News

Tolhekpetisie op pad na parlementêre vervoerkomitee

Inwoners van die Moot en Pretoria-Noord hoop op antwoorde nadat ’n petisie oor omstrede tolhekke op 21 Mei aan die parlementêre portefeuljekomitee vir Vervoer voorgelê sal word. Gemeenskappe sê hulle sukkel al jare met hoë pendelkoste, stygende brandstofpryse en ’n gebrek aan werklike verligting ondanks herhaalde beloftes en gesprekke met owerhede.

Na meer as twee dekades nadat tolhekke op hoofroetes noord van Pretoria ingestel is, kom die kwessie nou weer onder die vergrootglas.

DA-parlementslid Adrian Roos gaan op Donderdag ’n petisie aan die parlementêre portefeuljekomitee vir Vervoer voorlê.

Die petisie fokus op die finansiële druk wat inwoners van die Moot en Pretoria-Noord ervaar wanneer hulle daagliks deur die Stormvoël-, Sefako Makgatho- en Doornpoort-tolplazas moet ry om by die werk en ander verplitinge uit te kom.

Roos, wat in Waverley woon wanneer hy nie vir parlementêre sittings in Kaapstad is nie, sê hy ervaar self die ongerief van die tolhekke en die toestand van die roetes rondom die plazas.

Volgens hom is een van die grootste bekommernisse ook die sigbare agteruitgang van instandhouding langs die hoofroetes wat deur Bakwena, ’n konsessionaris van die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskp (Sanral), gedoen moet word.

Roos het aan Rekord gesê hy het die afgelope weke met verskeie DA-raadslede in die Moot en Pretoria-Noord vergader om die petisie saam te stel en vrae voor te berei wat tydens die portefeuljekomitee se sitting geopper kan word.

Die petisie volg nadat inwoners reeds vir jare vra vir verligting van die tolfooie wat, volgens baie gesinne, ’n groot finansiële las geword het.

Met brandstofpryse wat aanhou styg en tolverhogings wat op 1 Maart vanjaar weer ingestel is, sê talle inwoners hulle huishoudelike begrotings raak al moeiliker om te bestuur.

Inwoners van Pretoria-Noord en die Moot sê die daaglikse koste van tolhekke plaas al groter druk op huishoudelike begrotings. Met brandstofpryse en lewenskoste wat aanhou styg, hoop gemeenskappe dat die jongste petisie aan die parlementêre vervoerkomitee uiteindelik tot betekenisvolle verligting vir gereelde pendelaars sal lei. Foto: Elize Parker

Vir sommige inwoners beteken dit daaglikse tolfooie vir meer as een voertuig in dieselfde huishouding.

Gemeenskapsverteenwoordiger Lydia Raath, wat saam met ander inwoners teen die drie tolhekke veg, sê die gemeenskap het oor baie jare reeds talle beloftes gehoor sonder konkrete oplossings.

“Ons stap al so ’n lang pad met soveel beloftes waarvan daar min gekom het, dat ek en die gemeenskap baie onseker oor die ondertekening van petisies voel. Ons vul dit in en daarna hoor ons niks terug nie,” sê Raath.

Sy sê inwoners hoop egter steeds dat die jongste petisie uiteindelik tot daadwerklike optrede kan lei.

“Ons hoop dat hier nou iets sal gebeur. Mense sukkel al lank hiermee en as ons kyk na petrol wat opgaan, kan mense nie meer byhou nie. Dit raak onbekostigbaar vir ons,” sê sy.

Raath sê inwoners voel gefrustreerd omdat hulle reeds belasting betaal en steeds ekstra moet opdok om by hul werk uit te kom.

“Ons is ook belastingbetalers in die metro en ons hoop is nie meer groot wanneer daar van petisies gepraat word nie. Ons hoop Adrian Roos kan nou suksesvol wees,” sê Raath.

Sy sê sy is moedeloos met die argelose manier wat Sanral en Bakwena hulle as inwoners behandel.

“Dis nou al 14 maande van leë beloftes van Sanral en Bakwena,” sê Raath.

Sy verduidelik vergaderings is gehou, dokumente is formeel ingedien en versekering is gegee dat moontlike oplossings ondersoek sou word. Ondanks talle opvolgversoeke en voortgesette kommunikasie is geen duidelike uitkoms of formele oplossing aan inwoners deur Sanral of Bakwena gekommunikeer nie.

Die gebrek aan deursigtigheid en die langdurige vertragings in die hantering van hierdie kwessie het toenemende frustrasie binne die gemeenskap veroorsaak. Baie gesinne betaal daagliks tolfooie vir meer as een voertuig, wat verdere druk plaas op reeds gespanne huishoudelike begrotings en die plaaslike ekonomie negatief beïnvloed.

Inwoners voel hulle word onregverdig benadeel in vergelyking met ander gemeenskappe in Pretoria en doen ’n beroep op betekenisvolle ingryping, deursigtige kommunikasie en die oorweging van praktiese verligtingsmaatreëls.

“Ons wil gehoor word en aandag moet aan ons versoeke gegee word. Ons wil veral terugvoer kry,” sê Raath.

Volgens Sanral-woordvoerder, Lwando Mahlasela, is die Bakwena-roete deel van ’n openbare-private vennootskap met kontraktuele verpligtinge wat tot 2031 geld.

Hy verduidelik dat die konsessie-ooreenkoms oor ’n tydperk van 30 jaar strek en nie sonder groot regs- en finansiële implikasies beëindig kan word nie.

Inwoners van Pretoria-Noord en die Moot sê die daaglikse koste van tolhekke plaas al groter druk op huishoudelike begrotings. Foto: Elize Parker

Sanral sê die situasie rondom die Bakwena-tolroete verskil van die voormalige Gautengse e-tolstelsel.

Hoewel dit erken dat inwoners ongelukkig voel oor die huidige stelsel, sê die agentskap sekere besluite oor afslag vir plaaslike gebruikers lê by Bakwena self.

“In terme van die konsessie-ooreenkoms val besluite rakende afslag vir gereelde plaaslike gebruikers binne die kontraktuele verantwoordelikheid van die konsessionaris, Bakwena,” sê Mahlasela.

Hy bevestig dat Sanral wel met Bakwena in gesprek is oor moontlike oplossings.

“Sanral kan egter nie eensydig opdrag gee vir die implementering van ’n afslag buite die konsessieraamwerk nie, aangesien dit regs- en finansiële gevolge vir die konsessie kan hê,” sê hy.

Volgens Mahlasela word die saak tans deur bestaande kontraktuele meganismes hanteer, insluitend regsadvies en verdere prosesstappe indien nodig.

Die padagentskap sê verder dat jaarlikse tolverhogings word volgens die verbruikersprysindeks aangepas soos bepaal in die Sanral-wet en die konsessieooreenkoms.

Oor inwoners se klagtes dat hulle dubbel betaal deur beide brandstofheffings en tolfooie, sê Sanral die tolstelsel is gebaseer op die ‘gebruiker-betaal’-beginsel.

“Die gebruiker-betaal-beginsel is vasgelê in die Sanral-wet en word as die mees billike oplossing beskou,” sê Mahlasela.

LEES MEER: Pretoria-oos teater vier 15 jaar glansryk

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button