Aitsa Trust bederf vanjaar bejaardes saam met Helpende Hand
"Hierdie geskenkies is ’n blykie van waardering om vir bejaardes te wys dat hulle nie vergete is nie." Wil jy deel wees hiervan?
Die Aitsa Trust, wat vanjaar die derde keer hul Aitsa Afrikaanse Musiektoekennings aanbied beplan om kersgeskenke vir bejaardes wat in munisipale aftree-oorde in dele van Pretoria woon, bymekaar te maak.
Dié spesiale geskenke sal oor die Kersseisoen aan bejaarde inwoners van aftreeoorde in dele van Pretoria oorhandig word.
Solidariteit Helpende Hand se Moot-Wes tak en Pretoria FM het hul ook aan hierdie projek verbind.
Lede van die publiek en besoekers by die toekenningsaand van die Aitsas op Dinsdag, 29 November, by die Choose Life Ouditorium in Moreletapark Pretoria word versoek om ’n skoenboks met lekkernye en nie-bederfbare geskenke te vul. Hulle kan dit onder die kersboom spesiaal vir die projek plaas.
Of hulle kan dit hierdie week by Pretoria FM se kantoor op die Tweede Vloer Blok A, Loftus Park afgee.
“Vanjaar is die 10e jaar wat Helpende Hand se Moot-Wes tak gedurende die kersseisoen die skoenboksprojek aanpak.
“Die tak wil soveel as moontlik bejaardes bederf met ’n skoenboks gepak uit liefde en vol bederfies.
“Ons hoop om deur die handevat met die Aitsa Toekennings en Pretoria FM, die projek na nuwe hoogtes te neem om nog meer behoeftige bejaardes in ons gemeenskap te laat baat,” sê Mariana Kriel, die streekorganiseerder van Helpende Hand Pretoria-streek.
“Baie bejaardes is alleen gedurende die Kersseisoen met absoluut geen vooruitsig om geskenkies saam met geliefdes oop te maak nie.
“Hierdie geskenkies is ’n blykie van waardering om vir bejaardes te wys dat hulle nie vergeet word nie.”
Van die items wat in die skoenboks gepak kan word, sluit in:
– Lekkergoed en nie-bederfbare peuselhappies
– Koekies
– Handeroom of lyfroom
– Lekkerleesboek
– Kniekombersie; lekkerruik seep en ’n waslappie
– Skryfblok en pen.
Trek die skoenboks mooi vrolik oor en sit gerus ook ’n persoonlike briefie in.
Skenkers kan ook die produkte skenk wat personeel van Helpende Hand en Pretoria FM dan self in geskenkpakkies sal verpak.
Volgens die voorsitter van die Aitsa Trust, Willie Spies is dit vir hulle ’n voorreg om op dié manier terug te ploeg in die gemeenskap.
“Ons pak jaarliks verskeie liefdadigheidsprojekte aan en dit is veral met Kerstyd vir ons lekker om mense in nood te bederf,” sê Spies.
“Vanjaar se Aitsa-toekenningsgeleentheid vind reeds in die Kersseisoen plaas, daarom maak dit net sin dat ons ook van die Aitsas ’n omgee-geleentheid maak.
“Daarom kan mense hulself bederf met ’n Aitsa-kaartjie en tegelyk iets goed doen vir ons gemeenskap wat swaarkry en uitsien na die rus van Kersfees.”
Kaartjieverkope vir vanjaar se Aitsa-toekenningsgeleentheid vorder fluks met twee-derdes van die kaartjies wat reeds uitverkoop is.
Belangstellendes moet gou spring en hulle kaartjies by www.iTickets.co.za aanskaf.
Vir meer inligting, kontak Mariana Kriel van Helpende Hand op 084 952 5837 of Willie Spies, voorsitter van Aitsa Trust 083 676 0639.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
