Rok na 85 jaar weer tuis by Voortrekkermonument
In 1938 het ’n groep vroue in ’n erewag tydens die hoeksteenlegging voor die monument gestaan. Vyf-en-tagtig jaar later het twee susters hul ouma se rok aan die Voortrekkermonument kom skenk.
Twee sussies, Maxine Sutherland (79) en Sarie Volschenk (69), het verlede week by die Voortrekkermonument aangeklop om ’n ou rok wat aan hul ouma behoort het, aan die monument te skenk.
Hul ouma het hierdie rok tydens die 1938-hoeksteenlegging van die monument gedra. ’n Groep vroue, wat elk afstammelinge van historiese leiers was, het destyds in ’n erewag voor die monument gestaan.
Volgens die VTM, is Sutherland en Volschenk direkte afstammelinge van Marthinus Wessels Pretorius en vandag, 122 na sy dood en 85 jaar na die hoeksteenlegging, het hulle by die VTM kom kuier om die storie van hul familie en die oranje rok te vertel.
Sara Cornelia Carter (néé Pretorius), die dogter van Henning Pretorius is op 21 September 1884 gebore.
Sy was een van 11 kinders.
Op 19-jarige ouderdom, tydens die Anglo-Boereoorlog het sy haar man, Harry Carter, ’n Britse soldaat ontmoet en dit is hier waar die storie werklik begin.
As jong vrou is Sara getroud met die Britse Carter.
Die twee hat saam vyf kinders gehad: Harry Richard Carter, Allan Henning Carter, Helen Muriel Cronje, Douglas Norman Carter, en William Oscar Montaque Carter.
“Ons was vier sussies in ons gesin,” vertel Sutherland. “Ons almal het kenmerkend Engelse name en in 1954, toe my jongste suster gebore is het ons ouma aangedring dat ten minste een van ons Afrikaanse name moes hê.
“Sarie is na ons ouma vernoem en daarom het sy ook na haar afsterwe dié rok geërf.”

Foto: verskaf
Sutherland vertel dat dit vir hulle steeds belangrik is om haar ouma se nalatenskap en hul familiegeskiedenis oor te vertel en daarom het hulle besluit om die spesiale skenking te maak.
“Ons het saam besluit dat ons graag eendag ons familie-erfenis wil beskerm, daarom het ons die rok hier by die VTM, waar dit hoort, kom bêre vir die toekomende geslagte,” sê sy.
Sutherland (een van Carter se kleinkinders) het tydens hul besoek aan die VTM vertel dat haar ouma baie trots was op haar familiegeskiedenis en selfs na al hierdie jare is dit ’n eienskap wat haar kleindogters by haar oorgeërf het.
Monique Lubbe, die VTM se museumtegnikus, het op haar beurt gesê dat skenkings soos hierdie van onskatbare waarde is.
“Ons help om die verlede te verstaan én die verhale te beskerm.
“Om só skenking te ontvang, beteken vir my ongelooflik baie. Dit is so spesiaal om tasbare bewyse te kan sien van die geskiedenis, anders as op ’n foto,” het sy vertel.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
