Blues alles behalwe dood in Pretoria
Plaaslike musikante en aanhangers hou die genre lewendig met ’n vertoning binnekort op die planke.
Om met ’n groep plaaslike musikante te sit en gesels oor die blues, is verfrissend.
Rekord was onlangs in gesprek met Nelmarie en Christiaan Rabie en Deryn en Marcel Dednam wat saam met vriende, Pieter Auret en Werner Spies, die vertoning Blues by die Kruispad Vol 2 by Atterbury Teater binnekort gaan aanbied.
Die blues is nog alles behalwe ‘dood’.
En in Pretoria is dit ook waar. Daar is blues-aanhangers wat plaaslike blues geniet. Wat hartseer is, is dat weinige venues vandag aan dié wat live blues wil geniet, die kans gun, soos wat by Sowaar Bar die geval was. Maar dan is daar teaters waar die-hard aanhangers hul dors kan gaan les en ’n aand se blues geniet.
Christiaan kry ’n vonkel in die oog wanneer hy van blues praat. Die vertoning was eintlik sy idee, en het voor KKNK verlede jaar inslag gevind. Die eerste vertoning het die balke laat bewe!
Christiaan Rabie het al diep spore in die plaaslike musiekbedryf getrap en het sy eie klankstudio. Hy het intussen ’n day job aangepak,
maar musiek speel nog ’n sterk rol in sy lewe en hy kan sy kitaar nie weerstaan nie.
“Blues is daardie deel van die musiek wat my belangstelling geprikkel het,” sê hy.
Nelmarie voeg by dat blues sielvol en vrymakend is. “Hierdie is die lekkerste show wat ek al ooit gedoen het,” sê sy. Sy was vroeër ’n lid van die damesgroep, La Diva.
Saksofoonspeler en sanger, Deryn Dednam, sluit by haar aan: “Blues is meer luisterbaar as jazz vir die gemiddelde gehoor.” Sy en haar man, Marcel, wat die show se klawerfundi is, is lief vir jazz.
Daar is ’n verskil tussen tradisionele blues (wat baie mense as ’n klaende jammerkry ervaar) en blues rock wat kunstenaar-by-uitstek, Eric Clapton, die wêreld ingestuur het.
Die vertoning Blues by die Kruispad beloof om baie Clapton te speel, en ook musiek van meesterlike modern bluesspelers soos Joe Bonamassa, met’n titseltjie BB King vir die puriste in die gehoor.
Crossroads – die alte bekende blues song – is vir seker deel van die vertoning. En ja, die gehoor sal nie teleurgestel wees met hierdie groep se weergawe daarvan nie.
Nelmarie noem ’n beplande verrassing maar wil niks weggee nie. Hierdie jong groep mense se musiekervaring strek so by die 20 jaar vir Christiaan en Nelmarie en 15 vir Marcel en Deryn. Hulle sê dis makliker om so ’n vertoning aan te bied wanneer die muso’s ook vriende is.
“Dit is lekker om die spontane interaksie op die verhoog te beleef,” sê Marcel. “Dit is nie so maklik as dit elke keer ’n nuwe groep muso’s is wat saamwerk nie.”
Christiaan sê wat gehore wel kan weet, is om ses ervare (al is dit jong) muso’s op ’n verhoog te ervaar, wêrelde verwyder van videos of streaming (ons sal niks van KI-musiek hier noem nie). Die energie en die improvisasie wat energie bou, gaan die teater se dak so ’n paar sentimeters laat lig.

Blues by die Kruispad Vol 2 is op 28 Augustus by Fairtree Atterbury teater te sien. Kaartjies kan by Seatme bekom word.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel