Konsentrasiekampdag maak geskiedenis lewendig vir jong geslag
Kinders is bewus gemaak van die Afrikaner-geskiedenis op ’n opvoedkundige en kindervriendelike manier. Hulle kon ook aan lekker aktiwiteite deelneem soos kettieskiet, stokbroodmaak, perderitte en tradisionele speletjies.
Kinders, ouers, oupas en oumas het op 16 Junie by die Voortrekkermonument-terrein byeengekom vir die jaarlikse Konsentrasiekampherdenkingsdag.
Dié dag het nie net die kollig op die geskiedenis van die Anglo-Boereoorlog laat val nie, maar die gebeure op ’n opvoedkundige, gebalanseerde en gesinsvriendelike wyse herdenk.
Die fokus van dag was op die volgende geslag toekomsbouers en die verhale van moed, deursettingsvermoë en menswaardigheid wat soos ’n goue draad deur die Afrikaner-geskiedenis loop is gedeel.

Die verrigtinge het vroegoggend afgeskop met ’n lintknipseremonie om die opgeknapte Pioniersentrum amptelik te heropen.
Een van die hoogtepunte van die dag was ’n buikspraakvertoning deur Tant Toeka en haar vriende, wat die geskiedenis op ’n toeganklike en kindervriendelike manier aan die jong besoekers oorgedra het.
Die jong gaste by die Kultuurtuiste het ook die geleentheid gehad om deel te neem aan ’n verskeidenheid aktiwiteite wat die leefwêreld van die verlede op ’n tasbare manier uitgebeeld het. Perderitte, kettieskiet, stokbrood gaarmaak, en verf van kreatiewe sakke – om nie eens die tradisionele speletjies te noem nie – het groot belangstelling gelok.

Die dag se opvoedkundige fokus is verder versterk deur gratis Monument-besoeke vir alle kinders, en ’n besonderse jeugfotografieuitstalling in die Pioniersentrum wat deur die Photographic Society of South Africa (PSSA)-Jeug aangebied is.

Dié uitstalling, wat nog vir ses weke te sien is, bied aan jong fotograwe die geleentheid om hul talent ten toon te stel en terselfdertyd hul perspektiewe op erfenis, geskiedenis en identiteit uit te beeld.
Nog ’n gewilde item op die program was die gesprek deur die jeugboekskrywer Anneke Langner, wat jong lesers geïnspireer het om deur stories en boeke meer oor hul geskiedenis en kultuur te ontdek.
Die Pretoria Volkspele-laer se vertoning het die dag se tema van kultuuroordrag tussen geslagte perfek afgerond.
Benewens die formele program was die Pionierswerf deurentyd ’n miernes van bedrywighede. Kinders kon die plaasdiere voer, die modeltreintjies bewonder, klei speel, leer om sweep te slaan en die brandweeruitstalling deur die Sinoville Brandbestrydingsvereniging (SBBV) besoek.
Hierdie aktiwiteite het die geskiedenis van die pionierstydperk en die leefwyse van vorige geslagte op ’n praktiese en genotvolle wyse vir jong besoekers toeganklik gemaak.
Volgens Dawid Brand, bedryfshoof van bemarking en kommunikasie van die Kultuurtuiste, speel herdenkingsdae soos dié ’n belangrike rol in die bewaring van historiese bewustheid onder jong Suid-Afrikaners.
“Ons bied nie Konsentrasiekampherdenkingsdag aan om in die verlede vas te steek nie. Die doel is om eerlik na die verlede te kyk, die menslike lyding van daardie tyd te erken, en die lesse van opstaan en bou aan ’n nuwe geslag oor te dra.
“’n Gemeenskap wat sy geskiedenis vergeet, verloor die vermoë om sy toekoms verstandig te vorm. Met ons geskiedenis wat al meer uit skoolhandboeke geskryf word, rus daar ’n al groter verantwoordelikheid op ons skouers om te keer dat die stories en stemme wat ons gevorm het, nie stil word nie,” sê Brand.


Die sukses van die dag was sigbaar in die groot aantal gesinne wat die terrein besoek het en in die geesdrif waarmee die kinders aan die verskillende aktiwiteite deelgeneem het. Vir baie jong besoekers was dit die eerste keer dat hulle op ’n toeganklike wyse met die geskiedenis van die Anglo-Boereoorlog én die Voortrekkermonument kennis gemaak het.
Die kombinasie van opvoeding, kultuur en vermaak het gesorg dat die dag nie bloot ’n herdenking was nie, maar ook ’n viering van die veerkragtigheid van vorige geslagte en die verantwoordelikheid van die huidige geslag om hul verhale te bewaar.
Die dag is afgesluit met ’n gevoel van dankbaarheid vir die offers van die verlede en ’n hernieude besef dat geskiedenis nie net oor datums en feite gaan nie, maar oor mense, hul ervarings en die lesse wat hulle aan die toekoms nalaat.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel