Local news

Internasionale organisasie sit hand by om 18e Laan in Moot skoon te maak

Altesaam 72 vrywilligers het ’n plastieksak en ander gereedskap gekry om die vullis op te tel, wat dan na ’n vullisterrein in die Tswhane-afvalafdeling vervoer is.

Lede van die Moot-gemeenskap en ’n internasionale vrywilligersorganisasie het Sondagoggend hande gevat om 18e Laan in Rietfontein naby die spruit skoon te maak.

Wyksraadslede Mari Joubert en Roche Grebe het in samewerking met Asez Wao gewerk om die skoonmaak te reël.

18e Laan loop parallel met die Moot-spruit wat deur die jare aan uitgebreide storting en besoedeling onderhewig is, wat ’n groot bekommernis vir Moot-inwoners geword het.

Die span het ook gevoel dat dit belangrik is om die area te verfraai en inwoners toe te laat om trots te voel op hul dorp.

Vrywilligers het plastieksakke gebruik om die vullis te verwyder.

Altesaam 72 vrywilligers het ’n plastieksak en ander gereedskap gekry om die vullis op te tel, wat dan na ’n vullisterrein in die Tswhane-afvalafdeling vervoer is.

“Ons is baie tevrede met die metro wat inspring om ons hiermee te help,” sê Joubert.

“Ons het regtig ’n groot gebied skoongemaak, maar die stryd lê nog voor ons en ons het met Azes Wao gereël om voort te gaan met ons werk in die toekoms.”

Abbigail van Diggelen, ’n lid van Azes Wao was baie bly oor die hoeveelheid vrywilligers wat Sondag opgedaag het.

Foto; verskaf
Besoedeling in die spruit is ‘n bron van kommer vir baie lede van die Moot-gemeenskap.

“Ons was daar van 08:00 tot 11:00 en ek is so trots op ons span en hoe hard ons gewerk het,” sê sy.

“Dit was nie so erg as wat ons gedink het dit sou wees nie, maar ons was so deeglik as wat ons moontlik kon.

“Mari en die metro het ons regtig gehelp met sakke en ander gereedskap wat ons nodig gehad het.

“Ons organisasie is wêreldwyd, so ons het studente van Korea gehad om ons te help, wat wonderlik was om te sien.”

Alhoewel sy tevrede is met hoe die opruiming verloop het, moedig Joubert steeds Moot-inwoners aan om enige onwettige storting aan te meld by die stadsraad.

Volgens haar het die metro planne in plek om meer stortingsterreine te bou in ’n poging om onwettige storting hok te slaan.

Vrywilligers van oorsee het ook gehelp.
Foto: verskaf

“Dit is net ongelooflik om elke dag meer en meer besoedeling in ons parke en die spruit te sien.

“Die metro bestee meer as R140-miljoen om van die afval ontslae te raak, maar hierdie fondse kan vir beter dienslewering aangewend word.

“Ons as inwoners moet regtig besef dat die toestand van die spruit ’n direkte impak op ons lewenskwaliteit het.

“Die dae van ledig sit is verby, dit is tyd om hande te vat en ’n verskil in ons omgewing te maak.”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button