MunicipalNews

Moot vra ingryping met oop ruimtes

’n Petisie is aan die Gautengse regering gerig om hulp met veiligheids-, gesondheids- en omgewingsprobleme in die Moot se parke en spruitgebiede. Volgens die DA kan die metro nie die uitdagings alleen hanteer nie.

Reeds ’n week voor Ramaphosa se toespraak oor onwettige immigrante, het DA-raadslede in die Moot ’n petisie aan die Gautengse regering gerig vir dringende ingryping in parke, spruitgebiede en oop ruimtes.

Inwoners meen hierdie ruimtes word toenemend deur rondlopers en ongedokumenteerde buitelanders beset.

Die party sê die metro kan nie alleen die probleem oplos nie.

Ramaphosa het in sy toespraak op 7 Junie gesê Suid-Afrikaners se kommer oor onwettige immigrasie, druk op openbare dienste, veiligheid en die oppergesag van die reg is ‘werklik’ en verdien aandag.

Hy het erken dat onwettige immigrasie ’n ‘beduidende uitdaging’ is wat dienslewering raak, druk op gesondheids- en onderwysdienste plaas en met georganiseerde misdaad verbind kan word.

Die president het terselfdertyd beklemtoon dat die afdwinging van immigrasiewette die verantwoordelikheid van die staat alleen is en dat die regering verdere maatreëls gaan instel om onwettige immigrasie hok te slaan.

Hy het ook aangekondig dat die regering ’n verskerpte veldtog teen onwettige immigrasie van stapel stuur, insluitend die deportasie van ongedokumenteerde buitelanders, sterker grensbeheer, spesiale immigrasiehowe en groter samewerking tussen wetstoepassingsagentskappe.

In die DA-petisie vra inwoners en raadslede vir dringende provinsiale ingryping om probleme wat volgens hulle verband hou met rondlopers, onwettige besetting van oop ruimtes en ongedokumenteerde buitelanders in parke en spruitgebiede, aan te spreek.

Rolspelers uit die gemeenskap het die spruitgebied skoongemaak as deel van pogings om openbare ruimtes veiliger te maak. Die inwoners voel die verwydering van rommel en digte plantegroei kan voorkom dat rondlopers hier skuil en ongewenste aktiwiteite in die gebied posvat. Foto: Elize Parker

Die petisie voer aan dat inwoners van die Moot, veral in wyke 1, 43, 52, 53, 54, 55, 60 en 84, toenemende veiligheids-, gesondheids- en omgewingsuitdagings ervaar.

Die versoek vra onder meer vir die stigting van ’n provinsiale taakspan wat die Suid-Afrikaanse Polisiediens, metropolisie, Binnelandse Sake, Maatskaplike Ontwikkeling en parke-owerhede sal insluit.

Die taakspan moet weeklikse operasies in geïdentifiseerde brandpunte uitvoer.

Die petisie vra ook vir bykomende hulpbronne vir die metropolisie, dokumentasie-ingrypings in samewerking met Binnelandse Sake, gereelde openbare verslagdoening oor operasies en ondersteuning vir Suid-Afrikaanse burgers wat haweloos is.

Die stap volg op maande van gemeenskaps-aksies in die Moot, waar inwoners, buurtwagte, burgerlike organisasies en die stad saamwerk om parke en spruitgebiede skoner en veiliger te maak.

DA-raadslid Adriana Randall sê die petisie is ’n erkenning dat die uitdaging groter is as wat die metro alleen kan hanteer.

“Ons moet vir inwoners wys ons bewaak ons gemeenskappe met oorgawe. In parke sien inwoners gereeld ’n gedrinkery en vure wat gemaak word. Dit bly ’n groot bekommernis. Die metropolisie is werklik toegewyd en operasies is reeds aan die gang,” sê Randall.

“Hierdie petisie aan die Gautengse regering moet ons hand versterk omdat verskillende vlakke van regering moet help om sulke uitdagings baas te raak. Die metro alleen gaan nie hierdie probleem kan bestuur nie,” sê Randall.

Volgens haar is gemeenskapsbetrokkenheid ’n belangrike deel van die oplossing.

Randall het organisasies soos die Moot-projek asook ander rolspelers en inwoners wat gereelde patrollies doen, bedank vir hul betrokkenheid by die beskerming van oop ruimtes.

“Ons wil veral wys dat ons ernstig is oor die beskerming van ons parke en spruite,” sê sy.

Die petisie vorm deel van die breër Neem jou spruit terug-veldtog wat daarop gemik is om oop ruimtes vir gemeenskappe terug te wen.

Inwoners voel veral dat herwinnaars die parke en spruite toestroom oor naweke om hulself voor te berei om vanaf Maandae, wanneer vullistrollies uitgesit word, vullis daaruit te herwin.

Die versoek om provinsiale hulp kom egter te midde van die stad se eie pogings om wetstoepassing en samewerking tussen verskillende departemente te versterk.

Inwoners voel veral dat herwinnaars die parke en spruite toestroom oor naweke om hulself voor te berei om vanaf Maandae, wanneer vullistrollies uitgesit word, vullis daaruit te herwin. Foto: Elize Parker

Hannes Coetzee, lid van die burgemeesterkomitee, sê die metro werk reeds nou saam met provinsiale en nasionale rolspelers om veiligheidsuitdagings aan te spreek.

Volgens Coetzee het die metro ’n memorandum van verstandhouding met die provinsiale regering en die SAPD onderteken om samewerking in Gauteng te verbeter.

Hy sê die stad het ook die Interdepartementele Verordeningstoepassingskomitee, bekend as IBEC, geskep om verskillende departemente saam te bring.

“Alle departemente werk saam rondom dienslewering en verordeningstoepassing. Operasie Shanela word saam met die SAPD uitgevoer met padblokkades en optrede teen dronkbestuur. Operasie Yatima help Eskom en die stad om onwettige elektrisiteitsverbindings te verwyder en agterstallige rekeninge aan te spreek,” sê Coetzee.

Volgens hom beskik die metropolisie oor sewe streke waar twee grootskaalse operasies per week in elke streek uitgevoer word, benewens normale polisiewerk.

Hy wys daarop dat die stad ook oor ’n komitee beskik wat op gekaapte en problematiese geboue fokus, asook ’n grondbesettingseenheid wat onwettige grondbesettings aanspreek.

“Die beleid oor grondbesetting word tans saam met die Premier se kantoor, munisipaliteite en ander belanghebbendes hersien om grondbesettings in die provinsie beter te voorkom. Dit tree vanaf 1 Julie 2026 in werking,” sê hy.

Coetzee sê die metro tree ook op teen onwettige ondernemings en werk saam met Binnelandse Sake en ander agentskappe.

“Die metropolisie werk baie goed saam met die SAPD, Binnelandse Sake en ander rolspelers. Onwettige buitelanders word op snelweë, onder brûe en in parke gearresteer. Ons vra egter dat die Minister van Binnelandse Sake die grens beter beheer, want ons kan mense vandag verwyder en môre is hulle terug.”

Hy verwerp ook kritiek dat die metro nie genoeg doen nie.

“Sedert ons in Oktober 2024 oorgeneem het, het ons baie suksesse behaal. Die metropolisie se vloot is uitgebrei, dag- en nagoperasies word uitgevoer en talle arrestasies is gemaak. Die stad het ook begroot vir sy eie beheerkamer vir kringtelevisiekameras, handtoestelle vir beamptes en liggaamskameras. Tegnologie word aangewend om bates beter te beskerm.”

Volgens Coetzee is daar steeds uitdagings, maar meen hy die metro beweeg in die regte rigting.

Die petisie se ondersteuners glo egter dat groter betrokkenheid van die provinsiale regering noodsaaklik is om volhoubare oplossings te verseker.

Hulle voer aan dat die kombinasie van wetstoepassing, immigrasiebeheer, maatskaplike ondersteuning en gereelde monitering nodig is om openbare ruimtes veilig en toeganklik te hou.

Die petisie vra uiteindelik vir groter koördinasie tussen alle vlakke van regering om inwoners se vertroue te herstel en om te verseker dat parke, spruite en oop ruimtes weer ten volle deur gemeenskappe benut kan word.

Met die saak nou op die lessenaar van die Gautengse regering, hoop die inwoners van die Moot dat provinsiale ondersteuning die bestaande pogings van die metro sal aanvul en die druk op plaaslike wetstoepassingsagentskappe sal verlig.

LEES MEER: Residents welcome repairs but demand permanent solution on R223

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook,Twitter enInstagram enTikTok en WhatsApp Channel 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button