Wêreldboekedag: Pretoria-oos digter se bundel wen letterkunde-prys
Die benoeming van Alwyn Roux se debuutbundel Weerskyn vir die Eugène Marais-prys vir 2026 plaas die fokus op ’n nuwe, introspektiewe stem in Afrikaanse poësie. Die bundel verken herinnering, verlies en identiteit met ’n sterk klem op taal as weerkaatsing van werklikheid en ervaring.
Digter Alwyn Roux van Pretoria-oos se bundel Weerskyn is as wenner van die Eugène Marais-prys vir 2026 saam met die bundel van Lynthia Julius, Kinderlê, aangewys wat hom vierkantig plaas onder die betekenisvolle stemme in Afrikaanse poësie.
Die kortlys, wat op 9 April aangekondig is, het reeds gesprekke in literêre kringe aangevuur, en Roux se insluiting word gesien as ’n aanduiding van die bundel se trefkrag. Die wenners is op 22 April aangekondig.
Die ander bundel wat na die onttrekking van prof. Jaco Barnard-Naude se bundel in aanmerking gekom het, was Prins deur Ryan Pedro (Kwela).
Toekennings en nominasies word deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns gemaak.
Roux is ’n medeprofessor in literatuurwetenskap en kreatiewe skryfkuns aan die Departement Afrikaans en Algemene Literatuurwetenskap by Unisa.
Die Eugène Marais-prys, wat toegeken word vir ’n eerste of vroeë publikasie, dra besondere gewig en dien dikwels as ’n platform waarvandaan digters hul loopbane verder vestig.
Teen hierdie agtergrond staan Weerskyn uit as ’n bundel wat persoonlike herinnering en taalbewerkings saamweef tot ’n geheel.
Die titel van die bundel dui reeds op die kern daarvan.
Roux verduidelik dat die woord ‘weerskyn’ gebruik word om “’n sekere gevoel vas te vang sodat die werklikheid weer skyn in die hede” en is sentraal tot die bundel se benadering.
Hy verwys na gedigte oor sy pa se werk as polisiekapelaan, waar doodsberigte oorgedra moes word, as ’n voorbeeld van hoe herinnering en taal mekaar ontmoet.
Vir Roux bly elke gedig uiteindelik “in die eerste plek ’n taalkonstruksie”.
Een van die sterkste temas in Weerskyn is juis die verhouding tussen vader en seun.
Roux beskryf dit as ’n deurlopende tema wat oorlogstrauma, die ideologiese las van apartheid en spanning tussen generasies insluit.
Hierdie persoonlike geskiedenis word verweef met ’n breër Suid-Afrikaanse konteks, wat volgens hom ‘’n onontkombare rol’ speel in sy werk.
“Alles wat geuiter word, kom voort uit die grond van ’n land met soveel kontraste.”
Roux erken dat sy eie lewenspad ’n belangrike bron vir sy poësie is.
“Gebeurtenisse in my eie lewe was voortdurend vir my ’n bron van inspirasie,” sê hy, maar voeg by dat dit nie net groot oomblikke is wat tel nie.
“As ’n mens innerlik ingestel is, is daardie innerlike belewenisse self ’n beweegrede.”
Hy beskryf homself as “besonder fyn ingestel op gevoel”, en sy gevoelslewe dien as ’n barometer vir sy skryfwerk.
Hierdie fokus op innerlike ervaring gee aan die bundel ’n selfondersoekende kwaliteit wat lesers maklik kan aanraak.

Alwyn Roux, digter Foto: Verskaf
Weerskyn wys ook die spore van Roux se ontwikkeling as digter.
Hy sê hy het “redelik rondgespring tussen style, toon en inhoud” voordat hy die bundel afgerond het.
Die gevolg is ’n versameling gedigte wat uiteenlopende invloede en fases van sy skryfloopbaan weerspieël.
“My bundel vervat steeds ’n wye verskeidenheid invalshoeke,” verduidelik hy.
Hy vergelyk poësie met “’n fotoalbum van indrukke oor jou gevoelslewe”.
Die ontstaan van sy gedigte verskil van geval tot geval. “Elke gedig het sy eie begin,” sê Roux.
Party spruit uit beelde, ander uit emosie, en nog ander uit die invloed van ander digters.
Hy werk met verskillende vorme, van haikoes tot sonnette, en sien hierdie eksperimente as deel van ’n proses om homself as digter beter te leer ken.
“As jy kan begin raaksien watter aspekte jou inspireer, dan word jy ’n ryk geskakeerde digter.”
’n Opvallende aspek van Roux se benadering is sy klem op stilte en dit wat nie gesê word nie.
“Stilte, leegte en dit wat nie gesê word nie, is van dié aspekte wat die meeste gewig dra in ’n gedig,” sê hy.

Vir hom gaan die gedig oor asemhaling en die ruimtes tussen woorde wat betekenis skep.
Hy beskou skryf nie as ’n kompetisie nie, maar as ’n persoonlike proses van groei en selfontdekking.
Oor uitdagings sê hy dat elke gedig sy eie eise stel. Tegniese oefeninge het hom gedwing om nuwe vaardighede aan te leer, terwyl persoonlike gedigte emosioneel veeleisend was.
Uiteindelik hoop Roux dat lesers iets van die tyd en geduld agter poësie sal raaksien.
“Gedigte meld hulself aan wanneer die tyd vir hulle reg is,” sê hy, en voeg by dat mens nie “’n groenperske ryp kan druk nie.”
Vir hom is skryf “’n manier van dink oor die wêreld sodat dit opnuut kan resoneer in die leser se leefwêreld”.
Met Weerskyn bied hy juis so ’n ruimte van refleksie, een waarin die verlede, die hede en die taal self mekaar voortdurend weerkaats.
- weerskyn deur Alwyn Roux is deur Protea Boekhuis in 2024 uitgegee. 96 pp. ISBN 9781485315438
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel
