News

Gekarring aan geskiedenis ’n aanval op historiese waarheid – FAK

Die FAK en AfriForum reageer op die Minister van Onderwys, Siviwe Gwarube, se voorgestelde wysigings aan geskiedenis wat voortaan op skole geleer sal word.

Verskeie Afrikaanse kultuurorganisies doen ’n dringende beroep op ouers, onderwysers, akademici en organisasies om hul stemme te laat hoor teen die regering se voortdurende pogings om, aldus die FAK, “bladsye uit die Afrikaners se verhaal te ruk”.

Mense word gevra om ’n petisie teen die geskiedeniswysiging te onderteken.

“Die geskiedenis kan nie verskraal, verdraai of verwyder word om ’n politieke ideologie ten koste van akademiese balans en kennisoordrag te dryf nie. Dit plaas nie net die integriteit van geskiedenisonderrig in Suid-Afrika onder verdenking nie, maar trek ’n doelbewuste streep deur ’n deel van die Afrikaner se historiese geheue.”

Só sê dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, in ’n sterk bewoorde verklaring oor Minister van Onderwys, Siviwe Gwarube, se voorgestelde wysigings aan die Geskiedeniskurrikulum wat in die Staatskoerant gepubliseer is.

Volgens Langner sal die wysigings juis die land se ryk geskiedenisverhaal verarm en ’n nuwe geslag van die voorreg ontneem om te ontdek hoe grootse gebeure die land gevorm het, asook hoe en waar hulle in die groter narratief pas.

“Die Groot Trek, byvoorbeeld, was nie ’n mite of uitvloeisel van magsug nie, maar ’n komplekse reaksie op Britse imperialisme, onveilige grensgebiede en ’n stryd om selfbeskikking. Om hierdie gebeurtenis tot ’n eensydige morele oordeel te reduseer, ontneem leerders van ’n begrip van 19de-eeuse wêreldpolitiek, koloniale dinamika en die ontstaan van vroeë republikeinse tradisies in Suider-Afrika,” sê hy.

“Net so kan die Anglo-Boereoorlog nie sommerso uit geskiedenisboeke geskryf word nie. Dit impliseer ’n ontkenning van die meer as 48 000 hoofsaaklik vroue en kinders wat in konsentrasiekampe gesterf het.”

Meer as 30 000 plase en huise is afgebrand en verwoes. Volgens Langer, het die lyding ’n blywende invloed op die Afrikaner se kollektiewe geheue gehad.

“Meer belangrik nog is die verhaal van opstaan en opbou uit die as wat hieruit voortgevloei het.

“Dit is gedokumenteerde feite, nie politieke menings nie. Om dit te verswyg of tot naamlose grafte in die gras te verskraal, is ’n aanval op historiese waarheid,” sê hy.

Burgerregte-organisasie AfriForum het hierby aangesluit en in hul reaksie op die voorgestelde wysigings is dat geskiedenis wat ongebalanseerd en subjektief aangebied word, gevaarlik kan wees.
Volgens AfriForum se hoof van Kultuursake, Alana Bailey, sal “oorbeklemtoning van die kontinent, soos wat die inleiding van die kurrikulum voorhou, kan maklik tot verdraaings aanleiding gee. Afrika is n kontinent wat uit besonder diverse gemeenskappe bestaan. Om dié rede is meer spesifieke gemeensskapsgebaseerde onderrig nodig, sodat kinders nie net waardering vir ’n vae kontinentale identiteit het nie, maar hul unieke plek daarbinne en hulle gemeenskap se bydrae tot die stand daarvan kan verstaan en waardeer,” sê Bailey.

Volgens Barry Müller, die FAK se hoof van gemeenskap, geskiedenis en ad hoc-projekte, is sleutelgebeure juis krities om die ontwikkeling van tale, kulture, gebruike, tradisies, geloof, gemeenskappe en staatsvorming op ons vasteland én wêreldwyd te verstaan. Geskiedenis is nie ’n politieke ‘of‘-speletjie nie, maar ’n ‘en’-verhaal.

“’n Kurrikulum waarin een stuk geskiedenis bo ’n ander gestel word, skep nie ingeligte burgers nie. Dit kweek ’n verlore generasie wat nie hul eie land se komplekse verhaal kan verstaan óf hul identiteit hierin kan ontdek nie. ’n Ideologiesgedrewe, gesaniteerde geskiedenis is nie opvoeding nie. Dit is voorgeskrewe vervlakking,” sê Müller.

“Geskiedenis behoort nie ’n lat te wees nie; dit is ’n kompas. ’n Wetenskaplike dissipline wat vereis dat uiteenlopende bronne, sienings en ervarings sonder omhaal gedeel word.”

Hy sê die beplande gekarring aan die kurrikulum “is daar geen wenners nie, net verloorders”.

“Selektiwiteit stroop jongmense van die vermoë om krities te dink, self te beoordeel en die verweefdheid van die verlede te verstaan.

“Deur die truspieëltjie uit die motor te haal, of ’n gedeelte daarvan toe te plak, gaan jou nie vinniger óf by ’n ander bestemming uitbring nie. Ons moet onbelemmerd kan terugkyk om hoopvol vorentoe te kan bou. Dalk moet die minister net die tapisserie omdraai en nie probeer om die los drade aan die agterkant te ontknoop of herrangskik nie. Die voorkant vertel ’n veelkleurige, veelstemmige verhaal wat in sy volheid in handboeke hoort. Die lig- én skadukante,” sê Müller.

“Openbare deelname is nie ’n formaliteit nie – dit is die fondasie van demokrasie. Stilte vandag beteken dat ons môre geen seggenskap het oor wat ons kinders op skool leer nie. Ons durf nie swyg nie. Ons móét druk uitoefen, insette lewer en die gesprek oor geskiedenis terugbring na ’n plek van integriteit en respek,” sê hy.

Teken die petisie by fak.org.za/beskerm-ons-geskiedenis.

AfriForum moedig alle belanghebbendes aan om te reageer op die Departement van Basiese Onderwys se versoek vir kommentaar op die voorgestelde nuwe geskiedeniskurrikulum vir Grade 1 tot 12. Hierdie versoek het in die Staatskoerant van 20 Maart verskyn. Meer inligting oor die voorgestelde kurrikulum is op die webtuiste van die departement beskikbaar (www.education.gov.za) en die publiek het 30 dae tyd om hul kommentaar daarop in te dien.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button