AfriForum teenboelieveldtogspan besoek Oosterlijn Voortrekkers
“Dit is vir AfriForum belangrik om saam met ons land se jeug te werk om ’n verskil te maak en afknouery in gemeenskappe en skole hok te slaan,” sê Leandie Bräsler, AfriForum se bestuurder vir jeugleierskap.
AfriForum se teenboelieveldtogspan het op 3 Maart die graad 8 Verkenners van Oosterlijn Voortrekkers by die Sol-Tech-kampus in Pretoria besoek.
Dié veldtog dien as bewusmaking van afknouery onder die jeug.
AfriForum het verlede jaar op 10 September, Wêreldselfdood-bewusmakingsdag die film Die Val vrygestel.
“Dit is vir AfriForum belangrik om saam met ons land se jeug te werk om ’n verskil te maak en afknouery in gemeenskappe en skole hok te slaan,” sê Leandie Bräsler, AfriForum se bestuurder vir jeugleierskap.
“Veilige skole sorg ook vir ’n veilige gemeenskap, nie net nou nie, maar ook vir die toekoms.
“Die leerders het #DieValFilm op AfriForumTV gekyk.
“Hierdie film skep bewusmaking oor boeliegedrag en selfdood en bemagtig leerders met die nodige kennis en vaardighede om as ’n leier in situasies op te tree waar afknouery plaasvind – om boeliebestand te wees.
“Hierdie film fokus veral ook op kuberafknouery, juis omdat dit deesdae ’n groot probleem onder tieners is,” sê Bräsler.
Die program het ten doel om die jeug ’n sin van gemeenskap te gee.
“In Die Voortrekkers kweek ons ’n ingesteldheid by leerders, veral op hoërskool, om diensbare leiers te wees wat waarde-gedrewe besluite neem om sodoende ’n gemeenskap te help bou,” sê Mauritz Meiring, Oord Oosterlijn se sekretaris.
“’n Gemeenskap wat hul sosiale verantwoordelikheid teenoor mekaar verstaan en dít wat daarmee gepaardgaan tot almal se voordeel kan uitleef.
“Die Voortrekkers bied leerders die geleentheid om nouer te kan skakel met ander organisasies en belangegroepe om te verseker dat selfdood en boeliegedrag by tieners uitgeskakel kan word,” sluit Meiring af.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
