News

Hof beveel herstel van krag by skole na belastingdispuut

’n Dringende hofbevel dwing die metro om elektrisiteit by verskeie skole te herstel nadat krag weens agterstallige eiendomsbelasting afgesny is. AfriForum en Laerskool Wierdapark het die aansoek gebring en waarsku dat leerders se onderrig, veiligheid en voedingskemas ernstig geraak is deur die onregverdige optrede van owerhede.

AfriForum en Laerskool Wierdapark het op 5 Mei ’n hofbevel verwelkom wat die onmiddellike herstel van elektrisiteit by verskeie skole in Pretoria en Centurion gelas het.

Dit is nadat dié instellings weens agterstallige eiendomsbelasting deur die metro van krag ontneem is.

Die saak is op 5 Mei in die Gauteng Hooggeregshof aangehoor deur regter Mabaeng Lenyai. AfriForum en Laerskool Wierdapark was die eerste respondente, terwyl die metro as tweede respondent en die LUR’e vir Onderwys en vir Samewerkende Regering en Tradisionele Sake as derde respondente opgetree het. Die regspan van Hurter en Spies het vir AfriForum en die skool verskyn.

Die dringende aansoek is gebring nadat dit duidelik geword het dat verskeie skole die afgelope twee weke sonder krag gelaat is, met ernstige gevolge vir onderrig en basiese dienslewering.

Volgens AfriForum is skole se elektrisiteits- en waterrekeninge ten volle betaal en in sommige gevalle selfs vooruit vereffen.

Die dispuut spruit uit eiendomsbelasting wat deur provinsiale owerhede betaal moet word, maar wat na bewering agterstallig is.

Alana Bailey, hoof van Kultuursake by AfriForum, sê die optrede teen skole is onregverdig en straf leerders en personeel vir administratiewe versuim buite hul beheer.

“Dit is onregverdig dat leerders en personeel se regte tot gehalte-onderrig, veiligheid en selfs die voorsiening in hul basiese behoeftes geskend word weens die owerhede se wanadministrasie,” verduidelik Bailey.

Sy verduidelik dat die impak van kragonderbrekings onmiddellik en verreikend vir skole was.

By die skole wat geraak is, kon onderrig nie soos normaalweg plaasvind nie. Digitale leerplatforms, administratiewe stelsels en klaskamertegnologie is alles afhanklik van elektrisiteit, en sonder dit word die daaglikse funksionering van ’n skool ernstig belemmer.

Veiligheid was, volgens Bailey, ’n verdere kritieke bekommernis.

Stelsels wat veiligheid op die perseel moet beskerm, was buite werking.

“Sonder alarms, kameras en beheerstelsels word skole kwesbaar vir misdaad en vandalisme, ’n risiko wat reeds in baie gemeenskappe ’n werklikheid is.”

Die gevolge raak ook leerders se welstand. Voedingskemas wat warm etes aan die mees kwesbare kinders moet voorsien, kon nie voortgaan nie, terwyl voorrade in yskaste bederf het. Hierdie situasie het veral kinders geraak wat op skoolmaaltye staatmaak as hul primêre bron van voeding.

Die hofbevel het gelas dat die koste van die saak deur die metro en provinsiale regering gedra moet word en dat skole ook vergoed moet word vir enige skade wat uit die onwettige beëindiging van krag gespruit het.

AfriForum het reeds in 2009 ’n soortgelyke saak teen die metro gewen, en was die organisasie dus voorbereid om weer op te tree om skole se toegang tot dienste waarvoor hulle betaal, te beskerm.

Die huidige hofbevel bevestig volgens haar weer die onwettige aard van die metro se optrede.

Sy sê AfriForum is dankbaar vir die spoedige verligting wat die hofbevel aan die benadeelde skole bied. Die organisasie vertrou dat die metro in die toekoms met die betrokke owerhede sal oorleg pleeg in plaas daarvan om skole aanspreeklik te probeer hou vir skulde waarvoor hulle nie verantwoordelik is nie.

“Nie alleen het dit onskuldiges gestraf nie, maar benadeel dit leerders se reg tot gehalte-onderrig en veiligheid, wat totaal onaanvaarbaar is,” sê Bailey.

Die hofbevel bring onmiddellike verligting vir die betrokke skole, maar die onderliggende probleem bly volgens waarnemers soos Bailey onopgelos.

Volgens haar moet die kwessie van agterstallige eiendomsbelasting en die rolverdeling tussen owerhede verdere aandag geniet om volhoubare oplossings te verseker.

LEES: Hofaksie dreig teen metro oor sny van krag by skole

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button