Local news

Malgisedek ’n onooglikheid vir Moot-inwoners

Inwoners sê die gebou is 'n brandpunt vir dwelmmisbruik en prostitusie.

Malgisedek, ’n lank veroordeelde en verlate woonstelkompleks, het ’n brandpunt vir dwelmmisbruik, prostitusie en ander onwettige aktiwiteite in die Moot oor die jare geword.

Moot-inwoners gee om vir hul omgewing en maak werk daarvan om dit op te knap en skoon te hou.

Maar op die hoek van Annie Botha-laan en Johan Heynsstraat in Riviera begroet ’n baie onaangename en kommerwekkende gesig ’n mens, naamlik Malgisedek.

Riviera-inwoners raak al hoe meer gefrustreerd met die metro se gebrek aan optrede om die kwessies wat die gebou teister, aan te spreek.

Hulle voel die gebou maak hul buurt onveilig en dat dit ’n nes vir onwettige aktiwiteite geword het.

“Dit gaan al jare so aan,” sê inwoner Mark Weston.

“Dit het ’n den vir dwelmmisbruik en prostitusie geword.

“Ons as gemeenskap het al verskeie gesprekke met die metro gehad, maar hulle kom nooit hul beloftes na nie.”

Weston is deel van die Home Owners Association in die omgewing en sê Malgisedek het oor die jare gelei tot ’n afname in eiendomswaarde in die gebied.

“Niemand wil langs sulke plekke bly nie en dit gee ons omgewing ’n baie slegte naam.

“Die metro het ’n paar jaar gelede gesê hulle het planne om die plek te sloop, maar dit het nooit tot uitvoering gekom nie.

“Ons is gefrustreerd en ons wil antwoorde hê.”

Wyksraadslid Mari Joubert sê Malgisedek is al vir baie jare ’n opdraande stryd.

“Malgisedek was en is al ’n onooglikheid vir baie jare.

“Daar was ’n belofte in 2020 Mei dat die Tshwane metroraad die gebou gaan sloop,” sê Joubert.

“Na volgehoue druk, het ek in Desember antwoord gekry dat die SAPS en metropolisie besig is om inwoners te vra om solank alternatiewe blyplek te kry.”

In Desember verlede jaar het sy gereël vir ’n skoonmaak-aksie.

“Ongelukkig mag ons afdelings nie binne skoonmaak nie, net buite die gebou.”

Joubert sê hulle kry baie druk van die gemeenskap.

“Daar was veral druk van verskeie inwoners in Riviera, Rietfontein en Capital Park.

“Ek het Maandag weer opgevolg oor die uitsettingsbevele en dit behoort teen Februarie uitgereik te word. Daar is ook nog kwessies aangaande die sloping en die bedrag/kostes daaraan verbonde.”

Volgens Joubert het die metro R143-miljoen spandeer aan onwettige storting.

“Ons kan nie langer duld dat Malgisedek daar staan en die plek net verder verval en die inwoners om die gebou se huiswaardes val nie.

“Dis ook nie baie veilig in die area nie, die kriminaliteit kring uit na die Parkie-hoek van Johan Heyns en verder,” sê sy.

“Iemand het ’n petrolstasie in die area se dak in die nag afgebreek om te gaan verkoop in Pretoria Wes vir skrootmetaal.

“Dit is hoe erg dit raak hier by ons.”

In 2021, het die metro ’n aksieplan vir Malgisedek uitgelê.

Die aksieplan was in twee fases verdeel.

Die eerste fase was om te verseker dat die eiendom veilig is en dat die metro beheer neem en die eiendom so goed moontlik bestuur.

Hierdie fase is ook om te verseker dat kwalitatiewe inligting verkry word wat ook fase twee van die plan sal inlig.

Fase twee is die uitvoeringsfase vir die skoonmaak van die eiendom en die daaropvolgende sloping van die geboue en die beveiliging van die terrein.

Die metro het egter tot dusver nie hul beloftes nagekom nie.

Die Tshwane metro het teen druktyd nog nie op navrae gereageer nie.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button