Nederige bariton kyk nuut na Kersfees
Tobi Jooste se Kersproduksie "Onsigbare Genade" kombineer musiek en stories om gehore opnuut oor die betekenis van Kersfees te laat nadink. Die sanger wil mense herinner aan die klein oomblikke van genade wat maklik in die jaar se gejaag verlore raak.
Sanger en skrywer Tobi Jooste kom voor as ’n dromer met sy voete vas op die grond. Hy bly ook nuuskierig en leergierig oor die lewe.
Beslis ook avontuurlustig. Sy internasionale optredes en ervarings wys dat hy gemaklik is om buite sy bekende omgewing te beweeg en self graag nuut dink.
Vir hom is daar juis tussen Kersliedjies, herinneringe en stories ’n paar dinge wat ’n mens opnuut moet laat dink oor waaroor Kersfees eintlik gaan.
In sy Kersvertoning, Onsigbare Genade, wil hy sulke stories vertel wat mense laat stilstaan, glimlag en dalk iets raaksien wat hulle in die jaar se gejaag misgekyk het.
“Ek wil graag tydens die vertoning stories vertel so tussendeur die tradisionele liedjies want ek dink soms het ons ook nodig om ’n ander, nuwer perspektief op Kersfees te kry,” sê hy.
Vir hom is dié stories ’n manier om mense te herinner aan die betekenis van Kersfees, maar ook aan die klein oomblikke waarin genade dikwels ongemerk by ons verbygaan.
Hy wil staaltjies vertel wat dalk op die oog af eenvoudig klink, maar tog ’n groter waarheid dra.
Een van die stories is vol detail oor ’n bekende violis, ’n ware virtuoos, wat op ’n ongewone plek viool speel sonder dat mense hom herken. Hy sien in die ware verhaal die groot waarheid dat “ons soms maklik verby iets besonders stap sonder om dit raak te sien. Soms herken ons ook nie God se genade nie”.
Kersfees roep by hom ook herinneringe aan sy kinderdae op. Deesdae word sy besoeke aan die plaas op Kersfees dikwels op die laaste nippertjie gereël, maar die kleintydgevoel van “Kersfees voel soos vakansie” en die verwagting dat alles goed sou afloop, het ’n blywende indruk gelaat.
“Ek wil stories vertel van toe mense nog gevoel het dis Kersfees en als gaan reg wees,” vertel hy.
Ná ’n lang jaar het mense volgens hom soms net ’n geleentheid nodig om asem te haal. Die vertoning wil juis ’n geleentheid skep vir mense om mekaar beter te verstaan en weer bewus te word van Jesus se genade.
Sy liefde vir stories strek veel verder as dié Kersproduksie. Hy skryf ook boeke en sê dat skryfwerk dikwels begin by vrae wat hy self probeer verstaan.
“Die goed wat ek skryf, skryf ek eintlik as antwoorde op my eie vrae. Soms verstaan ek myself eers wanneer ek woorde op skrif sien.”
Hy is die skrywer van gewilde niefiksie- en ander boeke, waaronder Inluister, Daar is ‘n Eiffeltoring in sy boedel en die meer onlangse Babs gaan Bali toe.
Hy het al verskeie rolle in die vermaaklikheidsbedryf vertolk: as sanger, TV-aanbieder, model en skrywer. Hy tree ook as motiveringspreker op.
Kenmerkend is dat hy deurentyd bereid is om met nuwe musiekstyle en klanke te eksperimenteer sonder om sy eie identiteit prys te gee.
Sy musiekloopbaan het in 2007 begin. As bariton sing hy in verskillende tale, onder meer Afrikaans, Engels en Italiaans. Hy het ook sewe jaar lank operakuns bestudeer. Tog was musiek nie die enigste loopbaanrigting wat op hom gewag het nie. Hy moes op ’n stadium kies tussen ’n internasionale modelloopbaan in Parys en musiek.
Musiek het uiteindelik gewen. Deur die jare het hy verskeie albums uitgereik, waaronder Sprei Jou Vlerke, Onthou Jy, en Hartkamers. Hy het ook op TV verskyn in programme soos Reik na die sterre en Paparazzi.
Sy loopbaan het hom al op uiteenlopende verhoë geneem. Een van die besonderse ervarings was ’n optrede in Wembley-stadion voor sowat 30 000 mense. Hy het ook in die operahuis in Kaïro saam met die Mpumalanga-jeugkoor opgetree.
Nie al sy musiekvertonings het voor groot gehore plaasgevind nie. Tydens ’n besoek aan Oostenryk het hy in ’n ou kerk Amazing Grace begin sing. ’n Russiese straatmusikant het met sy viool by hom aangesluit. Hulle kon nie met mekaar praat nie, maar het deur die musiek ’n besondere oomblik gedeel.
Ná ’n onderbreking van agt jaar het Tobi weer onlangs nuwe musiek begin uitreik. Tydens die Covid-tydperk het hy die tjello leer speel, en dié instrument het ook deel geword van sy nuwe musikale rigting. Sy liedjie Ek mis jou lyf, geskryf deur Sunette Bridges, het tango- en tjello-elemente ingesluit.
Hoewel hy op die verhoog ’n ekstrovert is, is stilte vir hom buite die kollig belangrik. Ná ’n vertoning verkies hy om so gou moontlik huis toe te gaan. Daar lees hy graag of speel tjello. Hy beskryf homself as iemand wat mense geniet, maar ook tyd alleen nodig het.
Hy begin sy oggende graag rustig en hou die tyd tussen ses- en agtuur soggens oop vir administratiewe werk en take wat aandag nodig het.
Hy sê mense beskryf hom dikwels as ’n “ou siel”, en hy voel maklik tuis in die geselskap van ouer mense.
Vir hom is die verhoog ’n plek wat met respek benader moet word. Hy glo mense moet ná ’n vertoning beter voel as toe hulle daar aangekom het.
Met Onsigbare Genade hoop hy om juis só ’n oomblik van stilte en nadenke vir sy gehoor te skep. “Stories kry soms groter waarhede by mense uit as filosofieë.”
– Die vertoning Onsigbare Genade word op 26 November om 18:00 vir 18:30 in Kerk-in-Suid-gemeente aangebied.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel
