News

Noord-gemeenskap verenig om meer as 200 mense te help

Vir die deelnemers was die inisiatief van SAVF Ruimte Housing vir Mandeladag ’n geleentheid om praktiese hulp te bied, maar ook om bande tussen organisasies en die Pretoria-Noord-gemeenskap te versterk.

’n Reeks organisasies en inwoners het op 17 Julie by SAVF Ruimte in Pretoria-Noord vir Mandeladag kragte saamgesnoer om meer as 200 mense met warm klere, kos en ander noodsaaklikhede te ondersteun.

Die gemeenskapsinisiatief het verskeie organisasies, vrywilligers, skenkers en inwoners bymekaargebring in ’n poging om praktiese ondersteuning aan mense in die gemeenskap te bied.

“Wat ’n ongelooflike en suksesvolle dag by SAVF Ruimte!” het DA-raadslid vir Wyk 2, Quentin Meyer, gesê. Hy het bygevoeg dat die dag ’n bewys was van wat deur samewerking bereik kan word.

Volgens hom het die geleentheid die krag van samewerking beklemtoon, met verskeie organisasies wat saamgewerk het om ’n verskil in die gemeenskap te maak.

AVBOB, ATKV Aksie en Woordvreugde, Jack Hindon Government Clinic, die Wheel Well Project van Supa Quick, SAVF Ruimte Housing, SAVF Pretoria North Social Workers, House of Angels, Maders Butchery en die DA se Wyk 2-span het aan die inisiatief deelgeneem.

Meer as 200 mense is onder meer van mussies met reflektiewe stroke, springmielies, warm sop, pasteie, kospakkies, lekkers en ander noodsaaklikhede voorsien.

Die mussies is deur verskeie breiers gebrei as deel van Wheel Well se Halo Beanie-projek. Wheel Well is ’n nie-winsgewende organisasie wat hom beywer vir padveiligheid vir kinders.

Meyer het gesê die reflektiewe stroke op die mussies help om kinders en ander mense wat dit dra, makliker sigbaar te maak.

“Dit is waaroor ’n gemeenskap gaan. Deur saam te werk, met inwoners in gesprek te tree en mekaar te ondersteun, kan ons hoop bring en ’n betekenisvolle verskil in mense se lewens maak,” het Meye beklemtoon.

Hy het sy dank uitgespreek teenoor elke organisasie, vrywilliger, skenker en ondersteuner wat tot die dag bygedra het.

Lizelle Minnaar, bestuurder van SAVF Ruimte Housing, het gesê die organisasie is lank reeds daartoe verbind om kwesbare mense te ondersteun.

Volgens Minnaar was dit egter belangrik om tydens die geleentheid nie net na SAVF Ruimte se inwoners uit te reik nie, maar ook na die breër Pretoria-Noord-gemeenskap.

Sy het gesê inwoners van die gemeenskap ondersteun SAVF Ruimte deur die jaar heen en dra by tot geleenthede, fondsinsamelings en die organisasie se missie.

“Dit is die mense wat ons inwoners buite ons hekke ondersteun. Vandag was ons geleentheid om iets terug te gee en ons dankbaarheid, waardering en liefde uit te spreek,” het Minnaar beklemtoon.

Sy glo ware vrygewigheid gaan nie daaroor om iets in ruil te verwag nie.

“Ons hoor dikwels dat wanneer jy gee, jy selfs meer ontvang. Tog gaan ware vrygewigheid daaroor om te deel wat jy het omdat jy self soveel keer geseën is,” het Minnaar gesê.

Volgens haar het die dag gewys hoe klein dade van barmhartigheid tot iets veel groter kan groei.

“Vandag het ons daaraan herinner dat die kleinste dade van barmhartigheid tot die grootste wonders kan groei. Wat as ’n eenvoudige idee begin het, het iets geword wat veel verder gegaan het as wat ons ooit kon voorstel.”

Sy het gesê die omvang van die ondersteuning het die organiseerders verras.

“Ons het nooit verwag dat soveel mense bymekaar sou kom nie en om die oorweldigende ondersteuning van ons vennote, vrywilligers, donateurs en gemeenskapslede te sien, was werklik ’n gebeurtenis wat ons nederig maak,” het sy gesê.

Volgens haar het die deelnemers hande gevat om die omgee en liefde in die gemeenskap sigbaar te maak.

“Almal het hande gevat om die liefde wat hulle in hul harte dra, te wys. Dit was ’n pragtige herinnering aan die soort gemeenskap wat Pretoria-Noord is.”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button