Veelsydige sanger en akteur oefen vir veeleisende rol in hotelkamer
Celeb-fotograaf, sanger en entrepreneur Willem Botha verwesenlik sy drome een vir een.

Veelsydige sanger en akteur, en nou ook entrepreneur, Willem Botha, glo hy kon sy mees onlangse rol in die musiekblyspel, Joseph and the Amazing Technicolor Dreamcoat, so goed vertolk omdat hy hom met die karakter se persoonlikheid vereenselwig.
“Ons is albei dromers. Ek glo die krag van jou drome en ideale kan jou motiveer. Daarsonder is jy rigtingloos.”
Sitplekke vir vertonings van die gewilde Andrew Lloyd Webber en Tim Rice musiekblyspel in die AfriForum-teater in Menlo Park, 15 tot 23 Julie, is bykans uitverkoop.
Botha (36) sê talle Suid-Afrikaners ken die Bybelse verhaal oor Josef se broers se jaloesie en die gebeure wat tot sy ballingskap na Egipte gelei het.
Vele bewonderaars van die musiekblyspel sal ook met gemak die gewilde liedjie “Any Dream Will Do” kan saamsing.

Vir Botha was die voorbereiding van die rol ’n stywe leerkurwe. Hy kon as gevolg van ’n oorsese reis nie alle repetisies bywoon nie.
“My tyd was beperk om die rol in te studeer. Ek moes my eie kreatiewe repetisies in ’n hotelkamer prakseer.”
Vir die gesoute akteur, wat sy debuut in 2010 in die film Liefling, Die Movie gemaak het, was dit ’n hanteerbare uitdaging.
“Dis darem ’n storie wat ons almal ken. Ek is ook boonop nog altyd ’n aanhanger van Lloyd Webber en Tim Rice se werk.”
Om te sing, is vir die oud-Riversdaller uit die Wes-Kaap so natuurlik soos om met sy bry-stem stories te vertel.
Botha was reeds op 17-jarige ouderdom in 2004 ’n wenner van die Plusster Talentkompetisie wat deur Die Burger-koerant aangebied is.
In 2007 het hy tweede gekom in kykNET se Idols-reeks. Hy het ’n opname-kontrak met Sony gewen en sy eerste album Kô Ma Hier is in 2007 vrygestel.
Hy is ook bekend vir sy onlangse duet saam met Tarryn Lamb “’n Liefde soos dié”. Hy meen 2019 was sy besigste sangjaar.
Hy moet ’n liedjie se emosies verstaan voordat hy ’n rol reg kan vertolk.
“As ek die gevoelens rondom die melodie snap, is dit asof die woorde werklik betekenis kry. Dan kan ek die storie vertel.”
Vir Botha is die paar uur voor ’n vertoning ’n goeie wegspringblok om sy gehore net sy beste te bied.
“Ek moet voor ’n vertoning rustig kan wees. Ek gaan my plekke op die verhoog na waar ek moet op en afgaan. En ek drink tee met baie heuning!”
Hy hou ook daarvan om met elke nuwe vertoning vriende te maak met diegene wat by die produksie betrokke is.
“Ek hou daarvan om voor ’n vertoning met almal te sit en gesels. Dit laat my ontspan.”
Om met mense te kan werk is een van die grootste geskenke waarmee sy ouers, Sarie en Theuns, hom kleintyd op hul plaas naby Riversdal toegerus het.
Hy het juis onlangs vanaf sy tuiste in die ooste van Pretoria ’n draai op die plaas gaan maak vir ’n Vadersdagbesoek asook om sy pa se sakebrein in te span vir sy besigheid.
Botha het in 2020 van sy eerste meesterklasse in grimeertegnieke aangebied.
Vanjaar het die eertydse plaasseun alreeds meer as 17 sulke klasse aangebied.
“Ek het nie in my wildste drome gedink ek sal ’n entrepreneur wees nie. Gelukkig is my pa ’n ongelooflike sakeman en kan ek hom altyd om raad vra.”
Sy grimeringsmaatskappy, Willem Botha Beauty, se reeks produkte beloop al meer as 500. Botha was juis oorsee om navorsing oor nog produkte te doen om die reeks uit te brei.
Hy staan ook gereed om gereeld as fotograaf van sterre en bekendes op te tree.
As daar niemand is om hare te stileer nie, is Botha ook vinnig om sy haardroër uit te haal.
Glad nie te sleg vir die plaasseun wat soos Josef eens drome in sy oë oor ’n beter, mooier lewe vir almal gehad het nie.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.