News

Meer as 60 000 varke in Pretoria van kant gemaak

Sewe uitbrekings van Afrika-varkgriep in die Tshwane metro het sedert November 2025 meer as 69 000 varke geraak, met ongeveer 60 000 wat van kant gemaak is. Die DA sê die Gautengse regering moet dringend ’n deursigtige reaksieplan instel om verdere verliese, bedreigde werksgeleenthede en risiko’s vir voedselsekerheid te beperk.

Die Gautengse varkbedryf het reeds meer as R10-miljoen verloor weens sewe uitbrekings van Afrika-varkgriep (ASF) wat in die Tshwane metro sedert November 2025 aangemeld is.

Ongeveer 60 000 varke is van kant gemaak as gevolg van die uitbrekings.

Volgens DA-LP Bronwynn Engelbrecht is altesaam 69 171 varke deur die uitbrekings geraak.

Sy sê die Suid-Afrikaanse Varkprodusente-organisasie (SAPPO) het na raming reeds R10-miljoen aan koste aangegaan, insluitend die van kant maak en verwydering van diere, asook arbeidskoste.

Volgens haar sluit hierdie bedrag egter nie die direkte finansiële verliese van die betrokke boere in nie.

Die verliese is volgens Engelbrecht nog nie volledig by die Gautengse Departement van Landbou en Landelike Ontwikkeling ingedien nie.

Die omvang van die krisis is deur Vuyiswa Ramokgopa, Gautengse LUR vir Landbou en Landelike Ontwikkeling, in ’n mondelinge antwoord op vrae wat deur die DA in die Gautengse Provinsiale Wetgewer ingedien is, bekend gemaak.

“Die uitbrekings is nie bloot ’n dieregesondheidskrisis nie, maar ’n direkte bedreiging vir boere, plaaswerkers, voedselsekerheid en Gauteng se vleisbedryf,” glo Engelbrecht.

Die provinsie worstel steeds met die gevolge van bek-en-klouseer, terwyl varkboere in die stad en die uitgebreide metro nou nog ’n biologiese en finansiële ramp moet hanteer.

Volgens Ramokgopa lewer die departement advies en toesig en skakel dit met die nasionale regering, SAPPO en private veeartse.

Engelbrecht meen egter dat boere meer as advies nodig het omdat die ramp reeds toegeslaan het.

Sy het aangevoer dat Ramakgopa se antwoord min gerusstelling bied dat die departement ’n proaktiewe, ten volle befondsde en deursigtige plan vir die bestuur van die uitbrekings in plek het.

Sy het ’n beroep gedoen op Ramokgopa om dringend ’n duidelike plan vir die hantering van Afrika-varkgriep voor te lê.

Volgens Engelbrecht moet die plan ’n gedetailleerde kaart van uitbrekings, gereelde openbare opdaterings, die aantal plase wat volgens distrik en boerderykategorie geraak is, en ’n volledige beoordeling van verliese insluit.

Die beoordeling moet volgens haar nie slegs fokus op die koste wat deur bedryfsorganisasies aangegaan is nie, maar ook op die direkte finansiële impak op individuele boere.

Engelbrecht sê dit is onaanvaarbaar dat boere met massa-uitdunning, stygende koste en onsekerheid gelaat word terwyl die departement volgens haar slegs vae versekering bied.

“Elke uitbreking wat nie vinnig onder beheer gebring word nie, bedreig lewensbestaan, voedselvoorsieningskettings en verbruikersvertroue,” waarsku sy.

Sy waarsku ook dat landbousiektes nie as geïsoleerde voorvalle hanteer moet word nie.

“Hierdie chroniese uitbrekings van dieresiektes is waarskuwingstekens van ’n breër mislukking in provinsiale voorbereiding vir dieregesondheid,” maan sy.

Die omvang van die uitbrekings het reeds tot grootskaalse verliese in die varkbedryf gelei.

Die presiese totale ekonomiese impak van die uitbrekings is nog nie bekend nie, aangesien die direkte verliese van individuele boere nog nie volledig aan die Gautengse Departement van Landbou en Landelike Ontwikkeling voorgelê is nie.

Engelbrecht sê Gautengse boere verdien ’n regering wat hulle beskerm en nie een wat slegs die skade bevestig nadat dit reeds plaasgevind het nie.

Sy sê die DA Gauteng sal voortgaan om die provinsiale regering aanspreeklik te hou en druk vir volledige deursigtigheid oor die ware ekonomiese impak van Afrika-varkgriep, die ondersteuning wat aan boere gebied word en die stappe wat gedoen word om verdere verspreiding te voorkom.

Volgens haar sal ’n DA-geleide Gautengse provinsiale regering vroeë waarskuwingstelsels instel, behoorlike veeartsenykundige ondersteuning bied, deursigtige verslagdoening verseker en seker maak dat die departement optree voordat boere gedwing word om die omvang van hul verliese te tel.

Navrae is aan die nasionale Departement van Landbou sowel as die metro gerig maar geen antwoorde is ten tye van publikasie ontvang nie.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Check Also
Close
Back to top button