Regsaksie dreig oor Harlequins-klub se toekoms
’n Petisie en vreedsame byeenkoms is deel van groeiende druk op die Stad Tshwane, terwyl regsaksie oor ’n afdwingingskennisgewing dreig. Die gemeenskap mobiliseer om die toekoms van die historiese Harlequins-sportklub en sy fasiliteite te beskerm.
Petisies, ’n vreedsame byeenkoms en moontlike regsaksie vorm nou deel van ’n groeiende stryd tussen die Harlequins-sportklubgemeenskap en die Stad Tshwane oor ’n afdwingingskennisgewing wat die sloping van geboue en geriewe voorskryf as gevolg van ‘n soneringsgeskil.
Op 9 April was daar al 1 800 handtekeninge op die petisie.
Die kwessie het nie net regsimplikasies nie, maar raak ook die geskiedenis, identiteit en voortbestaan van een van Pretoria se oudste sportinstellings.
Terwyl lede, ondersteuners en inwoners mobiliseer, word die saak toenemend ’n toets vir administratiewe billikheid en die verhouding tussen plaaslike owerhede en gevestigde gemeenskapsinstellings.
Volgens Arno Roodt, regsverteenwoordiger van AfriForum, is die kern van hul saak dat die optrede teen die klub nie billik is nie.
Hy verduidelik dat die klub reeds sedert 1902 bestaan en oor dekades heen op dieselfde perseel operasioneel is.
Die huidige terrein dateer uit die sestigerjare toe dit in besit van die destydse Pretoria Stadsraad was.
“Die klub het die eiendom in die laat negentigerjare by die stadsraad gekoop met die verstandhouding dat dieselfde bedrywighede voortgesit sou word,” sê hy. “Daar is oor jare geboue ontwikkel met toestemming van die stadsraad en bouplanne is goedgekeur.”
Roodt beklemtoon dat die klub in 2021 proaktief opgetree het om enige moontlike regs- of administratiewe gapings te voorkom.
Hy voeg by dat die regsbenadering tans daarop fokus om die stadsraad die geleentheid te gee om die “regte ding” te doen.
“Die onus is nou op die stadsraad. Ons het hulle skriftelik genader om die kennisgewing terug te trek en ’n datum vir ’n tribunaalverhoor van die metro oor die sonering vas te stel sodat die hersoneringsproses afgehandel kan word.”
Indien dit nie gebeur nie, waarsku hy, sal verdere regsaksie volg.
“Ons het reeds met ’n regspan vergader en is besig om ’n hersieningsaansoek voor te berei oor die stadsraad se versuim om ’n besluit oor die hersonering te neem, asook om die afdwingingskennisgewing te laat opskort en hersien.”
Hy erken egter dat die saak kompleks is.
“Die metro het die mag om bywetverordeninge af te dwing, maar hulle moet eers seker maak hul eie huis is in orde. Hulle kan nie die gemeenskap straf vir hul eie administratiewe onvermoë nie.”
Volgens hom sal die regsaksie fokus op die redelikheid en billikheid van die proses, asook die historiese goedkeuring van bouplanne wat die klub se saak kan versterk.
“As ’n prokureur moet ek sê elke saak het ’n 50/50 kans, maar ons doel bly om die proses tot ’n einde te bring deur die hersonering af te handel. Intussen gaan ons voortgaan om druk toe te pas deur publieke mobilisering, ’n byeenkoms en ’n petisie.”
Hierdie mobilisering neem vorm aan in ’n beplande byeenkoms by die klub.
Maree van der Berg, projekleier van die AfriForum-byeenkoms, sê die geleentheid op Saterdag 11 April van 09:00 tot 10:00 by die klub in Totiusstraat, Groenkloof in Pretoria-oos is daarop gemik om ’n verenigde boodskap uit die gemeenskap te stuur.
“Rooi strafkaarte gaan aan die gemeenskap en klublede wat die byeenkoms bywoon uitgedeel word sodat ’n gesamentlike stelling gemaak kan word oor hoe die gemeenskap, bewonderaars, spelers en oud-spelers sowel as lede en oud-lede van die klub oor die afdwingingskennisgewing van Tshwane voel,” sê sy.
Hy beklemtoon dat die toon van die byeenkoms vreedsaam sal wees, en bygewoon sal word deur bekendes in sportkringe soos oud-Springbok Gary Botha (nou ook afrigter by die klub) en van die agt vroue-rugby Springbokke wat die klub opgelewer het.
“Ons doen die byeenkoms in ’n vreedsame gees en ’n goeie gesindheid. Ons gaan in die uur verduidelik wat ons planne vorentoe is en hoekom ons vir die stadsraad rooi kaarte uitdeel.”
Van der Berg voeg by dat die petisie teen die afdwingingskennisgewing, wat die sloping van strukture voorskryf, ook tydens die byeenkoms onderteken kan word.
Vanuit die klub self is daar diepe kommer oor die impak van die kennisgewing.
Chaka Crouwcamp, klubvoorsitter, sê die kennisgewing is op 17 Maart 2026 op die klub beteken.
“Ons was geskok, aangesien ons reeds in 2021 aansoek gedoen het vir hersonering,” verduidelik hy. Hy wys daarop dat die klub deurlopend met belanghebbendes gekommunikeer het. “Ons het gereeld skrywes gerig, vergaderings met huiseienaarsverenigings in Groenkloof gehou en aanpassings aan die aansoek gemaak na aanleiding van besware wat ontvang is. Ons het dikwels met beswaarmakers vergader.”
Hy verduidelik die historiese konteks van die eiendom.
“Die klub het die grond oorspronklik by die stadsraad gehuur, met die bepaling dat dit vir sportdoeleindes gebruik moet word. In 1997 het ons die eiendom gekoop.”
Volgens hom lewer die klub ’n belangrike diens aan die gemeenskap. “Dit sal jammer wees indien hierdie diens gestaak moet word, aangesien die klub sedert 1903 bestaan.”
Crouwcamp wys ook op die ekonomiese impak.
“Behalwe vir ongeveer 15 werknemers, raak hierdie situasie ook meer as 20 kelners in die restaurant en verskeie afrigters wat afhanklik is van inkomste uit sportaktiwiteite.”
Hy bevestig dat die klub nou saam met AfriForum werk om die saak aan te spreek.
“Ek vertrou dat ons ’n oplossing sal vind en kan voortgaan om in die toekoms ’n leidende rol in die sportgemeenskap van Pretoria te speel.”
Ben Eybers, president van die klub, plaas die saak binne ’n breër konteks van verandering en moontlike druk op sportgronde.
“Ons ledetal is 53% wit en 47% swart. Ons het tred gehou met hoe die buurt en gemeenskap rondom ons ontwikkel het. Ons is oop vir enige sportgeesdriftiges om lid te word,” sê hy.
Hy sê die kennisgewing het onverwags gekom.
“Ons het geen probleme voorsien nie totdat ’n stadsraadamptenaar hier ingestap het, ’n e-posadres gevra het en die kennisgewing op ons bedien het.”
Eybers glo dat daar dalk moontlik groter en ander as die van sport, belange ter sprake kom.
“Ons het oor die afgelope drie jaar ’n patroon waargeneem in die groter Pretoria waar ontwikkelaars hul oog op sportklubgronde het en probeer om invloed uit te oefen opdie metro om die grond in die hande te kry.”
Ten spyte van die uitdagings, beklemtoon Eybers die klub se betrokkenheid by die gemeenskap.
“Ons ontmoet gereeld met verteenwoordigers van die plaaslike belastingbetalersvereniging om klagtes te bespreek en op te los, en om hulle in te lig oor groot geleenthede soos die Lamb Champs-kompetisie. Ons stel elke keer ’n operasionele sentrum op tydens groot rugbygeleenthede om inligting deur te gee en die dag te monitor.”
Terwyl die regsproses in plek gestel word en die gemeenskap mobiliseer, bly die toekoms van die klub onseker. Wat egter duidelik is, is dat die saak verder strek as net sonering en regulasies: Dit raak ’n stuk geskiedenis, ’n gemeenskap se identiteit en die vraag of administratiewe prosesse regverdig en konsekwent toegepas word.
– Vrae is aan die nuwe burgermeesterskomiteelid vir Korporatiewe en Gedeelde Dienste, Freda Monama, gestel maar antwoorde is nog nie ten tye van publikasie ontvang nie.
– Petisie hier beskikbaar asook byeenkomsbesonderhede: https://www.artikels.afriforum.co.za/en/give-the-tshwane-metro-a-red-card-and-save-the-harlequins-rugby-club/
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel
