Franja se vuurwarm danssnit maak almal se litte losser
Sanger Franja du Plessis se nuwe enkelsnit “Hakahana” het 'n interessante oorsprong en het baie met haar ma, Juanita, te doen.
Gewilde Afrikaanse kunstenaar, Franja du Plessis, is terug met ’n splinternuwe vrystelling.
En hierdie energieke danssnit het veel te make met ’n woord wat sy altyd by haar sangerma, Juanita du Plessis, gehoor het: “Hakahana”.
“Hakahana”, wat “haastig” in Herero beteken, is ’n prettige liedjie waarin mense aangemoedig word om lekker te kuier en die nag om te dans.
“My ma het altyd die woord kwytgeraak wanneer ons laat was of as sy ons wou aanjaag. Of net wou sê ‘maak gou!’.
So ’n enkele maar geliefde woord, is dikwels vir Franja ’n sneller vir liedjielirieke.
“Ek sal eers gewoonlik sit met ’n melodie wat ek kry met ’n kitaar of klavier. Ek neem die melodie en wysie dan op met my foon. Daarna sal ek sit met lirieke en ’n goeie lirieklyn probeer kry. Dan kan ek die res van die liedjie skryf.”
Sy hou ook daarvan om te skryf oor ’n emosionele of lewenstryd waardeur sy self gaan of mee kan vereenselwig, of wat iemand om haar deurgaan.
Hierdie liedjieresep blyk ’n wenner te wees. Haar loopbaan het reeds verskeie hoogtepunte en mylpale behaal.
Sy het in 2017 twee Ghoema-toekennings gewen vir Beste Vroulike Kunstenaar en Beste Nuweling.
Haar opvoerings is gewild by feeste, en haar toeroptredes is gewoonlik vol bespreek.
Sy het sopas ’n landwye toer afgehandel rondom die vrystelling van “Hakahana”. Sy wil veral vanjaar fokus op toere en konserte.
“Dis altyd lekker om nuwe mense te ontmoet, hulle stories te hoor en nuwe plekke te sien. Die gehore het goed gereageer. Hulle het die woord ‘Hakahana’ lekker saam gesing,” sê sy opgewonde.
Gedurende sulke toere mis sy wel haar hart se punt, haar hondjie, Mila.
“Ek is só lief vir haar en sy is soos my kind. Ek het haar twee jaar terug gekry en sy laat my so lekker lag. Ek het vir haar ’n paar truuks geleer. Sy is baie besig en somtyds lekker stout, maar ek geniet haar regtig baie.”
Sy erken daar is altyd onsekerheid met die vrystelling van nuwe musiek.
’n Op-en-wakker dansvideo vir dié enkelsnit is ook vrygestel en is in Pretoria verfilm.

Du Plessis glo vuurwarm danstreffers is kookwater – ook vir een of twee danspassies op jou eie.
“Net om bietjie te beweeg en los te maak. En die ritme te voel. Sulke liedjies skep lekker atmosfeer. Ek dink jy vergeet van alles anders en konsentreer net op dit op daai oomblik. En dis so spesiaal om so ’n oomblik te deel met iemand besonders.”
Haar debuutalbum, My Verhaal, wat in 2016 uitgereik is, het ook goue status bereik.
In 2022 neem sy die Afrikaanse musiekbedryf op horings met haar treffer “Bring Dit” wat platinum-status behaal.
Sy is nou ook benoem vir die PretoriaFM Aitsa-toekennings wat op 19 September uitgedeel gaan word.
“Ek is baie dankbaar daaroor. Dit is altyd ’n groot voorreg en eer om benoem te wees vir ’n toekenning! Dit voel of al die harde werk wat mens ingesit het darem op ’n manier beloon word.”
Sy glo haar spesiale verhouding met haar geliefde ma het baie met haar sukses te make.
“Ons het ’n baie spesiale verhouding en ek sal dit nooit anders wou hê nie. Sy is regtig my ma, beste vriendin en alles in een. Ons het soveel pret saam! Ek kan met haar praat oor enigiets en sou nooit vir ’n beter ma kon vra nie. Ek is baie lief vir haar.”
Sy waag dit ook soms saam met haar ma op die gholfbaan – ook ter wille van haar fiksheid tydens dansoptredes.
“Ek het nog nie ’n amptelike voorgee nie. Maar ek is besig om hom op te bou.”
Sy beoog om soos met haar verhoog- en sangloopbaan ook hieraan te werk.
“Ek geniet die sport regtig baie! Ek wil graag meer gereeld speel. Dis so rustig en net ’n tyd wat mens geniet en bietjie kan wegkom van alles af. Ek moet sê dit toets mens se geduld nogal baie … Maar dis so lekker!”

SPAR hosts Proteas fan party at SuperSport Park
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie
