Local newsNews

Nuwe toerismeveldtog put inspirasie uit pers van Jakarandabome

Toerismeondernemings word genooi om pers-geïnspireerde promosies te skep, terwyl ’n nuwe opname fokus op die groei van toerisme in Tshwane/Pretoria.

Die Tshwane Toerismevereniging wil die natuurlike aantrekkingskrag van die stad se Jakarandabome meer benut deur toerisme-ondernemings aan te moedig om in Oktober aan ’n stadswye Think Purple-veldtog deel te neem.

Die veldtog is daarop gemik om besoekers tydens die jakarandaseisoen aan te moedig om Pretoria te verken.

Besighede en toerisme-bestemmings word genooi om hul eie pers-geïnspireerde aanbiedinge te skep, wat onder meer spyskaarte, verblyfpakkette, versierings, staptoere en spesiale promosies kan insluit.

Susan Marais, voorsitter van die Tshwane Toerismevereniging, sê die vereniging beplan om soortgelyke veldtogte oor die komende jare saam met lede, die metro en ander vennote uit te brei.

Die vereniging sal ook ’n Jakaranda Inspirasie-toekenning volgende jaar tydens hul ekspo oorhandig aan die veldtog wat die gees van die inisiatief in 2026 die beste vasvang.

Die nuwe veldtog vorm deel van ’n breër gesprek oor die rigting van toerisme in die stad.

Die Tshwane Tourism Industry Pulse Survey 2026, die eerste opname van sy soort deur die vereniging, bied insig in die behoeftes van ondernemings en die uitdagings wat hulle ervaar.

Marais sê die opname het waardevolle terugvoer gelewer oor die bedryf se huidige posisie.

“Die verslag gee vir ons ’n duideliker beeld van wat ons lede tans as hul grootste behoeftes en uitdagings ervaar,” sê sy.

Die verslag toon dat 75.4% van respondente meen die vereniging moet die bemarking van Pretoria/Tshwane as ’n voorkeur-toerismebestemming prioritiseer.

Om meer besoekers, gaste en kliënte te lok, is volgens die opname die grootste uitdaging vir ondernemings. Dit raak veral besighede wat direk van toeriste en reisigers afhanklik is. Die bevinding plaas sigbaarheid en die bemarking van die stad se aanbod op die voorgrond.

Die terugvoer toon dat ondernemings se behoeftes verskil. Hotelle beklemtoon samewerking en vennootskappe, terwyl gastehuise en lodges die druk van stygende bedryfskoste ervaar.

Toeriste-aantreklikhede en konferensielokale vestig die aandag op bemarking, sigbaarheid en ekonomiese toestande.

Netwerkgeleenthede en sterker samewerking bly volgens Marais belangrik. Die verslag wys dat 55.7% van respondente lidnetwerking en sakeverbindings as ’n toekomstige prioriteit aangedui het.

“Vir ons is die belangrikste egter dat die opname nie net ’n verslag moet wees nie. Ons gebruik die terugvoer om ons prioriteite en projekte vir die volgende jaar te rig veral rondom die bemarking van Pretoria as bestemming, samewerking binne die toerismebedryf en die skep van praktiese geleenthede wat waarde vir ons lede kan toevoeg,” sê sy.

Die opname toon verder dat bestaande vereniging-inisiatiewe deur lede waardeer word. Die Tshwane Tourism Showcase, ’n ekspo aan die begin van elke jaar, is deur 83.6% van respondente as ’n waardevolle inisiatief geïdentifiseer.

Ander prioriteite sluit in township-toerismeontwikkeling, opleiding, toerismeveiligheid en verhoudings met die regering.

Ondanks die uitdagings bly die bedryf se vooruitsigte positief. Die verslag toon dat 99.1% van respondente optimisties is oor die toekoms van toerisme in Tshwane oor die volgende drie jaar.

Marais sê dit is bemoedigend dat lede nie net uitdagings uitlig nie, maar ook aandui waar hulle glo die bedryf saam ’n groter impak kan maak.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button