News

Ou Raadsaal-klokke beier weer na 30 jaar klokslag oor Kerkplein

Ná dekades se stilte is die ikoniese Ou Raadsaal-klok op Kerkplein in Pretoria weer herstel. ’n Pa en seun werk al meer as agt maande aan die geskiedkundige horlosie. Erfenisbewustes hoop die projek sal toerisme, geskiedenisbewaring en nuwe lewe na Pretoria se middestad toe bring.

Die ikoniese horlosie van die Ou Raadsaal op Kerkplein in Pretoria se klokke slaan weer ná dekades se stilte en word weer oor die Plein gehoor nadat ’n restourasieprojek deur die Pretoria Erfeniskomitee van stapel gestuur is.

Die projek, wat reeds langer as agt maande duur, word deur die Erfeniskomitee befonds en deur die horlosiehersteller, Louis Nel en sy seun, Ruan, uitgevoer.

Vir Sakkie du Plooy, voorsitter van die Erfeniskomitee, is die herstel van die bekende horlosie en die gebeier van die klokke, die verwesenliking van ’n droom wat jare lank gekoester word.

“Ons wil graag Kerkplein weer laat herleef en om die horlosie weer te kry om te werk en met die klokke die tyd aan te kondig, was deel van die droom. Ek het amper al vir mense gesê as die horlosie weer tyd hou en die klokke slaan, kan ek maar gaan. Só groot was my hartsbegeerte om dit weer aan die gang te kry,” vertel hy.

Volgens Du Plooy is die projek deel van ’n groter poging om toerisme terug te bring na Pretoria se geskiedkundige middestad.

“Ons wil hê toeriste moet terugkom na die middestad. Die toerbusse kom nie meer soos vroeër na die Plein nie. Hulle ry dikwels deur Pretoria en om die Plein sonder om uit te klim, en dan deur na Johannesburg. Ons is die hoofstad van die land en Kerkplein behoort een van die belangrikste toeristebestemmings in die land te wees.”

Die kloktoring van die Ou Raadsaal op Kerkplein huisves die meer as 130 jaar oue meganiese horlosie en vier historiese klokke. Ná maande se herstelwerk lui die klokke weer oor Pretoria se middestad en herinner die gebeier inwoners aan die stad se ryk geskiedenis. Foto: Elize Parker

Hy sê die stilte van die Ou Raadsaalklokke op Kerkplein is simbolies van die uitdagings wat die gebied oor die jare ervaar het.

“Die Ou Raadsaalhorlosie en -klokke was vir 30 jaar stil. Die naaste klok wat nog gelui het, was by Oom Paul Kruger se kerk. Die Stadsaal se klokke lui ook nie. Die hele omgewing kan hierdeur weer lewe kry.”

Die historiese kerk wat met oudpresident Paul Kruger verbind word, is die Gereformeerde Kerk Pretoria, wat op die hoek van Kerk-en Potgieterstrate in Pretoria-Wes geleë is.

Du Plooy sê die Erfeniskomitee het reeds ’n jaar gelede begin fondse insamel om die restourasie van die horlosie en klokke moontlik te maak.

“Ons het reeds twee donasies ontvang wat ons gehelp het om die herstelwerk aan die gang te kry. Ons probeer die projek bestuurbaar maak en wil graag sien dat dit rondom Paul Kruger se verjaardag op 10 Oktober voltooi kan word.”

Hy moedig inwoners en ondernemings aan om by te dra. “As mense wil bydra, sal dit help om die projek oor die wenstreep te kry.”

Horlosiehersteller Louis Nel werk geesdriftig aan die restourasie van die historiese Ou Raadsaal-horlosie op Kerkplein. Hy en sy seun, Ruan, het die afgelope agt maande die meer as 130 jaar oue meganiese uurwerk en klokstelsel herstel om dit weer ten volle funksioneel te maak. Foto: Elize Parker

Hoog bo die Plein het Louis Nel en sy seun, Ruan, die afgelope maande gewerk om die meer as 130 jaar oue JB Joyce & Co-horlosie weer funksioneel te maak.

Die Ou Raadsaal is deur die Nederlandse argitek Sytze Wierda ontwerp. Bouwerk het in 1889 begin, en die gebou is in Desember 1891 voltooi. Die horlosie is in dié tydperk in die toring aangebring.

Die horlosie self is in 1893 voltooi, en vier klokke is in 1894 in die toring geplaas. Al vier hierdie klokke bevat historiese inskripsies in Nederlands.

“Die skoonmaakproses alleen was ’n lang proses,” vertel Louis. “Ons het vier vloere van bo na onder vuilgoed uit die toring afgedra. Daar was agt sakke vol voëlmis wat uitgehaal moes word. Dit was ongelooflik hoeveel stof ook oor die jare opgebou het.”

Die horlosie is geleë in die Ou Raadsaal se toring reg bo die hoofingang aan die suidekant van Kerkplein. Die toring word gekroon deur ’n standbeeld wat dikwels as Minerva (die Romeinse godin van wysheid en oorlog) of as ’n vryheidsbeeld geïdentifiseer word.

Ná maande lange se herstelwerk sal die Ou Raadsaalhorlosie weer elke halfuur klokslag die tyd aangee, maar die horlosie en klokke se meganiese werking vereis vorentoe steeds die weeklikse handopwen van sy swaar gewigte. Foto: Elize Parker

Volgens hom het die horlosie en klokke die tekens van jare se verwaarlosing gedra.

Die herstelwerk verg gespesialiseerde kennis.

“Dit is nie gewone herstelwerk nie. Dit is spesiale werk wat op ’n spesifieke manier gedoen moet word. Elke onderdeel moet versigtig skoongemaak en herstel word.”

Die koste van die projek word op tussen R60 000 en R70 000 beraam.

“Ons hartsbegeerte was om die horlosie en klokke te laat herleef en dit is nou bereik, maar ons het nog baie werk om te doen om dit volhoubaar te maak. Ons het al geskiedkundige kerkhorlosies herstel, onder meer die Ooskerk se horlosie, maar hierdie een is besonders, omdat dit so deel van Pretoria se geskiedenis is.”

Vir Louis was die mees emosionele oomblik toe die klokke onlangs weer deur Pretorianers gehoor is.

“’n Inwoner wat verbygestap het, het onlangs gesê die laaste keer wat hy die klokke gehoor het, was toe hy nog ’n kind was. Toe die horlosie weer die eerste keer die tyd aangekondig het, was dit vir baie mense iets besonders nostalgies.”

Sy liefde vir horlosies strek oor dekades. “My huis hang vol horlosies. My vrou sê my horlosies het die huis oorgeneem.”

Ruan het die passie by hom geërf. “Ek het as jong seun ’n liefde vir horlosies ontwikkel. Vandag is dit meer as werk. Dit is ’n passie,” vertel hy.

Vir hom is die Ou Raadsaal-horlosie een van die belangrikste historiese tydstukke in die stad. Hy verduidelik die horlosie was oorspronklik ontwerp om op spesifieke tye te slaan.

“Dit het sesuur soggens, twaalfuur die middag en weer sesuur saans geslaan. Dit het saamgeval met parades en die wisseling van wagte,” vertel Ruan.

Die klok was destyds deel van die daaglikse lewe van Pretoria se inwoners.

“Daar was nie groot geboue nie. Daar was nie teerpaaie nie. Jy het perde gehoor en jy het die horlosie gehoor. Mense kon die gelui oor groot afstande hoor. Selfs glo tot in Montana! Dit was deel van die klank van Paul Kruger se Pretoria.”

Vir diegene wat by die projek betrokke is, gaan die herstel van die Ou Raadsaal-horlosie en klokke oor meer as die herstel van ’n meganiese tydhouer.

Hulle glo noudat die horlosie weer gereeld oor Kerkplein gehoor kan word, is dit ’n teken dat een van Pretoria se belangrikste erfenisgebiede weer besig is om sy plek as die geskiedkundige hart van die hoofstad terug te eis.

Geldelike bydraes kan gemaak word deur Sakkie du Plooy te kontak by 083 448 9473.

– Kliek hier om die klokke te hoor lui oor Kerkplein:

– Kliek hier om die binnewerkinge van die uurwerk van die horlosie te sien:

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook,Twitter enInstagram enTikTok en WhatsApp Channel 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button