Sportklub en metro se geskil op die spits gedryf
Die soneringsgeskil tussen die Harlequins-sportklub en die metro het in die derde week van April toegeneem toe 'n tweede brief van AfriForum se regspan wat namens die klubbestuur optree, die metro op terme geplaas het en gewaarsku het dat daar geen skade aan die terrein aangerig mag word nie.
Met regsaksie wat dreig, ’n metro onder druk van ontwikkelaars, en ’n sportklub wat homself herposisioneer vir die toekoms, bly die uitkoms van die soneringsgeskil tussen die metro en die Harlequins-sportklub in Pretoria-oos onseker.
Wat wel duidelik is, is dat die besluite wat nou geneem word, verreikende gevolge vir sport, ontwikkeling en stedelike ontwikkelingsbeleid in Pretoria kan hê.
Die soneringsgeskil oor die sportklub in Groenkloof het die afgelope weke in ’n volwaardige regs- en beleidskrisis ontwikkel, met die metro en verskeie belanghebbendes wat lynreg teenoor mekaar staan.
Die dispuut handel oor die gebruik van die klub se grond, wat volgens die metro se amptelike rekords nie ooreenstem met die bestaande sonering nie.
Die metro voer aan dat die terrein tegnies anders geklassifiseer is as landbougrond, en dat sekere aktiwiteite dus nie wettiglik daar behoort plaas te vind nie. Dit reken dat die gebou platgeslaan moet word en dat die ontwikkelde sportvelde na ’n landbougrondstatus moet terugkeer.
Hierdie interpretasie deur die metro het gelei tot dreigemente van optrede teen die klub wat kommer oor die klub se voortbestaan laat toeneem het.
Teenoor hierdie standpunt staan die klub en sy ondersteuners, wat volhou dat Harlequins al dekades lank as ’n gevestigde sport- en gemeenskapsentrum funksioneer. Hulle voer aan dat daar reeds in 2021 ’n soneringsaansoek by die metro ingedien is juis om enige onsekerhede oor sonering uit die weg te ruim.
Die Harlequins-sportklub is ’n multi-sportklub en huisves ook talle ander sportklubs soos rolbal en krieket en het meer as 700 lede.
Vir die klublede is die geskil nie bloot ’n tegniese kwessie nie, maar ’n botsing tussen burokratiese regulasies en geskiedkundige werklikheid.
Klubvoorsitter Chaka Crouwkamp het tydens ’n ledevergadering op 11 April aan klublede verduidelik dat die grond in 1997 van die metro gekoop is en ’n soneringsaansoek met al die goedkeurings in 2021 ingehandig is.
Die metro het aan Rekord gesê dat die soneringsaansoek tans op pad is om deur ’n munisipale tribunaal oorweeg te word, maar dat sekere kritiese dokumente in die aansoek ontbreek en deur die klub verskaf moet word.
Die aansoek kan volgens die burgemeester se woordvoerder, Samule Mogobodzi, eers oorweeg word as die uitstaande dokumente deur die klub se konsultante verskaf word.
Volgens Crouwkamp het die klub se konsultante aan hom die versekering gegee dat alle nodige dokumente, ook dokumente rondom beswaarmakers teen die sonering, reeds ’n geruime tyd gelede ingehandig is.
Die metro se waardasielys wys dat die eiendom in Totiusstraat op meer as R30-miljoen gewaardeer word.
Tydens ’n onlangse vergadering van DA-raadslid Shaun Wilkinson het dit aan die lig gekom dat die terrein langs die klub wat aan die metro behoort en tans verhuur word onder die 99-jaarkontrakmodel, deur die metro geoormerk is vir onderverdeling en ontwikkeling.
Die metro beplan sedert Mei 2025 om die onderverdeelde area aan ontwikkelaars beskikbaar te stel om onder meer lae-koste behuising, kantoorgeboue en winkels daar te stel.
Die geskil is verder gevoer deur die betrokkenheid van burgerregte-organisasie AfriForum, wat namens die klub en ander belanghebbendes optree.
Volgens Maree van der Berg, woordvoerder van AfriForum, het hul regspan ’n tweede formele waarskuwingsbrief aan die metro op 13 April gestuur.
Hierin word dit duidelik gestel dat enige optrede teen die klub se grond of infrastruktuur onmiddellike regsgevolge kan hê.
Indien geen reaksie van die metro teen 18 April ontvang word nie, beoog die organisasie ook om die hof te nader om die metro se kennisgewing ter syde te stel.
Maree beklemtoon dat die metro op terme geplaas is: “Indien daar enige skade aan die terrein veroorsaak word of indien daar onregmatige optrede plaasvind, sal ’n dringende hofaansoek sonder verwyl volg.”
Van der Berg verwys na ’n sperdatum wat deur die metro self gestel is, naamlik 14 April, waarteen sekere optrede of prosesse soos die verwydering van die klub se advertensieborde deur die klub afgehandel moes wees.
Geen optrede is volgens hom deur die metro teen 17 April geneem nie.
Intussen gaan die klub se daaglikse bedrywighede voort soos normaal, maar onder ’n wolk van regsaksie en administratiewe ingryping.
Te midde van hierdie spanning het Harlequins se rugby-gelykheidsvennote, wat funksioneer as Harlequins Pro, hul stem by die debat gevoeg en probeer om ’n meer konstruktiewe toon te slaan.
Die organisasie bevestig dat hulle bewus is van die kwessies rondom grondgebruik en dat hulle die proses ondersteun om die situasie reg te stel.
Hulle beklemtoon dat hulle bereid is om met relevante owerhede in gesprek te tree om ’n wettige en volhoubare oplossing te vind.
Harlequins Pro verteenwoordig ’n nuwe fase in die klub se ontwikkeling. As ’n voorgestelde professionele rugbybeen, funksioneer dit deur ’n publieke maatskappy wat nou saamwerk met die bestaande nie-winsgewende klubstruktuur.
Die doel is om die rugbybedryf binne Harlequins te stabiliseer, beter te struktureer en op ’n meer volhoubare grondslag te plaas, terwyl die breër gemeenskapsrol van die klub behoue bly.
“Die proses om die soneringsgeskil op te los, is reeds aan die gang,” sê Pieter de Bruyn, woordvoerder van Harlequins Pro.
Volgens De Bruyn moet die huidige situasie nie as ’n ineenstorting van die klub gesien word nie, maar eerder as ’n noodsaaklike regstelling wat die deur oopmaak vir ’n sterker, meer gestruktureerde toekoms.
Hy glo dat met hul betrokkenheid skep Harlequins Pro nou ’n raamwerk waarbinne spelers en afrigters formeel gekontrakteer kan word, en waar finansiële bestuur meer deursigtig en aanspreeklik is.
Hierdie model maak dit ook moontlik om belegging en borgskappe op groter skaal te lok, wat weer die stabiliteit van die klub versterk.
Terselfdertyd word daar gefokus op die ontwikkeling van gemeenskapsrugby, met planne om saam met informele nedersettings en plaaslike klubs te werk om hul strukture te formaliseer en hul deelname aan kompetisies soos die Carltonliga te ondersteun.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel
