News

Stabilis sluit ná ses dekades weens finansiële druk

’n Behandelingsentrum in die Moot sluit op 30 November ná meer as ses dekades se diens aan die gemeenskap. Finansiële druk het volgens bestuursowerhede die sentrum se voortbestaan onvolhoubaar gemaak. Die sentrum se nasorgdiens sal ook eindig.

Stabilis Behandelingsentrum in die Moot staak sy bedrywighede op 30 November vanjaar nadat toenemende finansiële druk die voortbestaan van die instelling onvolhoubaar gemaak het.

Die sentrum se beheerraad het aan Rekord bevestig dat agt pasiënte op 15 November tans daar versorg word, waarvan twee langtermynpasiënte is. Die sentrum se nasorgdiens sal ook nie ná 30 November voortgaan nie.

Die beheerraad sê die staatsubsidie vir die 2026/27-boekjaar is nie toegestaan nie weens tekortkominge in die subsidie-indieningsproses van die sentrum se kant.

Die ingang na Stabilis Behandelingsentrum in die Moot. Foto: Elize Parker

Die verlies aan dié inkomste het volgens die raad ’n reeds moeilike finansiële situasie verder versleg.

Stabilis is in 1962 deur die Nederduitse Gereformeerde Kerk gestig en het oor meer as ses dekades mense met middelafhanklikheid ondersteun.

Ds. Danie Janse van Rensburg, voorsitter van die Stabilis-beheerraad, sê die finansiële probleme het oor ’n tydperk ontwikkel. ’n Afname in betalende pasiënte, stygende bedryfskoste en stagnerende okkupasiesyfers het druk op die sentrum se inkomste geplaas.

Hy benadruk die uitkoms vir almal wat by Stabilis betrokke is, is “uiters teleurstellend maar onvermydelik. Die organisasie betreur die impak wat hierdie situasie op pasiënte, personeel en hul gesinne het”.

“Die staatsubsidie is nie vir die 2026/27-finansiële jaar toegestaan nie, weens interne gebreke in die indieningsproses,” verduidelik Van Rensburg.

Ds. Wynand van Niekerk, uitvoerende hoof van SKDB Maatskappy NPC (SKDBM), het ook aan Rekord gesê die tekortkominge en gebreke in die subsidie-indiening kan aan Stabilis toegeskryf word en nie aan die Gautengse Departement van Maatskaplike Ontwikkeling nie.

Hy verduidelik dat Stabilis en SKDB Maatskappy NPC afsonderlike regsentiteite is. Die Stabilis-beheerraad is verantwoordelik vir strategiese besluitneming en toesig oor die sentrum, terwyl die bestuur die daaglikse bedrywighede hanteer.

Die Stabilis-naambord by die sentrum in Pretoria. Ná meer as ses dekades se diens sluit die rehabilitasiefasiliteit weens finansiële druk. Foto: Elize Parker

SKDBM het ’n ondersteunende rol gespeel en moes toestemming tot die sluiting verleen.

“Daar is tans ’n proses aan die gang om hierdie naam SKDBM amptelik te wysig. Die SKDBM se naam was ’n akroniem wat destyds verwys het na die Sinodale Kommissie vir Diens van Barmhartigheid Maatskappy,” verduidelik Van Rensburg.

Volgens hom het die SKDBM-direksie die nodige toestemming gegee vir die sluiting.

Hy beklemtoon dat die ontbrekende subsidie ’n faktor was, maar nie die enigste rede vir die sluiting nie.

“Die verlies aan hierdie inkomste het ’n reeds moeilike finansiële situasie verder vererger en die sentrum se vermoë om sy bedryfsuitgawes te dek, wesenlik beïnvloed,” sê hy.

Die beheerraad het op 29 Oktober besluit om die sentrum se bedrywighede te beëindig.

Volgens Van Rensburg het verskeie pogings om die finansiële posisie te stabiliseer nie daarin geslaag om ’n volhoubare oplossing te bied nie.

Verskeie ingrypings is volgens Van Rensburg gedoen om koste te besnoei en die sentrum se finansiële posisie te verbeter.

Dit het onder meer ’n Artikel 189-proses om personeelkoste te verminder, die beëindiging of vermindering van sekere dienste, die regstelling van agterstallige verpligtinge en pogings om bestuur te versterk, ingesluit.

SKDBM het ook maandelikse finansiële ondersteuning, administratiewe hulp en rekeningkundige dienste beskikbaar gestel. Kantoorspasie word tans verhuur.

Die beheerraad het ’n rekeningkundige spesialis aangestel en die sentrum se ouditeure gereeld geraadpleeg om duidelikheid oor die finansiële syfers en verslagdoening te verkry.

Die raad het ook alternatiewe ondersoek om inkomste te diversifiseer. Dit het onder meer die moontlikheid ingesluit om ’n welweessentrum vir buitepasiënte te ontwikkel, rehabilitasiedienste vir behoeftige adolessente aan te bied, psigiatriese dienste uit te brei en ondersteuning aan maatskappye en werknemers met substansgebruiksversteurings te bied.

Volgens Van Rensburg was dié moontlikhede deel van ’n breër poging om die sentrum se voortbestaan te verseker, maar dit was nie voldoende om ’n volhoubare bedryfsmodel te vestig nie.

Hy sê die meerderheid van pasiënte wat tans daar tuisgaan se huidige opname- en versorgingstydperke sal voor 30 November eindig.

Die sentrum onderneem om professionele sorg en ondersteuning tot aan die einde van elke pasiënt se ooreengekome opnameperiode te bied. Waar pasiënte ná die sluitingsdatum steeds versorging benodig, sal individuele reëlings getref word.

Dit is juis ook die verlies aan nasorg wat kommer wek by Charmiáne van Reenen, woordvoerder van die Christelike Afhanklikheidsdiens (CAD) Jakaranda.

“Worsteling met verslawing kan lewenslank duur. Rehabilitasiesentrums het gewoonlik ’n nasorgprogram wat by die behandelingskoste ingesluit was. Dus waarheen gaan al die mense wat voorheen behandeling in Stabilis gehad het nou?” vra sy.

Van Reenen sê Stabilis het nie net korttermynbehandeling gebied nie, maar ook langtermynbehandelingsopsies, ondersteuning aan families en bewusmakingsprogramme by skole, kerke, gemeenskappe en besighede.

Die sentrum se multidissiplinêre span het onder meer ’n psigiater, dokter en sielkundiges ingesluit. Volgens Van Reenen kon CAD-lede ook professionele advies by Stabilis se personeel kry.

Sy sê die samewerking tussen Stabilis en CAD het ’n belangrike ondersteuningsnetwerk gevorm. Die sentrum was ook ’n plek waar CAD voorheen vergaderings gehou het.

“Die behoefte aan sulke rehabilitasiedienste is baie groot. Daar is rehabilitasiesentrums in Pretoria wat deurgaans baie vol is,” sê Van Reenen.

Sy sê die sluiting laat CAD en kerke ook onseker oor waarheen hulle mense moet verwys wat behandeling of ondersteuning nodig het.

CAD vergader voortaan op Dinsdagaande om 19:00 by Valley Methodist Church in Ben Swartstraat.

DA-wyksraadslid Anru Meyer sê die sluiting is kommerwekkend omdat die behoefte aan verslawingsbehandeling volgens hom toeneem.

“Al hoe meer mense het behandeling nodig, maar dit blyk of daar al hoe minder plekke is wat staande bly,” sê Meyer.

Meyer beskryf die sluiting as ’n verlies vir die Moot-gemeenskap en sê Stabilis het oor baie jare ’n belangrike rol gespeel in die lewens van mense wat behandeling nodig gehad het.

Van Rensburg sê werknemers en die betrokke vakbond is oor die sluiting ingelig. Onderhandelinge oor moontlike afleggings en skeidingspakkette is aan die gang.

Stabilis en die vakbond ondersoek ook moontlike werksgeleenthede binne die breër netwerk van verwante instellings. Die bestuur help werknemers met die voorbereiding van professionele CV’s.

Hoewel die beheerraad die sluiting as die enigste realistiese uitweg beskryf, is die moontlikheid van ’n reddingsvoorstel nie heeltemal uitgesluit nie.

“Enige nuwe en geloofwaardige voorstel wat egter ’n volhoubare oplossing kan bied, sal verantwoordelik oorweeg word,” sê Van Rensburg.

Die Gautengse Departement van Maatskaplike Ontwikkeling is om kommentaar gevra oor die subsidie sowel as die moontlike impak van die sluiting op rehabilitasie- en nasorgdienste in die area.

Die woordvoerder van die Gauteng Departement van Sosiale Ontwikkling, Motsamai Motlhaolwa, het aan Rekord bevestig dat Stabillis Behandelingsentrum nie ’n befondsingsaansoek vir 2026/27 ingedien het nie.

“Die departement kan nie ’n organisasie befonds wat nie aansoek gedoen het nie, en dit is die rede vir nie-befondsing. Ons het ook geen rekord van diensgebruikers by die fasiliteit waarvoor die department verplig is om te betaal nie. Indien die organisasie uit eie beweging gebruikers toegelaat het wat nie kan betaal nie, bly daardie koste hulle verantwoordelikheid.”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button