Nuwe enkelsnit van Melanie J
“Prediker 4:9-12 en my eie verhouding was die inspirasie agter 'Twee Is Beter As Een',” vertel sy.

Die lewe is nie altyd maklik nie, maar met God se genade en genoeg deursettingsvermoë sal jy nie net heel aan die anderkant uitkom nie, maar ook jou doelwitte bereik en ’n kans hê om ’n verskil te maak.
Só getuig Melanie J, wat pas ’n treffende nuwe enkelsnit vrygestel het, nadat sy heelwat struikelblokke moes oorkom om te wees waar sy vandag is.
Dié sangeres, wat haar musiekopleiding by COPA gedoen het en naam gemaak het as wenner van die PACISA-sangkompetisie, beskou dit as haar roeping om mense te help genees en om nader aan God te leef.
Met haar derde enkelsnit, “Twee Is Beter As Een”, gebruik sy juis haar eie liefdesverhaal as getuienis dat wanneer jy op God vertrou, alles in jou lewe op die ou einde in plek sal val.
Hierdie geestelike Afrikaanse popsnit, wat sy saam met Jolanda Becker geskryf het, gaan oor ’n verhouding wat, ten spyte van fisiese afstand en uitdagings, gegroei het tot ’n betekenisvolle liefdesverhouding wat in geloof saam gebind is.
“Prediker 4:9-12 en my eie verhouding was die inspirasie agter ‘Twee Is Beter As Een’,” vertel sy.
“In die liedjie is daar ’n deel wat sê: ‘Ek het jou jare reeds liefgehad, in gebede was jy geskryf.’
“Ek en Donovan ken mekaar nou wel nie vir jare nie, maar waarvoor ek vir so lank gebid het, het waar geword toe ek hom ontmoet het.
“Nie een van ons het gedink dat ons iemand spesiaal gaan vind nie, maar min het ons geweet watter wonderlike plan God vir ons het.
“Vandag is ons getroud.”
Die liedjie, met sy diep lirieke en lekkerluister-wysie, is deur Jattie de Beer van Artistry Productions vervaardig en die doel daaragter is om vir diegene hoop te gee wat al opgegee het op die liefde.

“Al verstaan ons nie die seer waardeur ons nou gaan nie, sal daar ’n dag kom wanneer ons wel sal begryp hoekom ons sekere dinge moes ervaar.
“Soms kom liefde nie wanneer ons dit graag wil hê nie, maar wanneer ons vrede gemaak het met waar ons is en wie ons groei om te wees.”
’n Musiekvideo, wat net so indrukwekkend is soos die snit self, sal ook binnekort beskikbaar wees.
Alhoewel Melanie J grootgeword het in die klein plattelandse dorpie, Ladysmith, het sy nog altyd groot musiekdrome gehad en was sy nog nooit bang om hard te werk om haar drome te verwesenlik nie.
“Ek was nog altyd passievol oor musiek.
“Nie net is dit my manier om van realiteit te ontsnap nie, maar ook om my gevoelens weer te gee en mense se harte te raak,” sê sy.
Die 21-jarige musikant is nou al vir drie jaar in die musiekbedryf doenig en het reeds verskeie hoogtepunte in haar loopbaan bereik, soos om die nommer-een posisie te haal op Bosveld Stereo se top 20-treffersparade met haar liedjie “Verdwaal”.
Om harte te help genees met haar musiek, bly egter vir haar die grootste voorreg van wat sy doen, aangesien sy self al baie seer moes verwerk en in 2019 haar eie lewe probeer neem het.
“Dit is nie noodwendig ’n prestasie nie, maar ’n eer dat daar soveel jong dames en mans uitgereik het na my toe oor gebroke harte en hoe om maniere te vind om nader aan die Here te kom.
“Dit gee my betekenis as ’n kunstenaar en mens,” verduidelik die sanger.
Do you have more information about the story?
Please send us an email to editorial@rekord.co.za or phone us on 083 625 4114.
For free breaking and community news, visit Rekord’s websites: Rekord East
For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram
