Pretoria gesin verhuis ná traumatiese aanval: ‘Iets binne jou verander permanent’
’n Pretoria-gesin wat ná ’n brutale aanval op hul seun Amerika toe verhuis het, sê hul besluit was oor hul kinders se veiligheid en toekoms.
’n Pretoria-gesin wat ná ’n traumatiese aanval op hul seun besluit het om ’n nuwe lewe in Amerika te begin, sê die ervaring het hul gevoel van veiligheid permanent verander.
Die gesin, wat nou in Colorado woon as deel van die Amerikaanse refugee-program vir wit Suid-Afrikaners, vertel die aanval op hul seun, Luann, was die keerpunt wat hulle laat besef het dat dinge nooit weer heeltemal dieselfde sou wees nie.
Volgens berigte oorweeg die Amerikaanse regering glo tans om die jaarlikse vlugtelingkwota vir wit Suid-Afrikaners verder uit te brei.
“Na die aanval was daar konstant vrees — vrees wanneer die kinders uitgaan, vrees wanneer iemand aan die deur klop, vrees oor die eenvoudigste dinge wat voorheen normaal gevoel het,” het Marisa Combrinck gesê.
Hoewel Luann steeds fisiese en emosionele letsels dra, sê sy hy wys elke dag ongelooflike deursettingsvermoë.
“Hy probeer weer sy normale dinge doen, lag weer meer en begin stadigaan weer sy selfvertroue terugkry.”
Die ma beskryf die maande ná die aanval as een van die moeilikste tye van hul lewens.
“Om jou kind so seer en weerloos te sien, en te weet jy kan nie die pyn, vrees en trauma van hom wegneem nie, breek iets binne-in ’n mens.”
Luann het verlede jaar ná skool by die huis aangekom soos oudergewoonte en het rowers betrap wat besig was om die huis te plunder. Hy is glo van agter oorval en met ’n skerp voorwerp, vermoedelik ’n tuingraaf, oor die kop geslaan voordat hy vir dood agtergelaat is.


Lees ook: “Hulle het my kind vir dood gelos” – Ma ná grusame huisaanval
Sy sê daar was nie een spesifieke oomblik wat hul besluit bepaal het nie, maar eerder die tydperk ná die aanval toe die realiteit begin insink het.
“Ons het begin besef hoe diep dit ons gevoel van veiligheid en vertroue geraak het. Dinge wat voorheen normaal was, soos om sonder bekommernis aan die alledaagse lewe te gaan, het skielik anders gevoel.”
Volgens haar het die gesin stadigaan besef die ervaring gaan hul lewenspad permanent verander.
“Daardie besef het stadig maar seker ingesak: dat ons as gesin nie net deur ’n gebeurtenis gegaan het nie, maar dat dit ons besluite vorentoe fundamenteel verander het.”
Sy beklemtoon egter dat die besluit om Suid-Afrika te verlaat nie maklik was nie.
“Suid-Afrika is ons huis. Dit is waar ons grootgeword het, waar ons herinneringe lê en waar baie van die mense is vir wie ons lief is.”
Die gesin het Suid-Afrika op Mei 11, verlaat om hul nuwe lewe in Amerika te begin.
“Dit was ’n dag vol emosies — afskeid, onsekerheid, maar ook hoop vir wat voorlê.”
Hulle woon nou naby die Rocky Mountains in Colorado, waar hulle reeds begin het om hul nuwe lewe te vestig deur dokumentasie, bankrekeninge en huisvesting in plek te kry.
Die ma sê hul grootste hoop is om vir hul kinders ’n lewe sonder konstante vrees te gee.
“Dit gaan nie vir ons oor gemak nie, maar oor ’n lewe waar hulle sonder konstante vrees kan grootword en net kind kan wees.”
Read the English version here.
Luann ervaar steeds trauma en vrese ná die aanval, maar sy ouers sien hoe nuwe ervarings en aktiwiteite hom help om stadig weer aan te pas.
“Hy geniet dit om vis te vang, golf te speel en selfs discgolf te ontdek. Dit help hom om weer selfvertroue en rustigheid op te bou.”
Die gesin sê hulle hoop mense sal verstaan dat hul besluit nie uit impuls geneem is nie.
“Dit was nie ’n besluit wat uit gemak of impuls gemaak is nie, maar uit ’n lang proses van besinning, gebed en die realiteit van ons omstandighede.
“Ons hoop ook dat mense sal besef dat elke gesin se storie anders is. Vir ons het dit gegaan oor ons kinders se veiligheid, hul emosionele welstand en die behoefte om weer ’n gevoel van stabiliteit en hoop te vind.
“Uiteindelik vra ons net begrip — dat mense sal sien dit was ’n ouerbesluit, geneem met liefde en verantwoordelikheid vir ons gesin se toekoms.”
Lees ook: Metro vat Kleinfontein hof toe oor ‘ongeldige’ soneringsaansoek
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.
