Local newsNews

Paaie en Vervoer LUR glo Garsfonteinpad-opgradering kry momentum

Die projek sluit dualisering, sypaadjies vir voetgangers en verkeersveiligheidsmaatreëls in. LUR Kedibone Diale-Tlabela sê die werk sal kapasiteit verhoog, verbindings verbeter en die pad se lewensduur verleng, terwyl motoriste versoek word om versigtig te bestuur tydens konstruksie.

 

Die Gauteng Departement van Vervoer en Paaie het bevestig dat die opgradering en rehabilitasie van Garsfonteinpad (K50) tans momentum kry.

Die projek is volgens LUR vir Paaie en Vervoer, Kedibone Diale-Tlabela, deel van ’n strategiese plan om die provinsiale padnetwerk te verbeter, mobiliteit te verhoog, verkeersveiligheid te bevorder en kritieke infrastruktuur oor Gauteng te onderhou.

Verskeie rehabilitasie- en opgraderingsprojekte sluit dualisering, verhardingsverbeterings, instandhouding van randgebiede en plantegroei, sowel as herstelwerk aan padtekens in.

Die Garsfonteinpad-opgradering is ’n 30-maande-inisiatief wat saamval met die ontwikkeling van die Mooikloof Mega City, ’n geïntegreerde residensiële en kommersiële projek wat toegang tot geriewe vir talle Pretoria-oos gemeenskappe beoog.

Volgens amptelike projekbesonderhede het die padwerk op 28 November 2024 begin, met die terrein wat later op 21 Januarie 2025 aan die kontrakteur oorgedra is om met die 30-maande opgraderingswerk voort te gaan.

Die opgraderingswerk sluit die konstruksie van ’n vier-rybaan pad tussen January Masilelaweg en Loristo-straat in, met veilige sypaadjies vir voetgangers.

Volgens die departement word die padwerk reeds op die terrein uitgevoer, terwyl interne instandhoudingspanne van GDRT sekere dele buite die hoofkonstruksiegrense hanteer.

Groot opgraderings aan die Garsfonteinpad in Pretoria-oos is tans aan die gang. Die projek ondersteun die Mooikloof Mega City-ontwikkeling en sluit vier-rybaan konstruksie, voetgangerslane en padherstel in. Foto: Elize Parker

Hierdie spanne is verantwoordelik vir die herstel van slaggate, verwydering van rommel en algemene padonderhoud.

Sy het beklemtoon dat die opgraderings die verbindings in die streek sal verbeter, die pad se kapasiteit sal verhoog en die algemene veiligheid vir padgebruikers sal verbeter.

“Alle kontrakteurs wat aan projekte werk moet te alle tye om ’n kwaliteit produk te lewer, betyds en binne die begroting werk,” sê sy.

Die departement het ’n goedgekeurde verkeersplan ingestel wat voortdurend gemonitor word, volgens Diale-Tlabela.

Sekere gedeeltes van die pad het tydelike rystrookbeperkings, wat tot stadige verkeer en moontlike vertraging gedurende spitsure kan lei.

Motoriste word versoek om ekstra versigtigheid te handhaaf tydens die konstruksieperiode.

Die departement beklemtoon dat hulle graag saam met die gemeenskappe wat deur die padwerke geraak word, samesprekings voer om volhoubare oplossings te vind wat inwoners tydens die konstruksie kan beïnvloed.

Gereelde belanghebbende-byeenkomste word gehou om probleme aan te spreek en inligting te deel.

Die Garsfonteinpad-opgradering is nie die enigste prioriteitsprojek nie, die departement voer ook werk uit op verskeie ander provinsiale roetes uit. Hierdie roetes sluit in WF Nkomostraat, Molefe Makinta-weg en Ben Schoeman-hoofweg (N14), die R25 (Bronkhorstspruitpad), R59, D331 in die Wes-Rand, sowel as M1 en Hendrik Potgieterweg in Johannesburg.

Volgens Kedibone Diale-Tlabela is hierdie opgraderings daarop gemik om die lewensduur van Gauteng se padnetwerk te verleng, verkeersveiligheid te verbeter en die ekonomiese produktiwiteit te ondersteun. Sy het gesê dat die doel is om paaie te skep wat nie net veilig en betroubaar is nie, maar ook die ekonomiese aktiwiteit in die provinsie bevorder.

Die departement doen ’n beroep op die publiek se begrip en samewerking tydens die konstruksieperiode. Motoriste en inwoners van Garsfontein en omliggende gebiede word versoek om padtekens te volg, geduld te hê en alternatiewe roetes waar moontlik te gebruik.

ALSO READ: Metro vertrou op ekonomiese groei en werkskepping met toerismeplan

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button