Olifante bly by dieretuin ná hofsaak misluk
Die Pretoria-hooggeregshof se beslissing op 16 Oktober lui dat die drie olifante, Lammie, Mopane en Ramadiba in aanhouding by die Johannesburg-dieretuin moet bly. Die volgende stap word nou deur die aansoekers se regspan oorweeg.
Die Hooggeregshof in Pretoria het die aansoek om drie olifante uit die Johannesburgse Dieretuin te verskuif, op 16 Oktober van die hand gewys.
Lammie, Mopane en Ramadiba bly gevolglik in aanhouding by die dieretuin.
Dit volg nadat die Elizabeth Margaret Steyn (EMS) Stigting, Regshervorming vir Diere Suid-Afrika en hoofman Stephen Fritz om hul vrystelling na ’n geskikte reservaat vir rehabilitasie en moontlike hervestiging om onafhanklik in ’n reservaat te leef, aansoek gedoen het.
Die hof het geen kostebevel gemaak nie. Volgens die stigting berus die hof se afwysing op bevindings oor die regsgrondslag van die aansoek en die beskikbaarheid van administratiewe hersiening.
Regter Noluntu Bam het bevind dat die aansoekers nie ’n grondslag vir die verlangde verklarende bevel of ’n hersienbare administratiewe besluit vasgestel het nie. Die dieretuin het wel ’n geldige permit om die olifante aan te hou en tree binne die raamwerk van die wet op.
Die hofbevel dui aan regter Bam het die aansoek van die hand gewys omdat die aansoekers nie aangedui het watter wetlike bepaling oortree is deur die eienaars van die dieretuin, die Johannesburg stadsraad, nie.
Hulle het ook nie ’n hersienbare administratiewe besluit of ’n plig om so ’n besluit te neem, bewys nie.
Die stigting beklemtoon dat die beslissing nie beteken dat die aansoekers se kommer oor die olifante se welsyn weerlê is nie.
Die hof het ook nie oor die deskundige getuienis oor die diere se welstand beslis of bevind dat hulle in gevangenskap floreer nie.
Die onmiddellike gevolg is dat die drie olifante by die dieretuin bly, terwyl vrae oor die uitwerking van gevangenskap op hul geestelike welstand en hul vermoë om volgens hul natuurlike spesiebehoeftes te leef, onopgelos bly volgens Megan Carr, woordvoerder vir die stigting.
Die uitspraak volg een week ná ’n eenparige beslissing deur die Grondwethof in die saak South African Hunters and Game Conservation Association v Speaker of the National Assembly and Others. Die EMS Stigting en die Nasionale Raad van Dierebeskermingsverenigings (NSPCA) het in dié saak die jagtersvereniging se besware teen bepalings oor dierewelsyn in die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur: Biodiversiteit suksesvol teengestaan.
Die beskermingsbepalings van die wet bly van krag. Die Grondwethof het die verband tussen diere se vermoë om te voel, lyding te ervaar, biodiversiteit en die grondwetlike beskerming van die omgewing erken.
Die statutêre omskrywing van welsyn in die voorgestelde wet sluit diere se fisieke, fisiologiese en geestelike gesondheid en lewensgehalte in, asook hul vermoë om by hul omgewing aan te pas.
Carr voer aan dat hierdie erkenning van die Grondwethof praktiese gevolge moet hê vir die manier waarop diere behandel word.
“Dit sluit besluitneming in oor permitte, institusionele aanspreeklikheid en besluite in wat individuele diere se lewensomstandighede bepaal,” verduidelik Carr.
Die organisasie se standpunt is dat die beginsel van dierewelsyn nie bloot in wetgewing moet bestaan nie, maar sigbaar moet wees in besluite oor diere wat in menslike sorg aangehou word.
Die afwysing van die aansoek verhinder nie die Johannesburgse metro om self hul posisie oor die drie olifante te heroorweeg nie.
Die stigting sê ’n alternatiewe reëling kan steeds ondersoek word.
Die organisasie vra vir ’n samewerkende deursigtige proses waarin ’n behoorlik befondsde verskuiwingsvoorstel beoordeel word. Volgens Carr behoort onafhanklike deskundiges by die beoordeling betrek te word en moet die behoeftes van elke olifant die besluit rig.
Enige moontlike verskuiwing sal volgens Carr hul gesondheid en veiligheid, sosiale verhoudings en langtermynversorging moet in ag neem.
Die geskiktheid van ’n alternatiewe fasiliteit en die praktiese vereistes van die oorgang sal dus deel van die beoordeling moet wees.
“Olifante is hoogs intelligente, sosiaal komplekse en voelende diere. Hul bewegingsvryheid, keuses en sosiale interaksie is belangrike faktore wanneer hul welstand beoordeel word. Die stigting meen hierdie oorwegings behoort betekenisvolle gewig te dra wanneer owerhede besluit of voortgesette aanhouding in ’n dieretuin gepas is,” beklemtoon Carr.
Die uitspraak bepaal egter nie dat die Johannesburgse metro of die dieretuin die olifante onbepaald moet aanhou nie.
Die organisasie sê die betrokke instellings kan steeds met ’n geskikte alternatiewe voorstel in gesprek tree met almal wat die olifante se toekoms op die hart dra.
Michele Pickover, uitvoerende direkteur van die stigting, het gesê die uitslag is teleurstellend, maar dat die organisasie se verantwoordelikheid teenoor die drie olifante voortduur.
Sy het die belangrikheid beklemtoon daarvan dat openbare instellings gevestigde praktyke heroorweeg wanneer dierewelsyn op die spel is.
Volgens Pickover verdien Lammie, Mopane en Ramadiba ’n ernstige beoordeling van die moontlikheid van ’n beter lewensomgewing gebaseer op wetenskaplike bewyse.
Die stigting sal nou die uitspraak saam met sy regspan bestudeer, insluitend die moontlike implikasies van die Grondwethof se onlangse beslissing, voordat verdere stappe bepaal word.
Lammie, ’n 47-jarige koei is in gevangenskap in die Johannesburg-dieretuin gebore en het haar hele lewe daar deurgebring. Nadat haar jare lange maat, Kinkel, in 2018 dood is, het sy alleen agtergebly, wat groot kommer oor haar emosionele welsyn gewek het. In 2019 het die dieretuin Mopane (26) en Ramadiba (28) aangekoop om as metgeselle vir haar te dien. Hulle is uit die kommersiële olifantsafaribedryf aangekoop.
Die 43-jarige Afrika-olifantbul, Charley, wat na sy vrylating uit die nasionale dieretuin in Pretoria na Duma herdoop is, pas suksesvol aan in sy nuwe natuurlike omgewing by die Shambala Private Natuurreservaat in Limpopo. Die EMS Stigting het ook oor talle jare ’n belangrike rol in Duma se hervestiging gespeel tesame met ander dierewelsynsorganisasies. Duma is in Augustus 2024 na die reservaat verskuif ná ’n jare lange veldtog om sy dekades lange gevangenskap te beëindig. Die olifant, wat oorspronklik uit Zimbabwe kom en voorheen in ’n sirkus opgetree het, was sedert 2001 in die Pretoria-dieretuin gehuisves.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel
