News

Studente erg geraak deur onvoltooide padwerke

’n Padprojek van byna R146 miljoen in Lynnwoodweg, Pretoria, is steeds nie voltooi nie. Die projek het in 2023 begin en sou teen November 2024 klaar wees. AfriForum Jeug vra nou antwoorde oor die vertragings, veiligheid en finale koste want student word ernsitg hierdeur geraak.

AfriForum Jeug het die metro om antwoorde gevra oor die bouprojek in Lynnwoodweg wat sedert Mei 2023 aan die gang is.

Die projek strek tussen Universiteitsweg en Atterburyweg, ’n roete wat deur duisende studente en ander padgebruikers gebruik word.

Volgens AfriForum Jeug moes die projek aanvanklik teen 26 November 2024 voltooi wees. Die projek is egter op 22 September 2025 verleng nadat die vordering op 69% gestaan het. Die voltooiingsdatum is daarna tot 2 Maart 2026 verleng.

Daar is volgens die organisasie se woordvoerder, Hanno Koster, steeds nie duidelikheid oor wanneer die projek voltooi sal wees nie.

Die organisasie het die metro in ’n brief gevra waarom die projek so lank sloer en hoe lank dit nog sal duur.

Koster wil ook weet hoe die metro intussen studente en ander padgebruikers se veiligheid gaan verseker.

Koster vra verder of die kontrakteur vir enige gedeelte van die vertraging verantwoordelik gehou is en of boetes, skadevergoeding of ander kontraktuele regstellings ingestel is.

Die kwessie van veiligheid het ook na vore getree nadat ’n rugbyondersteuner vroeër vanjaar ná ’n rugbywedstryd gesterf het toe hy in een van die uitgrawings geval het.

“Daar is elke dag duisende studente wat via Lynnwoodweg by hul klasse moet uitkom, en die projek wat sloer hou geweldige risiko’s vir hulle in. Ons kan nie toelaat dat studente se veiligheid op die spel geplaas word weens swak uitvoering en bestuur van die projek nie,” sê Koster.

Die bouwerk veroorsaak volgens hom verkeersopeenhopings in ’n gebied waardeur duisende studente en ander padgebruikers daagliks te voet en per voertuig beweeg.

Die projek se aanvanklike beraamde koste was R145 miljoen, maar Koster voer aan dat dit blyk dat die projek intussen sy aanvanklike begroting oorskry het.

Die organisasie wil daarom ook weet wat die projek uiteindelik gaan kos.

“Ons sál nou, saam met die gemeenskap, druk op die metro plaas om hierdie konstruksie te voltooi sodat studente weer veilig kan wees,” sê Maree van den Berg, AfriForum se distrikskoördineerder vir Pretoria.

Die organisasie het die metro ook gevra om inligting oor die projek se vordering en die maatreëls wat ingestel is om padgebruikers tydens die konstruksie te beskerm, te verskaf.

“Pretoria se studentegebied behoort juis ’n plek te wees waar jongmense veilig tussen hul universiteit, koshuise, sportterreine en ander geriewe kan beweeg. Wanneer ’n groot padprojek vir jare voortsleep, kan die metro nie net aanvaar dat studente eenvoudig rondom die probleme moet aanpas nie. Hulle veiligheid moet ’n prioriteit wees,” glo Koster.

AfriForum Jeug het die metro tien werksdae ná 28 September gegee om skriftelike terugvoer oor die vrae te verskaf.

Inwoners en padgebruikers word intussen aangemoedig om AfriForum se petisie hieroor te teken om verdere druk op die metro te plaas om die bouprojek te voltooi.

– Die metro is genader om kommentaar, maar geen kommentaar is teen druktyd ontvang nie.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button