EntertainmentLocal news

Musiekblyspel vertel ‘n menslike verhaal van die grensoorlog

Musiek, dans en sang bring 'n diep boodskap op ligte trant.

Pretoria hoef vir niks of niemand terug te staan wanneer dit by kreatiewe talent kom nie. Die musiekblyspel Die Kaplyn is ’n bewys hiervan.

Talentvolle jong sangers neem die gehoor op ’n familiereis wat hul seuns sien oorlog toe gaan – as parabats by die bekende Tempe- opleidingskool.

Die gehoor is teruggeneem na die jare van diensplig, “browns” en tannie-pakkies. Die ouers en sibbe wat afwagtend tuis sit en skryf, en dan wag vir ’n brief. Of dalk die slegte nuus wat saam met ’n uniform die voordeur inkom.

Die kreatiewe span wat hierdie blyspel op die planke gebring het, is skrywer en regisseur Jannes Erasmus; Jacomien de Wet wat met Johan Vorster saamgewerk het as musiek- en liriekskrywer; Johan Vorster, wat nie net as Generaal Joubert in die hoofrol sy stem laat hoor het nie, maar het ook nog as storie en konsepskrywer, musiekregie en teks gehanteer. Francois Lessing was orkestrasie en musiekregisseur.

Carl Trautman is Majoor du Toit

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van Afriforum sê dat hierdie musiekblyspel nie net erkenning aan vorige geslag se opofferings tydens die grensoorlog wil gee nie, maar ook ’n duidelike boodskap wil stuur dat dit nie verniet was nie.

Die Kaplyn, wat ’n rooi strook grond was tussen die grens van Namibië en Angola, is simbolies van verskeie dinge, soos in die blyspel uitgebeeld word: die grense tussen twee broers, tussen ’n pa en seun… en die tema van die blyspel is weliswaar nie oorlog nie, maar menslike ervaringe wat tydens die oorlog beleef is. Dit is beslis ’n weerspieëling van baie werklike families.

In die woorde van kreatiewe regisseur Jannes Erasmus: “’n Oorlog is ’n oorlog, met of sonder wapens. My grootste wens vir jou is dat jy die moed sal vind om jou oorlog te oorwin, dat jy jouself nie sal aanhou diskwalifiseer op grond van jou verlede nie, want Hy ontmoet jou nes jy is, waar jy ook al is.”

Ilan van Staden is Ben Joubert

Die name wat in die toekoms nog baie te sien gaan wees, is Jackie Lulu, Dihan Keun, Révan Luüs, Deirdré Barnard, Anika de Beer, JJ Roberts, Ilán van Staden as Ben Joubert, Carl Trautman as Majoor du Toit en natuurlik Johan Vorster as Genl. Joubert.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?

Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button