Bejaarde kry geskenk van gehoor na huisinbraak
"Toe ek wakker skrik, het daar twee mans in my kamer gestaan en hulle het vir my gewys ek moet stilbly."
’n Bejaarde vrou van Pretoria is onlangs in haar huis in ’n aftreeoord oorval, aangehou en beroof van byna al haar besittings, asook haar gehoorapparate.
Ria de Beer, die 77-jarige slagoffer, vertel sy het op 17 Januarie om 04:00 wakker geskrik toe twee mans toegang tot haar huis in die Agapé-huis in Pretoria se Moot verkry het.
“Toe ek wakker skrik, het daar twee mans in my kamer gestaan en hulle het vir my gewys ek moet stilbly.
“Ek het saamgewerk want ek wou nie skreeu en dan veroorsaak dat van die ander inwoners in gevaar kom nie,” sê De Beer.
Sy het in haar bed bly lê terwyl hulle haar kamer geplunder het – van haar handsak, eetgoed en selfoon tot toiletware en die boksie waarin haar gehoorstukke was.
Een van die verdagtes het in ’n stadium uit die huis geloop en toe ’n alarm afgaan, het hulle met hul buit op die vlug geslaan.
Die oord se bestuur het na bewering die Villiera-polisie ontbied en dié het twee beamptes na die toneel gestuur.
Hulle het De Beer nie ondervra nie maar versoek om later die dag ’n verklaring by die polisiestasie te gaan aflê.
Sy het egter net ’n bejaarde suster en geen ander familie wat haar kon bystaan nie, daarom kon sy nie by die polisiestasie kom om die verklaring af te lê nie.
Sy het ook nie kans gesien om weer al die trauma te ervaar nie.

Buiten die trauma, is De Beer ongedeerd.
“Ek skrik nog soms in die nag wakker van die vrees, maar dan sê ek net ‘Wyk, Satan’ en raak weer rustig.”
De Beer sê die ondersteuning wat sy ná die nagmerrie ervaar het, veral van haar kerk – die Queenswood NG-gemeente – is ongelooflik.
Sy het nie geweet daar is nog so baie mense wat omgee en uitkyk vir mekaar nie.
Lede van Solidariteit Helpende Hand se tak vir Gehoorgestremdes is oor De Beer se voorval ingelig en het met die hulp van die Oorinstituut in Queenswood gehelp dat De Beer nuwe gehoorapparate ter waarde van sowat R35 000 kry.
Met hierdie gebaar, wat onder die vaandel van Helpende Hand se HelpHoor-projek gedoen is, het Helpende Hand en die Oorinstituut Wêreldgehoordag op 3 Maart gevier.
Die HelpHoor-projek poog om tweedehandse gehoorapparate wat deur weldoeners geskenk is te laat diens en aan behoeftige mense en bejaardes beskikbaar te stel.
De Beer het die Oorinstituut se oudioloog, dr. Marinda Uys, en Helpende Hand se Suzette Oosthuizen geloof vir hul omgee en ondersteuning wat haar gehelp het om weer die gawe van goeie gehoor te kan ervaar.
“Ons is bly dat ons ter viering van Wêreldgehoordag weer die wêreld vir iemand kan oopsluit en die stilte verbreek sodat sy kan radio luister, televisie kyk en oor die telefoon kan praat. Ons kan nie die trauma wegvat nie, maar ons kan haar weer in verbinding met die buitewêreld sit,” sê Oosthuizen.
Uys, senior oudioloog en lid van die tak vir Gehoorgestremdes, sê die Oorinstituut is trots om betrokke te wees by Helpende Hand se HelpHoor-projek.
“Ons wil graag iets aan die gemeenskap teruggee.
“Gehoor is ’n gawe waarsonder die lewe verskriklik eensaam kan word.
“Ons wil mense help om weer te kan hoor sodat hulle aktief aan die aktiwiteite rondom hulle kan deelneem en sosiale interaksie met vriende en familie kan geniet,” sê Uys.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
