Rugby-voorval: Skole loods ondersoeke
Die gewelddadige voorval tydens die Virseker Noordvaalbeker-rugbywedstryd tussen Die Hoërskool Menlopark van Pretoria en Hoërskool Dr. E.G. Jansen van Boksburg word afsonderlik ondersoek.
Twee afsonderlike ondersoeke na die konflikvoorval tydens die Virseker Noordvaalbeker-rugbywedstryd tussen Die Hoërskool Menlopark van Pretoria en Hoërskool Dr. E.G. Jansen van Boksburg is van stapel gestuur, terwyl die twee skole nuusverklarings oor die voorval uitgereik het.
Die Hoërskool Menlopark sê ’n onafhanklike ondersoek onder leiding van ’n onafhanklike voorsitter is reeds op ’n gevorderde stadium en dat getuienis wat tot dusver oorweeg is, volgens die skool daarop dui dat bewerings van rassistiese opmerkings ongegrond is.
Hoërskool Dr. E.G. Jansen sê intussen die skool versamel steeds getuienis vir sy eie ondersoek en werk saam met die Departement van Basiese Onderwys en ander owerhede.
Die voorval het Saterdag tydens die eerste rugbyspanne se wedstryd in Pretoria plaasgevind.
’n Video van ’n fisiese konfrontasie waarin spelers en toeskouers betrokke was, het wyd versprei nadat spel in die tweede helfte van die wedstryd, met Menlopark met 36–5 voor, gestaak is.
Die Hoërskool Menlopark sê die bewerings van rassistiese uitlatings wat in ’n verklaring deur Hoërskool Dr. E.G. Jansen gemaak is, word nie deur die getuienis ondersteun wat tot dusver in ’n onafhanklike ondersoek oorweeg is nie.
Die voorsitter van Menlopark se beheerliggaam, dr. Japie de Wet, sê: “Die Hoërskool Menlopark neem met afgryse kennis van die bewerings in die persverklaring deur Hoërskool Dr. E.G. Jansen rakende die insident langs die rugbyveld op 1 Augustus 2026. ’n Ondersoek onder leiding van ’n onafhanklike voorsitter is op ’n gevorderde stadium. Alle getuienis wat tot dusver oorweeg is, insluitende verklarings van neutrale wedstrydbeamptes, dui daarop dat die bewerings van rassistiese opmerkings van alle waarheid ontbloot is.”
Dr. Japie de Wet, voorsitter van die beheerliggaam van Die Hoërskool Menlopark Foto: www.menlopark.co.za
De Wet het bygevoeg dat dit betreurenswaardig is dat hierdie aantygings eers vier dae ná die insident geopper word. “Dit sal uiters skadelik wees indien dit ’n desperate fabrisering is om blaam te verskuif.”
Hy sê verder: “Hierdie insident druis lynreg teen die kern-etos van Die Hoërskool Menlopark in. Ons wil dit beklemtoon dat geen van ons spelers, afrigters of personeel by die gewelddadige voorval betrokke was nie. Ons distansieer ons uitdruklik van die valse aantygings.”
Hoërskool Dr. E.G. Jansen sê in ’n verklaring dat die skool geen vorm van geweld, rassisme of ander onaanvaarbare gedrag goedkeur nie en dat dissiplinêre prosesse reeds teen betrokke leerders aan die gang is.
Die voorsitter van die skool se beheerliggaam, Riaan van Aswegen, sê: “Hoërskool Dr. E.G. Jansen keur geensins die optrede van enige persoon of leerder wat by die voorval tydens die rugbywedstryd teen Die Hoërskool Menlopark op Saterdag, 1 Augustus 2026, betrokke was, goed nie en poog ook nie om enige sodanige optrede te regverdig of te verskoon nie. Die skool is daartoe verbind om enige onbehoorlike optrede ingevolge die skool se gedragskode aan te spreek.”
Van Aswegen sê die betrokke leerders is geïdentifiseer en interne dissiplinêre prosesse is reeds ingevolge die skool se gedragskode aan die gang.
Hy sê die skool sal voortgaan om met die Departement van Basiese Onderwys en ander relevante owerhede saam te werk, terwyl ’n omvattende verslag met verklarings en beskikbare dokumentasie vir voorlegging aan die departement saamgestel word.
Volgens die verklaring van Van Aswegen sal geen verdere kommentaar gelewer word totdat die ondersoeke en dissiplinêre prosesse afgehandel is nie.
Die ondersoeke en dissiplinêre prosesse is nog nie afgehandel nie, en die bewerings en teenbewerings is nog nie onafhanklik bevestig nie.
’n Video van die gewelddadige voorval, wat op sosiale media versprei is, kan hier gesien word:
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook,Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel
