Hofsake vertraag uitsetting uit Melgisedek-gebou
Die stad dring aan op hervestiging, terwyl menseregteprokureurs, AfriForum en die DA op verskillende gronde probeer om die proses te vertraag of te wysig, met verskeie hofsake wat nou parallel verloop.
Die voorgenome uitsetting van sowat 450 inwoners uit die vervalle Melgisedek-gebou in Pretoria het in Maart ’n ingewikkelde regs- en politieke stryd ontketen, met verskeie rolspelers wat mekaar in die hof teenstaan oor waar en of die inwoners hervestig moet word.
Die metro hou vol dat die gebou ’n ernstige veiligheids- en gesondheidsrisiko inhou en dat die ontruiming noodsaaklik is om stedelike verval te beëindig. Menseregteprokureurs, Lawyers for Human Rights, voer egter aan dat die inwoners nie verskuif moet word voordat hul appèlproses in die Appèlhof afgehandel is nie.

Die DA steun die uitsetting in beginsel, maar meen dat die beoogde terrein in Nico Smithstraat in Gezina nie ’n geskikte of volhoubare oplossing is nie.
Die Melgisedek-gebou, oorkant die Steve Biko Akademiese Hospitaal in Steve Bikostraat in die Moot, is al jare lank in ’n swak toestand en word deur die stad as ’n bron van misdaad, brande en gesondheidsgevare beskou.
Die Gautengse Hooggeregshof het vroeër in Maart ’n uitsettingsbevel bekragtig wat die metro toestemming gee om die inwoners te verwyder.
Die stad het beplan om die inwoners in die derde week van Maart na ’n tydelike terrein in Gezina te verskuif, maar teen 23 Maart het die hervestiging nog nie plaasgevind nie, aangesien ’n reeks hofaansoeke en appèlle die proses vertraag het.

AfriForum was die eerste organisasie wat probeer het om die hervestiging te stop.
Die organisasie het op 17 en 19 Maart dringende aansoeke by die hof ingedien om die verskuiwing te stuit.
In hul hofstukke het hulle aangevoer dat die oop terrein in Gezina nie oor voldoende infrastruktuur beskik nie, dat die sonering nie ’n groot tydelike nedersetting toelaat nie en dat die gemeenskap nie behoorlik geraadpleeg is nie.
Hulle het gewaarsku dat die beplande ontwikkeling risiko’s vir veiligheid, gesondheid en openbare orde kan inhou.
Die hof het egter op 20 Maart beslis dat die saak nie dringend genoeg is om ’n interdik te regverdig nie en die aansoek van die rol geskrap.
Hoewel AfriForum se poging onsuksesvol was, het die organisasie aangedui dat die saak nie daar eindig nie en dat verdere regs- en burgerlike stappe oorweeg word.
Die organisasie hou vol dat die kernkwessies wat hulle geopper het, veral oor infrastruktuur en konsultasie, steeds nie aangespreek is nie.
Kort ná AfriForum se mislukte poging het die DA sy eie hofaansoek voorberei, maar op ander regsgronde.
Die party se standpunt is dat die uitsetting wel kan voortgaan, maar dat die beoogde hervestigingsterrein nie in die beste belang van enige van die betrokke gemeenskappe is nie.
DA-koukusleier Cilliers Brink sê: “Die DA hou vol dat die hervestiging van Melgisedek-inwoners na Nico Smithstraat in Gezina nie in die beste belang van die gemeenskap rondom Nico Smithstraat is nie, en ook nie die beste oplossing vir die inwoners van Melgisedek self nie.”
Die DA het op 20 Maart ’n aansoek geliasseer om te verseker dat enige hervestiging slegs as ’n noodmaatreël behandel word en nie ’n permanente oplossing word nie.
Die party het die stad tot 24 Maart gegee om aan te dui of hy die aansoek gaan teenstaan, en het versoek dat die saak op 12 April aangehoor word.
Brink het ook die politieke konteks rondom die uitsetting beklemtoon, veral in die lig van die spesiale verlof hangende ’n ondersoek van ActionSA se burgemeesterskomiteelid vir korporatiewe dienste, Kholofelo Morodi, ná onthullings by die Madlanga-kommissie. Morodi het die hervestitigingsprojek rondom Melgisedek as deel van haar verpligtinge as burgemeesterskomiteelid bestuur.

Volgens Brink behoort die stad nie die DA se aansoek teen te staan nie, maar eerder die regte van albei gemeenskappe in ag te neem en in hul beste belang op te tree.
Terwyl hierdie politieke en burgerregte-organisasies hul onderskeie hofsake gevoer het, het die Melgisedek-inwoners self, verteenwoordig deur Lawyers for Human Rights, die saak op 20 Maart na die Appèlhof geneem. Die organisasie het ’n petisie geliasseer om te keer dat die uitsetting voortgaan terwyl die appèl oorweeg word.
Louise du Plessis van Lawyers for Human Rights het die stap bevestig en bygevoeg dat die stad op dieselfde dag ’n teenaansoek gebring het: “Hulle het dieselfde dag ’n aansoek ingevolge Artikel 18(3) geliasseer, en dié saak sal Donderdag, 26 Maart in die hof dien.”
’n Artikel 18(3)-aansoek stel ’n party in staat om te vra dat ’n hofbevel steeds uitgevoer kan word, selfs al is daar ’n appèl hangende.
In hierdie geval beteken dit dat die stad poog om die inwoners steeds te verskuif ondanks die feit dat die inwoners se regspan die saak na die Appèlhof geneem het om so ’n hervestiging en uitsetting te verhoed.
Die metro hou vol dat hy deeglik voorberei het vir die hervestiging en dat die nuwe terrein tydelike, basiese skuiling sal bied.
Die stad meen dat die uitsetting noodsaaklik is om die gevaarlike toestande in en om die Melgisedek-gebou te beëindig en om stedelike hernuwing te bevorder.
Die burgemeesterskomiteelid vir veiligheid, Hannes Coetzee, wat intussen in die portefeulje van korporatiewe dienste waarneem ná Morodi se voorlopige spesiale verlof hangende ’n ondersoek, sê die hof se beslissing teen AfriForum is ’n duidelike aanduiding van wat kragtens wet moet gebeur.
“Die uitspraak teen AfriForum op 20 Maart stuur ’n duidelike boodskap aan diegene wat probeer om vooruitgang deur regsaksies te vertraag: ons sal nie ons verbintenis om stedelike verval te beëindig laat ontspoor nie,” sê Coetzee.
Hy het bygevoeg dat die stad sal voortgaan om “slegte geboue en die netwerke wat dit in stand hou, af te breek,” en dat die voorbereidings by die nuwe terrein voltooi is om te verseker dat niemand tydens die oorgang sonder skuiling gelaat word nie.
LEES: Tentedorp: AfriForum-aansoek misluk, DA loods nuwe hofaksie
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel
