EntertainmentNews

Musieklegende Lydia Winchester tydens Gé Korsten-huldeblykkonsert vereer

’n Merkwaardige vrou agter die skerms van Afrikaanse musiek is vereer vir bykans vier dekades se onskatbare bydraes tot kunstenaars en die musiekbedryf.

Tydens die spesiale huldeblykkonsert Gé Sing: Hoor My Lied! die afgelope Saterdag, 27 Junie, is daar ook hulde gebring aan ’n merkwaardige vrou agter die skerms van die Suid-Afrikaanse musiekbedryf – Lydia Doreen Winchester.

Frans Swart, besturende direkteur van Lefra Produksies het ’n eretoekenning vir haar lewenslange bydrae tot die musiekbedryf in Suid-Afrika aan haar oorhandig.

Met ’n loopbaan wat oor bykans vier dekades strek, is Winchester vereer vir haar onmiskenbare bydrae tot die bevordering en vestiging van Afrikaanse musiek en kunstenaars.

“Sy was nie net publisiteitsbeampte van ons land se topkunstenaars nie, maar ook mentor, vertroueling, strateeg, inspireerder, modekundige en vele meer vir die kunstenaar,” het Frans gesê.

Hy het bygevoeg dat dit ekstra spesiaal is, omdat “Lydia ook instrumentaal in Gé Korsten se sukses was”.

Die eretoekenning het ook ’n skildery genaamd Sy het hulle ’n stem gegee deur die kunstenaar, Hannelie Swart, ingesluit.

“Haar nalatenskap lê nie slegs in haar eie prestasies nie, maar veral in haar vermoë om ander raak te sien, te ontwikkel en te inspireer. Sy was ’n mentor, talentontwikkelaar en stille dryfkrag agter talle kunstenaars se suksesverhale,” het Hannelie gesê.

“Die kunswerk fokus op nalatenskap, mentorskap en die dikwels onsigbare werk wat agter groot suksesverhale skuil. Dit vertel die verhaal van iemand wat ander laat skitter het deur in hulle potensiaal te glo en in die agtergrond gewerk het.”

Lydia Winchester saam met Gé Korsten destyds.

Winchester is op 23 Februarie 1956 in Krugersdorp as die oudste van ses kinders gebore en het haar grootwordjare in Carletonville deurgebring.

In 1986 het sy ’n lewensveranderende besluit geneem – een wat haar sou lei na die hart van die musiekbedryf, waar sy uiteindelik haar roeping sou vind.

André Schwartz en Lydia Winchester

As skakelbeampte by die Decibel-platemaatskappy (1987–2000), onder leiding van Boet Pretorius, het sy haarself gevestig as ’n krag om mee rekening te hou. Sy het ’n sleutelrol gespeel in die loopbane van ikoniese kunstenaars soos Gé Korsten, Anneli van Rooyen, Rina Hugo, Johan Stemmet en Leon Schuster.

Met haar onwrikbare werksetiek, skerp instink en passie vir mense, het sy ook talle jong talente onder haar vlerk geneem en tot gevestigde name in die bedryf help ontwikkel.

Skildery deur Hannelie Swart

Hoewel haar naam dalk nie altyd in die kollig is nie, is sy ’n legende in eie reg – ’n vurige, toegewyde en passievolle kampvegter vir kunstenaars en die Afrikaanse musiekbedryf. Haar invloed strek oor generasies, en haar nalatenskap leef voort in elke kunstenaar wie se pad sy help vorm het.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button