Tentedorp: AfriForum-aansoek misluk, DA loods nuwe hofaksie
Hoewel AfriForum se dringende hofaansoek om die hervestiging van Melgisedek-inwoners te keer misluk het, berei die DA nou ’n eie regsaksie voor. Die party sê hul aansoek sal op ander wetlike gronde steun en fokus op die bepalings van die Behuisingswet en die geskiktheid van die beoogde terrein in Gezina.
Die eerste regspoging deur AfriForum op 17 en 19 Maart om die beplande hervestiging van inwoners uit die Melgisedek-gebou in Pretoria na ’n terrein in Gezina te stuit, was onsuksesvol.
’n Nuwe hofaansoek word nou deur die DA voorberei om die hervestiging te voorkom.
Die Gautengse Hooggeregshof in Pretoria het op 19 Maart AfriForum se dringende aansoek om ’n interdik teen die hervestiging van meer as 400 Melgisedek-inwoners na ’n terrein in Gezina van die hand gewys.
Die metro beoog om die inwoners van die Melgisedek-gebou, oorkant die Steve Biko Akademiese Hospitaal, na ’n oop stuk grond op die hoek van Nico Smith-straat en Johan Heyns-rylaan te verskuif.
Cilliers Brink, DA-koukusleier in Tshwane, sê die party gaan voort met ’n eie regsproses.
“Ek het op 19 Maart hofstukke geteken wat ons op 20 Maart wil indien. Ons aansoek word op ander gronde as dié van AfriForum gedoen en draai rondom die bepalings van die Behuisingswet. Indien die hervestiging op die terrein in Gezina wel gekeer kan word, hoop ons om op dié manier verligting vir al die partye, Melgisedek-inwoners sowel as Gezina-inwoners, te bring,” sê Brink.
Volgens hom is die kern van die DA se saak dat die metro moet kan aantoon dat die hervestigingsproses in ooreenstemming met wetlike vereistes en behoorlike prosedures plaasvind.
Hy voer aan dat die situasie nie net ’n politieke of gemeenskapskwessie is nie, maar ook ’n toets vir die wyse waarop plaaslike owerhede hul statutêre verpligtinge nakom wanneer kwesbare mense hervestig word.
AfriForum het intussen aangedui dat sy eie stryd teen die verskuiwing voortgaan ondanks die hof se uitspraak.
Die burgerregteorganisasie het die hof genader nadat dit aan die lig gekom het dat die metro die inwoners na ’n terrein sonder voldoende infrastruktuur, beplanning of konsultasie met die gemeenskap wou verskuif.
In sy hofstukke het AfriForum aangevoer dat die terrein nie geskik is vir ’n grootskaalse tydelike nedersetting nie en dat die sonering dit nie toelaat nie.
Die organisasie het ook gewaarsku dat die beplande ontwikkeling ernstige risiko’s vir veiligheid, gesondheid en openbare orde kan inhou.
Arno Roodt, AfriForum se hoof vir gemeenskapstrukture in die noordstreek, sê die organisasie beskou die uitspraak nie as die einde van die proses nie.
“Ons regspan sal die uitspraak nou deeglik bestudeer en bepaal watter verdere regs- en burgerlike stappe geneem kan word, maar hierdie saak is lank nie verby nie,” sê hy.
AfriForum oorweeg volgens hom nou die moontlikheid om teen die uitspraak te appelleer of om as party toe te tree tot die uitsettingsaak tussen die Melgisedek-inwoners en die metro.
Die Melgisedek-inwoners se regspan gaan nou ’n petisie by die Appèlhof indien om die verskuiwing te probeer keer.
AfriForum sal dan oorweeg om as party tot dié saak toe te tree of om teen 19 Maart se hofbeslissing te appelleer.
Roodt beklemtoon dat die kwessies wat deur die organisasie geopper is, steeds nie opgelos is nie en dat daar steeds kommer bestaan oor die geskiktheid van die beoogde hervestigingsterrein.
Die hof het reeds op 3 Maart ’n uitsettingsbevel bekragtig wat die metro toestemming gee om die Melgisedek-inwoners te verskuif. Die gebou, wat al jare lank in ’n vervalle toestand verkeer, word deur die stad as ’n veiligheids- en gesondheidsrisiko beskou.
Die metro se standpunt is dat die verskuiwing noodsaaklik is om die gevaarlike toestande in en om die gebou te beëindig.
Kholofelo Morodi, voormalige burgemeesterskomiteelid vir korporatiewe dienste, het kort ná die hofbeslissing die uitspraak verwelkom en gesê die hof het deur, wat sy as ‘obstruksie deur politieke partye’ genoem het, gesien.
“Hulle het probeer om die gemeenskapsbelange-kaart te speel terwyl hulle gerieflik 20 jaar se lyding by Melgisedek se terrein deur brande, hospitalisasies en misdaad wat na die hospitaalterrein oorspoel, geïgnoreer het. Maar die hof het hierdeur gesien, die interdik is van die hand gewys en koste is teen hulle toegeken,” het Morodi gesê.
Sy het bygevoeg dat die hofuitspraak ’n belangrike mylpaal vir stedelike hernuwing in Pretoria verteenwoordig.

“Die hof het sy sê gesê: ons sal slegte geboue en die netwerke daaragter afbreek. Elke voorstad verdien veiligheid en hernuwing,” het sy gesê.
Morodi is egter slegs enkele ure ná die hofsaak op spesiale verlof geplaas deur die burgemeester, dr. Nasiphi Moya, te midde van bewerings dat sy vertroulike munisipale dokumente aan ’n polisiebeampte verskaf het.
Haar tydelike skorsing het gevolg op getuienis voor die Madlanga-ondersoekkommissie wat daarop gedui het dat interne metro-dokumente glo gedeel is met ’n polisiebeampte wat na bewering betrokke was by pogings om ’n groot sekuriteitstender te beïnvloed.

Die burgemeesterskomiteelid vir Veiligheid, Hannes Coetzee, sal in haar afwesigheid die portefeulje bestuur.
LEES:
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf:
Rekord Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel
