MunicipalNews

Stadsrede: Moya verklaar ommeswaai, maar opposisie betwis finansiële en diensbewerings

Die burgemeester het ’n prentjie van herstel in die Tshwane metro geskets, maar kritici sê die werklikheid vertel ’n ander storie.

Die metro het die afgelope 18 maande daarop gefokus om die stad te stabiliseer en die grondslag vir volhoubare groei te lê.

So het Tshwane-burgemeester, dr. Nasiphi Moya, tydens haar tweede stadsrede by Unisa se Winnie Madikizela-Mandela-gebou op 16 April gesê.

Moya het aangedui dat die metro hul fokus verskuif van krisisbestuur tot langtermyn-heropbou en het verklaar dat die koalisieregering “beweeg weg van herstel tot hernuwing, van toewyding tot aksie, en om die inwoners eerste te stel”.

Sy het besin oor ’n administrasie wat te midde van finansiële spanning, institusionele onstabiliteit en afname in dienslewering aan bewind gekom het, en maak nou aanspraak op meetbare vordering regoor ses sleutelprioriteite.

Moya het gesê die koalisie het ’n opgeblaasde skuld van meer as R13-miljard, swak finansiële bestuur en opeenvolgende onderbefondsde begrotings van die DA-geleide koalisie geërf.

“Onder die huidige administrasie, het die metro sy eerste volledige befondsde begroting sedert 2021 gelewer, met kontantgerigte reserwes wat van R835-miljoen tot meer as R1.9-miljard gegroei het en wat na raming R2.86-miljard sal bereik,” het sy gesê.

Sy het gesê die stad het ook die skuld aan Eskom van meer as R6.6-miljard tot omtrent R4.7-miljard verminder, en terselfdertyd fakturering se akkuraatheid met 90% verbeter.

Moya het gesê die stad vermy verdere finansiële druk deur ’n terugbetalingsreëling met Eskom, deur miljoene in rente te spaar, en verwag om dit teen Maart volgende jaar te vereffen.

Sy het gesê die metro het begin om ’n dekade van ekonomiese afname om te swaai, met hernude beleggingsvertroue.

“Die stad het R86-miljard in beleggingsbeloftes verseker deur sy eerste beleggingsberaad, wat op sektore soos energie, infrastruktuur, motorvervaardiging en eiendomsontwikkeling gerig is.”

“Die stad beoog om die ekonomie tot 3.9% te groei en ten minste 80 000 werksgeleenthede teen 2029 te skep, wat ondersteun word deur inisiatiewe soos die Catalytic Investment Unit en InvestSA One Stop Shop.”

Moya het benadruk dat infrastruktuurbeleggings sentraal staan in die heropbou van die stad.

“Die kapitaalbegroting het van R2.8-miljard tot R3.5-miljard toegeneem, met ’n fokus op elektrisiteit, water en paaie.”

Sy het ontken dat die stad ’n waterkrisis ervaar en sê daar is geen watertekort nie, maar eerder verliese weens verouderde infrastruktuur, waterdiefstal en lekkasies.

“’n Waterstabiliseringsplan is geloods om dit aan te spreek, saam met bywerkings van reservoirs en pyplyne. Rakende elektrisiteit, takel die stad ’n verouderde netwerk, met meer as die helfte van die transformators wat ouer as 40 jaar is. Sleutelsubstasies soos Kwagga, Njala en Rosslyn word gestabiliseer.”

Sy het onthul dat kabeldiefstal die stad meer as R169-miljoen gekos het sedert 2021, wat ’n groot uitdaging bly.

Moya het gesê die stad hervat stilstaande padprojekte en die opskaal van nuwe ontwikkelings om bevolkingsgroei en ekonomiese aktiwiteit te ondersteun.

Sy het sê die Paaie en Vervoerdepartement, onder leiding van burgemeesterskomiteelid, Tlangi Mogale, het meer as 220km paaie regoor Pretoria opgeknap.

Burgemeesterskomiteelid Frans Boshielo, adjunkburgemeester en burgemeesterskomiteelid Eugene Modise, burgemeesterskomiteelid Tlangi Mogale en burgemeester dr. Nasiphi Moya.

Sy het ook genoem dat die metro die sinkgatherstelprogram in Centurion uitgebrei het.

Volgens haar word openbare vervoer ook opgeknap deur die A Re Yeng Bus Rapid Transit (BRT)-netwerk.

“Lyn 2C langs Lynnwoodweg is amper voltooi, met toegewyde bane, sypaadjies en fietsroetes. Lyn 3, wat die Pretoria se middestad met Atteridgeville verbind, is omtrent 85% voltooi. Integrasie met taxi-operateurs is geformaliseer deur ooreenkomste om betroubaarheid en toeganklikheid te verbeter.”

Sy het sê dat intermodale vervoersentrums vorder ook, insluitend die Denneboom Intermodale Fasiliteit in Mamelodi, wat spoorweë, bus- en taxi-dienste koppel; en die amper-voltooide Wonderboom Intermodale Fasiliteit.

“Wonderboom Nasionale Lughawe word herposisioneer as ’n logistieke toerisme- en streekslugvaartsentrum, met roetes wat alreeds met Durban en Kaapstad verbind is, en planne vir uitgebreide belegging deur middel van ’n distriksontwikkelingstrategie.”

Moya het gesê dat die stad die formalisering van informele nedersettings versnel om toegang tot behuising te verbeter. “Meer as 3 800 huishoudings is reeds na gediensde erwe hervestig, terwyl nagenoeg 7 000 erwe beplan word.”

Meer as 500 informele nedersettings is geïdentifiseer, met ’n nuwe beleid wat hulle kategoriseer vir ontwikkeling, opgradering of hervestiging.

Sy het erkern dat vertragings in hervestiging kostes opjaag, aangesien die stad basiese dienste aan meer as 300 000 huishoudings verskaf.

Sy het gesê onder die burgemeersterskomiteelid vir Gemeenskapsveiligheid, raadsheer Hannes Coetzee, het die stad sy wetstoepassers deur veelparty-bedrywighede verskerp.

“Meer as 400 besighede is al ondersoek met nutdiensontkoppelings, sluiting van onwettige bedrywighede en handhawing teen verordeningsoortredings.”

Sy het bygevoeg dat meer as 19 000 ton onwettige storting opgeruim is, terwyl reaksietye van 72 tot 48 uur verbeter het.

Moya het die uitbreiding van behoeftigesondersteuning geprys, wat die drempel van eiendomswaarde tot R250 000 opgestoot het.

“Dit verskaf aan kwalifiserende huishoudings gratis basiese dienste, insluitend water, elektrisiteit en sanitasie.”

Sy het gesê deur die Gemeenskaps- en Sosiale Dienste Portefeulje, onder leiding van burgemeesterskomiteelid Palesa Modise, is meer as 2 000 huishoudings deur voedselhulpprogramme ondersteun, terwyl meer as 9 000 werksgeleenthede deur openbare indiensnemingsinisiatiewe geskep is.

Toegang tot gesondheidsorg het, volgens haar, ook verbeter met verlengde kliniekure en hoë tevredenheidsyfers onder pasiënte. Dit is weens die leierskap van burgemeesterskomiteelid Tshegofatso Mashabela.

Moya het vorige bestuursmislukkings erken, insluitend nadelige en gekwalifiseerde ouditresultate, maar sê dat ‘n vordering gemaak word.

“Kwalifikasie-gebiede is verminder, ondersoeke na onreëlmatige besteding duur voort, en dissiplinêre en strafregtelike maatreëls is getref.”

Sy het gesê dat meer as 2 300 personeel-aanstellings is gemaak om die interne kapasiteit te versterk, saam met pogings om afhanklikheid van buite-kontrakteurs te verminder.

Moya het afgesluit dat die stad besig is om van stabilisering tot volhoubare vordering oor te skakel.

“Ons het gestabiliseer waar daar onsekerheid was. Ons het herstel waar stelsels verswak het. En ons lê die fondasie vir ’n stad wat nie net in teorie nie, maar ook in die daaglikse lewens van ons inwoners werk,” het sy gesê.

Adjunkburgemeester en burgemeesterskomiteelid vir Finansies, Eugene Modise, het gesê die nuwe administrasie was genoop om dringend in die metro se finansiële krisis in te gryp. Hy het onthul dat binne die eerste week moes hulle dringend met Eskom in gesprek tree om te verhoed dat die stad se rekeninge geanker word.

“Die munisipaliteit was in chaos toe ons oorgeneem het,” het Modise gesê.

Hy het verduidelik dat die metro se skuld aan Eskom tot meer as R6.6-miljard gestyg het, wat die stad in gevaar gestel het vir erge finansiële gevolge, insluitend regsaksie.

Modise het gesê dat die stad ’n betalingsooreenkoms met Eskom onderhandel het, wat ’n hof-ondersteunde ooreenkoms insluit wat tot Maart 2027 geldig is.

Hy het gesê die verbetering van interne sisteme was ook die sleutel tot die stabilisering van finansies.

“Ons sit nou op ongeveer 90% rekening-akkuraatheid, wat van kritieke belang is om vertroue te herbou om inkomsteinvordering te verseker,” het hy gesê.

Modise het verder beklemtoon hoe belangrik dit is om ’n kultuur van betaling onder inwoners te herstel.

“Ons moet ’n kultuur van betaal bemoedig. Ons moet wegbeweeg van die kultuur om geskiedkundige skuld te skrap – as jy kan bekostig om te betaal, moet jy betaal,” het hy gesê.

Burgemeesterskomiteelid vir Menslike Nedersittings, raadsheer Aaron Maluleka, het gesê die metro het ’n gestruktureerde plan ontwikkel om die vinnige toename van informele nedersettings aan te spreek deur ’n kombinasie van hervestiging, opgradering en formalisering.

Maluleka het na Plastic View verwys en gesê die metro het reeds stappe geneem om grond vir behoorlike behuisingsontwikkeling te verseker.

“Die stad het aan die Gautengse Provinsiale Regering geskryf met die versoek dat grond by Pretorius Park Uitbreiding 41 aangekoop word. Ons het reeds Uitbreiding 40 tot ons beskikking, en die bedoeling is om hierdie grond te gebruik vir behoorlike behuising vir Plastic View se inwoners wat as Suid-Afrikaanse begunstigdes kwalifiseer.”

Maluleka het gesê die huidige situasie in baie informele nedersettings is die gevolg van jare se onbeheerde uitbreiding onder die vorige administrasie.

“Die DA-geleide koalisie het toegelaat dat informele nedersettings buite perke gegroei het sedert hulle in 2021 aan bewind gekom het. Hierdie nedersettings is toegelaat om onwettig tot water en elektrisiteit te verbind, wat erge druk op infrastruktuur plaas en die stad se inkomste negatief beïnvloed,” het hy gesê.

Hy het bygevoeg dat die stad nou na toepassing beweeg, met planne om die geïdentifiseerde grond in die komende boekjaar te begin onderhou.

“Die stad sal grondbeplanningsprosesse indien en begin met die installering van grootmaat infrastruktuur, insluitend water en sanitasie. Daarna sal die Gautengse Provinsiale Regering die konstruksie van topstrukture oorneem,” het Maluleka gesê.

Hy het gesê hierdie benadering beoog om orde te herstel, waardige lewensomstandighede te verbeter en die langtermyn finansiële en infrastruktuurdruk wat deur onbeplande nedersettings veroorsaak word, te verminder.

Die opposisie het foutgevind met die burgemeester se stadsrede.

Die DA Tshwanae koukusleier, raadsheer Cilliers Brink, het Moya daarvan beskuldig dat sy ernstige regeringsmislukkings ignoreer, veral rondom watertoevoer en beweerde korrupsie rakende watertenkwaenskontrakte.

Brink het gesê Moya se bewering dat Pretoria nie ’n waterkrisis in die gesig staar nie, weerspreek die werklikheid waarin inwoners hul tans bevind, en het stygende waterverliese en verslegtende onderbrekings regoor die stad, veral in Hammanskraal, uitgelig.

Hy het die stad se toenemende besteding aan watertenkwaens gekritiseer en aangevoer dat fondse eerder aangewend moet word vir opgradering van infrastruktuur om ’n betroubare watertoevoer te verseker.

Brink het ook kommer uitgespreek oor die stad se finansiële posisie, met verwysing na die afname in inkomsteinvordering, en het die geloofwaardigheid van die ‘befondsde begroting’ bevraagteken.

“Die realilteit is dat dienslewering is besig om te verval terwyl inwoners sonder konsekwente toegang tot water en elektrisiteit sit,” het hy gesê.

Hy het verder gewaarsku dat voortdurende kragonstabiliteit sleutel- industriële areas beïnvloed, soos Silverton en Waltloo, en verdere druk plaas op besighede en die plaaslike ekonomie.

Brink het gesê die administrasie het daarin gefaal om duidelike leierskap en deursigtigheid by kritieke projekte te bied, insluitend die lang-uitgestelde Hammanskraal wateringryping.

Vryheidsfrontplus se Tshwane-koukusleier, Grandi Theunissen, het Moya gekritiseer omdat sy die stadsrede by Unisa aangebied het en dit ’n onnodige vertoon van glans te midde van die stad se finansiële verknorsing genoem.

Theunissen het gesê dat die metro, wat hy as ‘tegnies bankrot’ beskryf, nie besteding op byeenkomste kan regverdig wat nie tot dienslewering bydra nie, en het bygevoeg dat dit verdere druk op reeds oorbelaste belastingbetalers plaas.

Hy het Moya se bewerings verwerp dat die stad besig is om te verbeter, en aangevoer dat dienslewering swak bly en die deurlopende wateruitdagings in Hammanskraal uitgewys.

Theunissen het ook die geloofwaardigheid van die stad se finansiële posisie bevraagteken en gesê die gerapporteerde befondsde begroting en surplus nie die werklikheid weerspieël nie. Hy het verwys na bekommernisse wat deur die Ouditeur-Generaal geopper is, insluitend ’n laer inkomsteinvorderingskoers en uitstaande krediteure wat R5-miljard oorskry.

“Die sogenaamde surplus is ’n syfer op papier wat nie die werklike kontantvloei verteenwoordig nie,” het hy gesê.

Hy het gesê die stad se lae kontantdekking beteken dit sal net vir ’n paar dae sonder inkomste kan funksioneer.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button