Local news

Helpende Hand plaas kollig op maatskaplike werkers

Helpende Hand wil die publiek bewus maak van die noodsaklike rol wat maatskaplike werkers het in die saamelewing speel.

Helpende Hand Solidariteit wil die publiek meer inlig oor maatskaplike werkers en hul noodsaaklike rol in die samelewing.

Internasionale Maatskaplike Werkersdag vind op 21 Maart plaas.

“Die noodsaaklike rol wat maatskaplike werkers op ’n daaglikse grondslag in die samelewing vervul, gaan egter dikwels met ’n negatiewe assosiasie gepaard.

“Die publiek is meestal onbewus van die onmisbare dienste wat ’n maatskaplike werker in ’n gemeenskap lewer,” sê Christia Potgieter.

Potgieter is self ’n maatskaplike werker en hoof van Solidariteit Helpende Hand se maatskaplike werk dienste-afdeling.

Volgens ’n persverklaring het Solidariteit Helpende Hand ’n peiling onder die publiek gedoen om mense se menings oor hierdie professie te hoor.

Volgens die terugvoer van die peiling het die meerderheid mense al te doen gehad met ’n maatskaplike werker en alhoewel die meerderheid se ervaring positief was, was daar heelparty mense negatiewe ervarings gehad het.

Hierdie ervarings manifesteer gewoonlik wanneer ’n kind uit ouerlike sorg verwyder moet word.

“Die publiek is egter nie altyd ingelig oor die ware toedrag van sake, naamlik dat die maatskaplike werker nié die bevel om kinders uit ouerlike sorg te verwyder, uitreik nie.

’n Bevel mag slegs deur ’n landdros van die kinderhof uitgereik word en daar word deeglik ondersoek na die ouers se omstandighede ingestel.

Die Kinderwet no. 38 van 2005 stel duidelike instruksies oor die inligting wat vir ’n kinderhofverslag benodig word.

“Gevolglik word ’n maatskaplike werker dikwels verkeerdelik beskuldig dat sy/hy ‘net kinders van hulle ouers wegvat’,” sê Potgieter.

Sy sê nog ’n wanpersepsie oor die beroep is dat ’n maatskaplike werker nié oor ’n kwalifikasie hoef te beskik nie. Die waarheid is egter dat ’n maatskaplike werker oor ’n vierjaar-graad moet beskik en ook by die Raad van Maatskaplike Werkers (South African Council for Social Services) geregistreer moet wees.

Die raad is die waghond van die professie en indien ’n maatskaplike werker hom/haar skuldig aan onetiese of onprofessionele gedrag skuldig maak, stel die raad ondersoek in en kan hulle sover gaan om ’n maatskaplike werker van die rol te skrap.

Maatskaplike werk is dus ’n professionele en etiese beroep.

Solidariteit Helpende Hand se maatskaplike werk dienste-afdeling gaan gedurende Maart, ter viering van Internasionale Maatskaplike Werkersdag, ’n bewusmakingsveldtog van stapel stuur om die publiek van nuuts af te herinner aan hiérdie eerbare en noodsaaklike beroep.

Potgieter vertel meer oor die veldtog: “Ons wil bewusmaking skep oor wat maatskaplike werkdienste behels, die verskillende fasette van die professie, nodige kwalifikasies, die noodsaaklikheid van gemeenskapontwikkeling asook inligting aan die publiek verskaf rakende aanmeldbare sake en watter prosesse gevolg moet word.

Daar word nou, meer as ooit tevore, baie druk op individue, gesinne en gemeenskappe se emosionele, finansiële en fisiese welstand geplaas en maatskaplike werkers speel ’n integrale rol om hoop uit wanhoop te skep.”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button