Local newsNewsSportSport

Boklegendes voorspel Springboksege teen All Blacks

Daar is hoë verwagtinge vir die Springbokke wat Saterdag teen die All Blacks te staan kom. Springboklegendes Victor Matfield, Steven Kitshoff en Ray Mordt het op 20 Augustus by Menlyn Park hul verwagtinge vir Saterdag se toets gedeel en gesê die Springbokke beskik oor die spelers, strategie en tuisveldvoordeel om die All Blacks te klop.

Springboklegendes Victor Matfield, Steven Kitshoff en Ray Mordt glo die Springbokke sal Saterdag die All Blacks op Ellis Park klop.

Die drie oud-Springbokke het hul verwagtinge gedeel tydens die SA Legends Breakfast by Menlyn Park-winkelsentrum onder leiding van oud-Springbok Breyten Paulse as gespreksleier.

Die fokus was op die geskiedenis en toekoms van die rugbywedywering tussen Suid-Afrika en Nieu-Seeland.

Die geleentheid by The Barnyard Theatre was deel van Rugby’s Greatest Rivalry Tour.

Paulse het die voormalige spelers uitgevra oor hul loopbane, herinneringe aan die wedywering tussen die twee spanne en die faktore wat die wedstryd tussen die twee lande oor verskeie geslagte heen besonders gemaak het.

Mordt, wat vroeg in die tagtigerjare sy merk as Springbok-vleuel gemaak het, het ’n gemotiveerde voorspelling vir Saterdag gemaak.

“Die Bokke gaan die All Blacks in die eerste helfte soos ’n tsoenami tref en in die tweede helfte soos ’n tweede tsoenami.”

Volgens Mordt is dit moeilik om die Springbokke in Suid-Afrika te klop, omdat die tuisveldvoordeel ’n belangrike rol speel. “Dit is ’n oorlog daarbuite en ’n tuisveld help altyd.”

Hy het veral na Rassie Erasmus se sogenaamde ‘bomb squad’ verwys as ’n faktor wat volgens hom in die tweede helfte ’n verskil kan maak.

Matfield het intussen die komende reeks tussen die twee spanne as ‘fantasties’ beskryf en verskeie Springbok-spelers uitgesonder wat volgens hom ’n beslissende rol kan speel.

Hy het gesê die All Blacks sal beslis op die skrums fokus, maar het ook gewys op die spelers wat Suid-Afrika in die losspel teen hulle kan gebruik. “By die wegbreekspel gaan hulle beslis met Jasper Wiese te make kry.”

Matfield het verder voorspel dat Wiese die Speler-van-die-Reeks kan wees. Hy het ook Deon Fourie, Cheslin Kolbe en Damian de Allende genoem as spelers wat ’n verskil kan maak.

Volgens Matfield sal Nieu-Seeland egter deurlopend druk probeer toepas. Hy het spesifiek verwys na Ruben Love, wat volgens hom op beide nommer 10 en 15 tans skitter.

Kitshoff, ’n voormalige Springbok-voorman en een van Erasmus se oorspronklike ‘Bomb Squad’-lede, het tydens die gesprek verduidelik hoe die strategie rondom die gebruik van die plaasvervangers op die reserwebank onder Erasmus ontwikkel het.

Volgens hom het Erasmus toenemend ’n benadering gebruik waarvolgens wedstryde dikwels gedurende die laaste 40 minute beslis word.

Kitshoff het ook gewaarsku dat die Springbokke nie die All Blacks se vermoë om die onverwagte te doen, uit die oog mag verloor nie.

“Hulle is opportuniste en meesters om chaos te skep en uit te buit.”

Hy glo Ruan Nortje kan Saterdag ’n troefkaart vir die Springbokke wees.

Kitshoff het ook vir die gehoor vertel hoe hy aan die bynaam ‘Spicey Plumb’ gekom het nadat ’n rugbykommentator hom so begin noem het. Die naam word volgens hom sedert 2018 deurlopend gebruik en selfs mense in Kaapstad sal op straat so na hom roep.

Die gesprek het verder as wedstrydvoorspellings gestrek. Paulse het verskeie staaltjies vertel en die ander voormalige spelers gevra om anekdotes van hul ervarings op en van die veld met die gehoor te deel.

Paulse het ook verskeie rugbyterme aan die gehoor verduidelik.

Die geleentheid het terselfdertyd die breër rol van Menlyn Park as ’n plek vir gemeenskaps- en sportervarings beklemtoon. Nisha Kemraj, hoofbestuurder van Menlyn Park-winkelsentrum, het gesê die sentrum wou met die oggend die rugby-erfenis na sy klante en die Pretoria-gemeenskap bring.

Volgens Kemraj spreek die Springbok-All Blacks-wedywering talle Suid-Afrikaners aan en was die doel om mense op ’n betekenisvolle manier met dié span se nalatenskap by wyse van staaltjies en herinneringe te verbind.

Die ontbyt het ook aanhangers die geleentheid gebied om met die voormalige Springbokke te skakel en te gesels voordat die twee spanne Saterdag op Ellis Park ontmoet. Getekende truie en rugbyballe was op die spel tydens ’n rugbyvasvrawedstryd.

Vir Eersterust-rugbyliefhebber Angelo Fortuin sowel as Sivuyile Mangxamba was die geleentheid besonder suksesvol nadat hul elk ’n bal in die vasvrawedstryd gewen het.

– Kliek hier om te luister hoe Steven Kitshoff oor die Springbokke se toetswedstryd op 23 Augustus gesels:

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook,Twitter en Instagram enTikTok en WhatsApp Channel

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button