Wonderboompoort-GPF spring in om park vry van misdaad te kry
’n Skoonmaakspan het dit makliker vir Eloffsdallers gemaak om Franzina Park in die toekoms te gebruik.
’n Span raakvatters van die Wonderboompoort-GPF het onder leiding van die voorsitter, Albert Michau, ingespring om Franzina Park in Franzinastraat in Eloffdal in Pretoria-Noord skoon te maak.
Michau sê hy glo sulke skoonmaakprojekte is noodsaaklik om areas op te bou en gemeenskappe hoop te gee.
“Sulke projekte verhoed dat areas nie verval nie,” sê Michau

Hy glo ook skoonmaakprojekte kan help om, veral in parke, misdaad te voorkom.
“Wanneer parke en publieke areas oop en skoon is, begin inwoners weer terugstroom daarna en word die areas gebruik. Vuil areas sonder enige sorg en verlate gelaat sonder mense, raak maklik die teiken van diegene wat ’n plek soek om misdaad te pleeg,” verduidelik hy.

Hy en GPF-lede het al dikwels waargeneem dat Franzina Park veral deur dwelmsmouse besoek word.
Tydens die opruimingsproses is daar deur die skoonmaakspan verskeie dwelmpype en sakkies met dwelms opgespoor wat vernietig en weggegooi kon word.
“Ons mikpunt is dat die inwoners in die woonstelle rondom die park weer vrye toegang tot die park op veral Saterdae en Sondae kan geniet as gesinne.”
Michau hoop ook dat die park in vakansies toeganklik vir leerders se gebruik kan wees.
“Werkende ouers in hierdie buurt soek ’n veilige heenkome vir hul kinders, veral as hulle nie hul kinders vir vakansies kan wegneem nie,” sê hy.

Hy beklemtoon egter ook dat vir sy span en die borge, was die ervaring vervullend.
“Dis wanneer jy betrokke raak, dat jy sien jy kan wel ’n verskil maak,” glo hy.
Die operasionale koördineerder van Wonderboompoort-GPF, Johan Scholtz, was die projekbestuurder van die skoonmaak-aksie.
Die behoeftes rondom die skoonmaak-aksie was eers gedefinieer voordat daar op 7 Oktober ingespring is. Die bestryding van onkruid met onkruiddoder, die regmaak van stappaadjies en optel van rommel was die hoofprioriteite.
Die volgende persone en besighede het die aksie moontlik gemaak: Pieter van Niekerk, Caltex, Pat Smit van Maders, Lizzy Mhlanga, Ivy Morulane, Savvas Antoniades, Karkas Kartel, Jannie Beetge en Jurie Prinsloo.
Die GPF se skoonmaakspan bestaan uit: Johan Scholtz, Mark van Heerden, Albert Michau, Adri en Rinus De Bruyn, SP Wessels, Frank Osler, Obed Maphutha, Albie en Amanda Fischer, Riana du Preez, Hanneli Donald, Anita en Danelle Wessels, en Joanè Froneman.
Pretoria paneelklopper se raaiselagtige dood verg meer omsigtigheid van polisie – familie
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
