Inwoners se klagtes oor waterrekeninge word ondersoek
Talle Moot-inwoners kla dat hul waterrekeninge op verkeerde of geskatte lesings gebaseer word nadat nuwe watermeters geïnstalleer is. Die metro se finansieskomitee gaan nou ondersoek instel na die moontlike inkomsteverlies, faktureringsfoute en die impak hiervan op openbare vertroue.
Die metro se Openbare Rekeningkomitee verwag om volgende maand terugvoer te ontvang oor toenemende klagtes van inwoners wat beweer hulle word verkeerd gefaktureer vir waterverbruik nadat ou watermeters met nuwe meters vervang is.
Die ondersoek volg nadat DA-raadslid Adriana Randall die kwessie formeel onder die aandag van die metro se komitee gebring het.
Sy het op 12 Junie versoek dat ’n omvattende verslag saamgestel word oor die moontlike finansiële impak van nuwe watermeters wat geïnstalleer word sonder dat die veranderinge behoorlik op die metro se finansiële stelsel vir rekeninge aan verbruikers bygewerk word.
Randall sê die versoek is gemotiveer deur talle navrae en klagtes uit gemeenskappe in die Moot, sowel as in ander buurte in Pretoria.
Volgens haar fokus baie inwoners se frustrasie op situasies waar ou watermeters vervang word, maar die ou meternommers bly steeds op die faktureringstelsel aktief.
Dit lei daartoe dat verbruikers rekeninge ontvang wat gebaseer is op geskatte lesings van meters wat reeds verwyder is, eerder as werklike lesings vanaf die nuwe meters.
“Die ou meter word nie van die stelsel verwyder nie en dit bring chaos. Inwoners is nie seker wat op hul rekeninge aangaan nie,” sê Randall.
Sy meen die probleem skep die indruk dat die metro nie voldoende aandag gee aan die instandhouding en opdatering van sy administratiewe stelsels nie.
Randall het die saak tydens ’n vergadering van die komitee as ’n dringende kwessie geopper.
Die komitee, onder voorsitterskap van die EFF se raadslid Godwin Ratikwane-Rabotoakana, het die versoek vir ’n verslag daaroor aanvaar en na die finansiële departement verwys vir ondersoek en terugvoer.
Randall het versoek dat die verslag onder meer aandui hoeveel metervervangings gedurende die 2024/25- en 2025/26-boekjare nog nie korrek op die metro-stelsel opgedateer is nie.
Daar word ook antwoorde gesoek oor die aantal rekeninggeskille wat hieruit voortspruit, die moontlike verlies aan inkomste vir die stad, die impak op skuldinvordering en die gemiddelde wagtyd tussen die installering van ’n nuwe meter en die opdatering van die finansiële stelsel.
Verder word ondersoek ingestel na moontlike knelpunte in die proses, die verantwoordelikheid van betrokke departemente of kontrakteurs, asook planne om enige agterstande uit te wis.
Randall sê die probleem strek veel verder as enkele geïsoleerde gevalle.
“Baie keer in die gemeenskappe wanneer daar openbare vergaderings is om kwessies te hanteer, kom hierdie klagte op. Dit is nie net ’n Moot-probleem nie. Dit is ’n probleem van ander wyke ook.”
Volgens haar kan die finansiële gevolge ook vir die metro beduidend wees indien waterverbruik nie akkuraat gemeet en reg op rekeninge aangedui word nie.
“Die stad kry moontlik nie die korrekte inkomste vir waterverbruik nie want hulle metode om aanslag te doen is nie akkuraat nie. Daar word geskatte lesings gebruik van meters wat nie meer in werking is nie.”
Sy meen die saak raak ook die doeltreffendheid van interne beheermaatreëls en die gehalte van data wat in die metro se stelsels vasgelê word.
“Solank die stelsel nie doeltreffend bestuur word nie en die regte data ingevoer word nie, gaan die stad se inkomsteinvordering skade ly.”
Randall sê sy sien uit na die verslag wat na verwagting tydens die komitee se vergadering in Julie voorgelê sal word.
“Ek is opgewonde om te sien wat die terugvoer gaan wees en hoop dat al die vrae beantwoord sal word. Dit sal ook vir my ’n aanduiding gee hoe die stad onderneem om dit na behore aan te spreek sodat dit oor die langtermyn nie meer ’n kwessie sal wees nie.”
Volgens haar dui die klagtes op moontlike kommunikasiegapings tussen personeel in die veld en administratiewe kantore waar die rekeningstelsels bestuur word.
Sy meen werkers of kontrakteurs wat nuwe meters installeer, behoort die veranderinge onmiddellik aan die betrokke departemente te kan rapporteer sodat die data onmiddellik opgedateer kan word.
“Dit blyk dat wanneer ’n kontrakteur of amptenaar ’n nuwe meter kom insit, hulle nie direk kontak het met die departement nie. Die nuwe meter word dus nie dadelik aangemeld nie wat beteken die lesing vir die rekening – alhoewel daar ‘n nuwe meter is – is nog die ou meter se geskatte lesing.”
Sy sê daar behoort ’n stelsel te wees waar afgehandelde werkkaarte en foto’s van nuwe installasies onmiddellik met die finansiële kantoor gedeel word, saam met die nuwe meternommers, sodat die rekeningstelsel sonder vertraging aangepas kan word.
Randall waarsku dat die probleem nie net administratiewe uitdagings skep nie, maar ook inwoners se vertroue in die metro se vermoë om korrekte rekeninge uit te stuur ondermyn.
“Inwoners raak moedeloos en verloor vertroue in die metro se vermoë om korrekte rekenings uit te stuur. Wanneer inwoners nie meer hoop en vertroue het nie, is die wil om te betaal en betyds te betaal nie altyd daar nie.”
LEES: Vennootskap wil Afrikaanse teater laat herleef in middestad
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel
