Local news

Juan Boucher skryf spesiale liedjie vir dogter

“Elke vrou, moeder, ouma en kleinkind is ’n dogter vir iemand, en hierdie liedjie verduidelik dit so mooi.”

Pretoria sanger, Juan Boucher het ’n nuwe enkelsnit spesiaal vir sy dogter geskryf.

“Ek wil graag eendag op hierdie liedjie met my dogter dans by haar troue,” sê Juan Boucher oor die inspirasie agter sy splinternuwe enkelsnit, “Dogter”, wat beslis vir ander pa’s en dogters net soveel spesiale betekenis gaan inhou in die toekoms.

Hierdie lied, wat vanaf die eerste noot aan die hartsnare tokkel, kom uit sy eie pen en is vervaardig deur Tertius Human.

“Daar is al baie liedjies met pragtige titels, maar hoe pragtig is die woord en die titel ‘Dogter’ nie net so op sy eie nie.

“Elke vrou, moeder, ouma en kleinkind is ’n dogter vir iemand, en hierdie liedjie verduidelik dit so mooi,” deel hy.

“Dit is baie uniek, omdat daar nog nooit voorheen so iets geskryf is nie en dis vir my ’n groot voorreg om dit te kan sing en opdra aan my eie dogtertjie.”

’n Nostalgiese musiekvideo van die snit, wat regoor die land verfilm is, sal ook eersdaags beskikbaar wees en die sanger is baie opgewonde om dié konsep, wat hy saam met Quintin van der Merwe opgetower het, met sy aanhangers te deel.

“Ons wil graag met dié video in ons kultuur vasvang hoe lief pappas vir hulle dogters is,” sê hy.

Na meer as ’n dekade van sukses in die Suid-Afrikaanse vermaakbedryf, het Juan beslis geen bekendstelling nodig nie.

Hierdie bekroonde Vaaldriehoeker, met sy growwe stem, lekkerluister-lirieke, ritmiese musiek en vermaaklike verhoogpersoonlikheid, het oor die jare diep in sy ondersteuners se harte kom nesskop.

Vandag is dié sanger en liedjieskrywer ’n gevestigde naam, meer as agt goue- en platinumverkoper ateljee-albums, talle radiotreffers en verskeie musiektoekennings op sy kerfstok.

Hy is ook deesdae die trotse eienaar van die kleremaatskappy, Bouch Clothing, en die skrywer van die boek Die stories agter my potlood.

Hy en sy vrou het ook onlangs ’n stuk grond in St. Helenabaai in die Weskus gekoop, waar hy graag eersdaags ’n restaurant wil oopmaak.

Wanneer hy nie op die verhoog is nie, tree hy op as beskermheer vir ’n huis van veiligheid vir babas sonder heenkome en geniet hy dit om tyd saam met sy vriende en familie te spandeer rondom die braaivleisvuur.

Hy sien ook baie daarna uit om in 2023 ’n Bruce Springsteen-vertoning in Ierland by te woon.

“Dogter” volg in die suksesvolle voetspore van sy mees onlangse treffer “Koue Hande”, wat reeds met meer as twee miljoen kyke op YouTube spog, asook ander groot treffers waarmee hy naam gemaak het.

Juan Boucher is tans een van die grootste name in die Afrikaanse musiekbedryf en met “Dogter” bewys hy weereens hoekom hy al soveel sukses as musikant bereik het.

Kyk hier na die video:

ALSO READ: Quiet start to Black Friday in Pretoria

Do you have more information about the story?

Please send us an email to editorial@rekord.co.za or phone us on 083 625 4114.

For free breaking and community news, visit Rekord’s websites: Rekord East

For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button