Geheime bestanddele dalk die deurslag by Moot-potjiedag
Van saffraan in seekospotjies tot Worcestersous, knoffel en gerookte paprika in tradisionele vleispotte: die Moot se potjiekoskenners weet hoe om van ’n potjie ’n wenner te maak.
Die geur van houtrook, pruttende knoffelsous en varsgebakte roosterkoek gaan op 6 Junie weer deur die Moot trek wanneer YANA Huis sy jaarlikse potjiekoskompetisie by Toutrekpark aanbied.
Dis nie net ’n dag vir lekker eet en kuier nie, maar ook ’n fondsinsameling vir ’n organisasie wat daagliks ’n verskil maak in mense se lewens.
YANA Huis bestaan uit vyf huise in Rietfontein waar 53 volwassenes met skisofrenie versorg word. Die organisasie bied ’n psigo-sosiale program wat inwoners help om hul funksionering en lewenskwaliteit te verbeter en te behou, terwyl gemeenskapsintegrasie aangemoedig word.
Maar vir een dag word die fokus van medikasie, programme en roetines na gietysterpotte, kampstoele en geheime resepte verskuif.
En volgens die bekende TV-kok en beoordelaar, Willie Strauss, gaan dit oor veel meer as net kos.
Strauss, wat ook eienaar is van Die Sinkhuis-restaurant in Cullinan, sê die gees rondom ’n potjie tel swaar wanneer hy beoordeel.
Hy vertel dat hy ook altyd eerste kyk of die pot nie onder gebrand het nie en of die bestanddele nog mooi in lae lê.
Vir hom moet ’n potjie nie soos sop lyk nie. Die bestanddele moet nog apart uitgeskep kan word al het alles saam geprut.
Strauss sê hy het al potte met hope bestanddele geproe wat glad nie werk nie, en dan weer eenvoudige potte wat net die perfekte geur het.
Hy hou veral van ’n goeie beesstertpotjie en glo knoffel hoort byna altyd in die pot.
Maar uiteindelik, sê hy, “bly spangees en lekker geselskap die belangrikste bestanddele van enige suksesvolle potjie”.
Nog ’n deelnemer wat die dag gaan ondersteun is Wayne Helfrich, DA-raadslid. Hoewel hy self laggend erken dat potjiekos nie juis deel van sy Engelse grootwordjare was nie, sê hy die kuier rondom die vuur is vir hom die beste deel van die hele ervaring.
Hy vertel dat die DA-span self ’n pot gaan inskryf om YANA te ondersteun.
Vir bekende uitgewer en kunstenaar van die moot, Hetta Pieterse, is ’n seekospotjie die ideale antwoord vir mense wat nie ure voor ’n vuur wil deurbring nie.
Sy vertel dat haar skoolvriend, Koos Meyburgh, haar aan die kuns van ’n vinnige maar geurige seekospotjie bekend gestel het.
Sampioene, seekosmengsel, knoffel en ui vorm die basis van haar droompot, met ’n klein bietjie saffraan as geheime bestanddeel vir ekstra geur.
Alles word stadig in room gaar gekook totdat die sous ryk en romerig is. Pieterse sê sy het self gesien hoe Meyburgh die gereg vir skoolreünies voorberei het en dat dit elke keer ’n treffer was.

Sakeman, skrywer en entrepreneur, Marius Adams, glo weer ’n goeie potjie kan nooit gejaag word nie.
Volgens hom is ’n biltongpotjie met room, kaas, knoffel en sampioene moeilik om te klop.
Hy sê, “Mense vergeet dikwels dat potjiekos eintlik tyd nodig het om geure te ontwikkel”.
Sy geheime bestanddeel vir ’n gewone vleispotjie is ’n skeut Worcestersous saam met gerookte paprika en knoffel. Dit gee, volgens hom, “ekstra diepte aan die sous”.
Maar hy beklemtoon dat selfs die beste resep nutteloos is sonder laggende vriende rondom die vuur. Vir hom gaan potjiekos net soveel oor mense as oor kos.

Nog ’n potjie-entoesias en voorsitter van die Villieria GPF, Susan Andrews, gaan dit ook oor die meer tegniese kant van potjiekook.
Sy sê die vleis moet eers mooi bruin gebraai word voordat dit stadig prut met net genoeg vloeistof. Daarna kom die groente in lae, met dié wat die langste neem om gaar te word onder en die sagter groente bo.
Sy hou glad nie daarvan wanneer mense heeltyd in die pot roer nie, want dan verloor die gereg sy kenmerkende lae.
Volgens haar gebruik haar man selfs foelie in die pot om die hitte mooi te versprei. Wanneer die pot uiteindelik oopgemaak word, moet elke soort groente nog herkenbaar wees en maklik apart uitgeskep kan word.
Die kompetisie beloof om veel meer as net ’n eetgeleentheid te wees. Daar gaan koffie, vetkoekies, pannekoek, fudge en lekkers verkoop word, terwyl YANA-inwoners se handgemaakte produkte ook beskikbaar gaan wees. Kinders kan hulself op ’n springkasteel geniet, en plaaslike kunstenaar Duane Lightfoot gaan as seremoniemeester optree. Vermaak word verder verskaf deur Zella Shy en Jaco Swanepoel.

Strauss gaan saam met sjef Andries Vermeulen en oudwenner Mike Holtzhauzen die potte beoordeel. Die topdrie potjies wen geskenkpakke, geskenkbewyse en pryse, asook die gesogte wisseltrofee.
Die potjiebrouers begin reeds vanaf 07:00 vuur maak en voorberei. Die terrein open om 09:00 vir die publiek. Beoordeling begin om 11:30, waarna die publiek van 12:30 af borde potjiekos teen R60 per bord kan koop uit die pot van hul keuse. Die wenners word om 13:30 aangekondig.
Die geleentheid vind plaas by Toutrekpark se Bootcamp-huisie op die hoek van Nico Smitlaan en 14de Laan in die Moot. Vir meer inligting of om jou pot in te skryf, kontak Linda by linda@yana1.co.za.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel
