Local news

Tukkies se boekdokters herstel geliefde boeke

Vir herstelwerk aan boeke kan jy nie ’n meer toegewyde span boekdokters as die span by Tukkies se Boekbindery vind nie.

Wanneer mens na ’n dag in die lewe van ’n boek in die boekehospitaal van die Universiteit van Pretoria se Boekbindery-afdeling in Groenkloof wil kyk, is jou vertrekpunt gewoonlik ’n boek vol skeure, met baie los bladsye en somtyds sonder enige of verweerde buitebladsye.

So ’n pasiënt van papier is welkom hier waar mense respek en agting vir boeke het.

Kort voor lank spring die boekdokters onder leiding van bestuurder van die Boekbindery, Annesley Rademeyer, aan die werk.

“Ons is drie kreatiewe en vaardige manne wat in die bindery werk. En ons is verantwoordelik vir al die werk,” sê hy trots.

En ook nie sonder rede nie. Om boeke behoorlik ’n nuwe baadjie en veel meer aan te trek, verg jare se ondervinding.

“Alhoewel ons drie manne nog nie so oud is nie, het ons tussen ons gesamentlik amper 45 jaar se ondervinding,” verduidelik hy.

Nog gewilde produkte van die Boekbindery is sakke en vouers wat by konferensies gebruik word.

Dis volgens Rademeyer lank nie al kwaliteite wat ’n boekdokter nodig het nie.

“Ander vaardighede is kreatiwiteit, talent, baie geduld en natuurlik oorvloedige passie vir boeke! Verder is dit belangrik om aandag aan detail te gee en vir onsself baie hoë standaarde te stel. Ons is baie trots op ons werk,” verduidelik ’n geesdriftige Rademeyer.

Net soos in ’n gewone hospitaalteater is daar die werkgereedskap wat gereed lê vir ’n operasie op ’n boek: ’n sny-guillotine, drukkers, bore, gommasjiene, ’n naaimasjien, sae, tange en klampe.

Volgens Marguerite Nel, assistent direkteur van Tegniese Dienste van die Departement Biblioteekdienste, is vele boeke wat aan hul sorg toevertrou word, desperaat vir baie liefde en aandag.

“Hier plak, pleister, stik, gom, pars en druk ons dan om die eens geliefde boek so na as moontlik aan sy oorspronlike formaat te herskep. Soms moet ons eers die hele werk uitmekaar haal, en dan weer, versigtig en sorgvuldig stukkie vir stukkie aanmekaar sit, todat ons uiteindelik weer ’n splinternuwe weergawe van ’n ou historiese geliefde werk het,” verduidelik Nel.

Die mees waardevolle boek wat nog deur die Boekbindery-afdeling herstel is, was ’n Hoog-Hollandse Bybel. Die omslag was van hout met metaalknippe en kon tot sy eertydse glorie hertel word.

Nel sê die ware beloning van boekherstelwerk is om die vreugde op die kliënt se gesig te sien wanneer die herstelde produk afgehaal word.

Verweerde Bybels word dikwels vir herstelwerk by Tukkies se Boekbindery ingelewer.

Die waardering van ’n welbekende musikant, so ’n paar jaar gelede, het veral haar hartsnare geroer.

“Hierdie ou, afgetrede professor het twee van sy musiekboeke ingebring om herstel te word. Hy wou dit so ná as moontlik in die oorspronlike formaat gehad het. Toe hy dit kom haal het, nadat ons dit baie mooi herstel het, kon hy nie woorde uitkry om sy blydskap te verwoord nie. Hy was letterlik in trane van vreugde!” vertel Nel.

Sy verduidelik sy sien ook gereeld hierdie uitgelatenheid wanneer nagraadse studente hulle proefskrifte kom haal.

“Die bindery omskep hierdie harde werk in ’n pragstuk wat die gegradueerde met trots aan familie en vriende kan vertoon,” beklemtoon Nel.

“Daardie oomblik wanneer dit ewe skielik moontlik word om al die jare se harde werk konkreet in ’n fisiese formaat vas te hou is dikwels te groot vir ’n navorser. Baie keer hoor ons dan die stories van bloedsweet en prestasie ten spyte van moeilike omstandighede en baie ontberinge,” sê sy wanneer sy nostalgies terugdink aan al die studente wat al deur die Boekbindery se deur gestroom het.

Marguerite Nel, assistent direkteur van Tegniese Dienste van die Departement Biblioteekdienste aan Tukkies.

Nel verduidelik die Boekbindery-afdeling se dienste by die universiteit word al hoe meer gewild.

“In die verlede was meeste inligtingsbronne in gedrukte formaat. Die hoofdoel van die bindery was toe om tydskrifvolumes te bind om op hierdie manier goeie bewaring te verseker. Die ander belangrike funksie was boekherstelwerk. Dit sluit in waardevolle boeke, spesiale versamelings en Africana,” sê Nel.

Volgens haar is meeste inligtingsbronne vandag egter elektronies beskikbaar en moes die afdeling se fokus skuif.

Die behoefte om gedrukte boeke vir historiese en ander redes te herstel en te bewaar, is hierby ook steeds groot en in aanvraag.

Spesiale sorg word ook geneem om eerste uitgawes, digbundels en persoonlike kopieë van skrywers se boeke te bind.

Die Boekbindery se grootste uitdaging volgens Nel is dat hul masjiene oud is. Alhoewel hulle doeltreffend werk, kan die prosesse soms tydsaam wees.

Met hulle kreatiewe vaardighede skep hulle verskeie ander produkte soos lêers, houers, fotoboeke en notaboeke wat vir geskenke en konferensies gebruik kan word.

In samewerking met ’n gemeenskapsopheffingsprojek in Mamelodi, maak die Boekbindery ook unieke konferensiesakke en vouers.

“Weens die eg tradisionele voorkoms van hierdie produkte is dit baie gewild, veral vir internasionale konferensies,” sê Nel.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button