News

Patrollie-legende se erfenis leef voort in Moot

Die Moot Projek is as jongste ontvanger van die bestaande Moot-inwoner van die Maand toekenning vereer vir hul bydrae tot gemeenskapsverbetering. Die erkenning, deel van ’n inisiatief ter nagedagtenis aan John ‘Dakar’ Dreyer, beklemtoon jare se vrywillige werk, skoonmaak-aksies en samewerking vir veiliger woonbuurte.

Die Moot Projek het die jongste Moot-inwoner van die Maand-toekenning ontvang as deel van ’n bestaande gemeenskapsinisiatief wat individue en organisasies vereer vir hul bydrae tot die verbetering van die Moot.

Die toekenning word deur Living Ball Ministeries en ProShield Security toegeken en is ingestel ter nagedagtenis aan die oorlede John ‘Dakar’ Dreyer, ’n bekende plaaslike gemeenskaps-aktivis en veiligheidsvrywilliger.

Die inisiatief bestaan reeds ’n paar maande en dien as ’n deurlopende erkenningsprogram vir mense en groepe wat ’n sigbare verskil maak in hul gemeenskap.

Hennie Mostert, Johan Oberholster en Franco Marais met die gedenkrugbybal. Foto: Verskaf

Die Moot Projek is vereer vir die bestuur en vrywilligers se volgehoue werk om woonbuurte se brandpunte te verbeter deur skoonmaak-aksies, opgraderings en verbeterings wat oor ’n tydperk van vier jaar voortduur en uitgebrei het.

Dreyer, wat in September 2024 oorlede is, was ’n gerespekteerde figuur in die Moot en het bekendheid verwerf vir sy aktiewe rol in plaaslike veiligheidsinisiatiewe, insluitend gereelde misdaadpatrollies op sy motorfiets.

Sy nalatenskap vorm die kern van die inisiatief, wat daarop gemik is om sy toewyding aan die gemeenskap voort te sit.

Die toekenning bestaan uit ’n spesiaal vervaardigde gedenkrugbybal wat tydens ’n klein seremonie aan ontvangers oorhandig word.

Die simboliese gebaar dien as erkenning vir vrywillige bydraes en gemeenskapswerk wat dikwels agter die skerms plaasvind.

Volgens die organiseerders is die doel van die projek om individue en organisasies te erken wat bo en behalwe hul pligte optree om die gebied veiliger en meer leefbaar te maak.

Vorige ontvangers sluit onder meer die Pretoria Volunteer Emergency Service (PVES) en raadslid Mark Surgeon in vir hul onderskeie rolle in noodhulp en gemeenskapsveiligheid.

Hennie Mostert, mede-stigter van die Die Moot Projek, het sy dank uitgespreek vir die erkenning, maar beklemtoon dat die toekenning die resultaat is van breë gemeenskapsbetrokkenheid en nie bloot die poging van enkele inwoners nie.

Hy sê die prestasie behoort aan almal wat bydra tot skoonmaak-aksies, borgskappe, vrywilligersprojekte en die volgehoue verbetering van die gebied.

“Die toekenning behoort aan almal wat help en bydra. Van vrywilligers wat help om skoon te maak met skropsessies tot besighede wat borgskappe gee. Dis ’n toekenning wat die kroon is op vier jaar se harde werk deur die gemeenskap vir die gemeenskap.”

Mostert sê verder dat daar veral oor die afgelope twee jaar ’n merkbare verandering in gemeenskapsingesteldheid teenoor Die Moot Projek se werk was, met toenemende deelname en trots onder inwoners wat voorheen skepties was oor sulke inisiatiewe.

“Vir my en mede-stigter Johan Oberholster was een van die hoogtepunte rondom die projek hoe gesindhede verander het. Eers was baie inwoners nie te positief teenoor die konsep van so ’n projek nie, maar nou word ons geseën met soveel mense wat op die visie inkoop. Ons sien die vrugte van die klein begin wat gegroei het tot groot gewin. Ons is nog nie waar ons wil wees met die projek nie, maar die meerderheid van deelnemers het ’n gevoel van trots en daarmee kan ons werk en vorentoe gaan.”

Die toekenning is in die vorm van ’n spesiaal vervaardigde gedenkrugbybal. Foto: Verskaf

Die organisasie beklemtoon ook dat die projek nie net oor skoonmaak gaan nie, maar ook oor die verfraaiing en algemene verbetering van woonbuurte, met die doel om trots en eienaarskap onder inwoners te bevorder.

“Ons wil ook hê ons mense moet elke dag trots wees op ons land. Dit is belangrik dat mense nie net regmaak en skoonmaak nie, maar ook mooimaak,” beklemtoon Mostert.

Benewens omgewingswerk, werk Die Moot Projek ook saam met plaaslike veiligheidsrolspelers om by te dra tot veiliger woonbuurte. Baie van hierdie pogings vind agter die skerms plaas en berus op vrywillige deelname sonder enige finansiële vergoeding.

“Die Moot Projek neem ook hande met veiligheidsrolspelers en speel ’n rol om die buurte veilig te hou. Hierdie is opofferinge wat nie altyddeur raakgesien word nie. Ons vrywilligers en die van organisasies waarmee ons saamwerk, kry nie ’n salaris nie.”

Die erkennings-inisiatief is deur Living Ball Ministries en Pro Shield sekuriteitsmaatskappy begin en ondersteun.

Franco Cilliers, woordvoerder van Living Ball Ministeries, sê sy pa het ’n persoonlike verbintenis met Dreyer gehad. Hulle was saam op skool.

Hy verduidelik die toekenning dien as ’n voortsetting van Dreyer se nalatenskap en ’n poging om gemeenskapshelde in die Moot te erken en te inspireer.

“Die inisiatief bly ’n simbool van samewerking, dankbaarheid en gemeenskapsgees, met Die Moot Projek se jongste erkenning wat die belangrikheid van volgehoue burgerlike betrokkenheid in die gebied beklemtoon,” sê Cilliers.

Pro Shield glo dat selflose en onvoorwaardelike diens aan die gemeenskap, soos wat Dreyer gelewer het, erken moet word.

Pieter van Rensburg, eienaar van Pro Shield, sê: “Diegene wat bydra om ’n gemeenskap te verbeter soos Dreyer, se nalatenskap moet voortgesit word. Gemeenskapsleiers moet ook bewus wees en erkenning gee aan diegene wat veel meer as hul plig vir die gemeenskap doen.”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook,Twitter en Instagram enTikTok en WhatsApp Channel

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button