanya, hoof van die Suid-Afrikaanse Weermag Foto: GCIS

Tydens ’n mediakonferensie by die Nasionale Gesamentlike Operasionele en Intelligensiestruktuur-koördinasiesentrum in Pretoria, het generaal Rudzani Maphwanya, hoof van die Suid-Afrikaanse Weermag, op 15 Maart oor die operasie gesê: “Ons gaan nie enige verdere toename in misdaad duld nie.”

Hy het ook gemeenskappe gerusgestel dat soldate nie onwettig sal optree teen gewone burgers nie: “Ons gaan nie daarheen om ons mense te teister nie. Slegs kriminele elemente sal die teistering voel.”

Nasionale polisiekommissaris-generaal, Fannie Masemola, het tydens dieselfde konferensie bevestig dat die operasie ’n belangrike stap is om optrede teen geweldsmisdaad en georganiseerde misdaadnetwerke te versterk.

“Die doel van hierdie intervensie is om ruimte te skep vir die polisie om straatmisdaad te hanteer en georganiseerde misdaad te ontwrig deur ’n gekoördineerde operasionele raamwerk daar te stel om misdaadgeteisterde areas te stabiliseer.”

Masemola het beklemtoon dat die operasie nie net oor wetstoepassing gaan nie, maar ook oor die herstel van vertroue tussen gemeenskappe en die owerhede.

Vir Sun is hierdie ontplooiing deel van die oplossing, maar hy sou ook wou toesien dat sekere polisiëringsbevoegdhede aan die provinsie oorgedra word.

“Daarmee in plek, kan ons meer doeltreffend optree in hoëmisdaad-areas,” glo Sun.

Hy het uitgewys dat ’n DA-geleide Gautengse regering druk op die Minister van Polisie sal plaas om sulke bevoegdhede aan die provinsie oor te dra.

Veiligheidskenner Mike Bolhuis wys daarop dat die persepsie van misdaad soos in die Numbeo-verslag dikwels net ’n aanduiding is van hoe groot die probleem is.

“In die werklikheid is dit soms juis erger as gevolg van onderrapportering van misdaad vir amptelike doeleindes, maar dit weerspieël beslis ’n realiteit wat polisie en regering nie kan ignoreer nie,” sê hy.

Hy wys daarop dat van die redes wat tot sulke persepsies by Pretoria-inwoners kon bydra, is dat hulle toenemende onsekerheid en bekommernis oor hul veiligheid ervaar.

“Die stad se hoë werkloosheidsyfer, veral onder jongmense, dryf baie mense soms tot misdaad as ’n manier om te oorleef. Tegelykertyd is geweld deel van die daaglikse werklikheid in sommige gemeenskappe. Moord, verkragting en aanranding kom gereeld voor, dikwels binne sosiale of huishoudelike kontekste, en is dikwels alkoholverwant. Daar is ook gemeenskappe met ’n kultuur waar konflik dikwels met geweld opgelos word. Groot ongelykheid en sosiale wanorde vererger die situasie,” verduidelik Bolhuis.

Volgens Bolhuis is daar ’n merkbare verskil in verslae soos die Numbeo-verslag en amptelike verslae want slegs ’n klein persentasie van byvoorbeeld seksuele misdade word aangemeld.

“Bykans 95% van seksuele teistering, kindermolestering en digitale teistering word nie aangemeld nie. Dit wys hoe onderrapportering die statistiek skeef trek en die publiek se gevoel van onveiligheid verhoog.”

Bolhuis sê egter dat militêre ontplooiing nie die kern van die oplossing is nie.

Hy beklemtoon samewerking en sosiale oplossings: “Militêre en polisie-aksies is belangrik, maar sonder maatskaplike ingryping, armoedebestryding en behoorlike bestuur, sal misdaad voortduur en toeneem. Gemeenskappe moet deel wees van die oplossing. Feit van die saak is as die gemeenskap nie inkoop op sulke ontplooiings nie, kan jy die beste weermag in die wêreld instuur en dit sal nie veel van ’n verskil maak nie.”

LEES MEER: Hanekom returns as Bulls shuffle pack for Cardiff clash

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button